|
|
Die sonskyn van sorgvrye vroulikheidDeborah Steinmair
Vanmiddag het ek in 'n retro kitschwinkel in Kloofstraat twee eksemplare van Die Huisvrou gekoop. In 1946 het hierdie tydskrif ("vir moeders en dogters") drie pennies gekos, in 1954 6d. In 2005 kos dit R5. Ek het my verkneukel in die ouderwetse advertensies, wat my laat dink aan Linette Retief se besondere boek, Pynbos Siding, met sy afbeeldings van stokou advertensies van pronkende vroue met strandballe en bultende manne met speedo's vol balle. Die Huisvrou is 'n netjiese klein tydskrif in swart en wit. Blaai jy deur die vergeelde blaaie vol doilie-patrone en inspirerende woorde, kry jy 'n snuifie van 'n genadiger, meer naïewe era, weliswaar vol skete. O ja, op elke bladsy spring dringende klein advertensies vir maag- en klierpoeiers in die oog. Die kopieskrywers van toentertyd het 'n ding by sy naam genoem sonder om doekies om te draai; takt het by die agterdeur uitgevlieg: Dr Koning se KOMPLEXO het my puisies verdryf! en Skoonheid lê verskuil agter daardie aaklige sproete. Hulle was nie skaam om beloftes te maak en selfs 'n deadline te verskaf nie. Ons word verseker: ARRID verwyder sweetreuk in 2 sekondes Hulle het nie gestruikel oor indringende vrae nie: Swak en prikkelbaar? (Elke vrou het Feluna nodig om haar uit die skadu's van pyn en ongesteldheid na die sonskyn van sorgvrye vroulikheid te help) en Bekommernis oor los kunstande? Die toon was soms onbeskaamd dreigend: Kroniese slegte spysvertering vir 19 jaar lank? So treffend en intiem-persoonlik is die jeremiades: My senuwees is gedaan! En die bleddie limit: Galagtige hoofpyn, aangepakte tong, ongereelde opelyf? Dan wonder ek: Wat het geword van die ideale en vaardighede van daardie geslag na-oorlogse huisvroue met hul voorskote, hofskoene en hare soos 'n helm? My ma was 'n jong huisvrou in die laat vyftigs, maar sy was meer van 'n blommekind oor wie die vroom tantes later by my, haar kind, gekla het dat sy grimering en langbroeke op 'n Sondag dra, dans en te veel wêreldse boeke lees. My pa het wel in hempsmoue wat met silwer armrekke opgestoot is, koerant gelees en sy skoene met Nugget blink gepoets, maar hy het nooit in manspantoffels voor die kaggel pyp gerook nie. Êrens het ek 'n geromantiseerde prentjie van die dekades voor my geboorte opgetel. Was dit in Hitchcock-films? Ou Reader's Digests? In die familie-foto-albums van vriendinne by wie ek op plase gaan kuier het? Trinni se ma was jonk in die vroeë vyftigs; sy het huishoudkunde studeer (of was dit verpleegkunde)? Haar kapsel was perfek en haar tande twee stringe pêrels. Haar stokperdjies was Bauernmalerei en koek- en binnehuisversiering. Haar man het 'n kalfslek-kuif en Sean Connery-dimpels gehad. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hulle was op Margate met wittebrood. Elthea se ma was 'n deugsame vrou wat 110 siersteke op die naaimasjien bemeester het. Nadat sy haar tweede man begrawe het, het sy moeg geword om perfek te wees en soos 'n soufflé platgeval, maar dis 'n ander storie. In haar boek skiet Linette Retief my heimlike verlange na die goeie ou dae deeglik af: Ek glo in elk geval nie dat daar iets soos die "goeie ou tyd" bestaan het nie. Tussen die destydse higiëniese standaarde aan die een kant en Middeleeuse martelmetodes aan die ander, wil ek enige skroomvallige onderskrager van die mite van 'n age of innocence beloon met 'n lewenslange lidmaatskap aan die Barbara Cartland Instituut vir Ramrod Hard Heroes en Swooning Maidens. Trouens, wat ek waardeer van die era waarin ons lewe, is paradoksaal dat daar klaarblyklik tog meer ruimte vir sagtheid is … 'n Laaste vraag: Wat het van al daardie wonderkure geword? Daar is een of twee wat ek op die plek sou bestel het as die fabriek nog bestaan het, byvoorbeeld: DEBS SE SANITêRE DOEKIES, wat die volgende belowe: Debs red u uit die verleentheid, beskerm u keurigheid en bevry u van alle selfbewustheid. Hulle is oplosbaar, en dis maklik om van hulle ontslae te raak. Dit laat my dink aan die waarskuwings op toiletlugverfrisserspuitkannetjies wat altyd vir my klink asof dit op my óók van toepassing is: Inhoud onder druk. Moenie prik of verbrand nie. Hou weg van direkte sonlig. Hou buite bereik van kinders, selfs wanneer leeg. Groete
Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |