|
|
Ek lees net koppeDeborah Steinmair
Koerante lees ek net skelm, onderstebo, sonder om hulle oop te vou. Dis ‘n ou en geheime gewoonte. Almal wat ooit na aan my was, was verwoed snoep op die nuus. Eers was daar my pa, wat panies oor sy koerant was. Niemand mag daaraan raak alvorens hy elke woord gelees het nie. (“Moet net nie my koerant uitmekaar haal nie!”) Daarna was dit my eksman, die perfeksionis, wat ook geen kreukel in sy dagblad geduld het nie. (“Meine Zeitung!”) Nog later my eksmentor, die oudjoernalis, wat ure lank aan al die afdelings gelyk wou lees. (“Got, wie’t gesê ek’s klaar met die boekeblad!”) Nou ja, ‘n klaargeleeste koerant wat oopgevou en eenkant toe gegooi is, is so aanloklik soos ‘n uitgesuigde lemoen. Ek hét al my eie koerant probeer koop, maar dit voel net nie reg nie. So, koerante neem ek in klein bytes in. En meestal net die koppe en die vetgedrukte stuk onder die opskrif – alles wat ‘n mens van ‘n paar treë af onderstebo kan lees. Dit beteken dat ek altyd die klok hoor lui maar selde weet waar die bel hang. So het ek ‘n fassinasie vir koppe ontwikkel. Die vermetelheid van vandag se Die Burger-voorblad het my twee keer laat kyk: Bliksem tref verloofde. Donnerwetter! ‘n Paar weke gelede was daar ‘n banieropskrif: SA vrou pootjie prins wat my bekommer het. Watter internasionale insident kan so ‘n lompheid ontketen, het ek gewonder, as die aanslag op die aartshertog van Sarajewo destyds die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak het? Ek en my swaer ruil graag koppe uit. Hy is Engelssprekend en sy persoonlike gunsteling is Lesbians lose appeal (oor ‘n hofsaak, ha). Hy hou ook van Aliens owe us millions. Ek ly voorts aan ‘n soort selektiewe disleksie. As iets nie by die eerste aanblik van tien treë weg vir my sin maak nie, klits my brein dit blitsig om tot iets sinvol. Miskien speel ek te veel Scrabble. In die sewentigerjare, toe ek nog gedink het Hans Strydom is aantreklik (onthou iemand Môre Môre, met die sidderende spies?), het ek in die verbygaan in my pa se koerant die volgende kop gelees: Hans het net oë vir Sybel. Sybel Coetzee was nie in daardie stadium deel van my verwysingsraamwerk nie, en my brein het dit omgesit in: “Hans het net oë vir sy Bybel”. Terloops, my ou vriend Attie, wat niemand se naam kan uitlos nie, het altyd gepraat van Simpel Coetzee. Nie dat hy haar noodwendig as simpel ervaar het nie – die klankspeling was net te onweerstaanbaar. Toemaar, Simpel, vir my het hy altyd as “pretty but stupid” bestempel. Dis die mooiste ding wat ‘n man nog ooit vir my gesê het. Toe ons klein was en elke flitsende neonteken gelees het, het my boetie eenkeer vir my ma gevra: “Hoekom is dit ‘n bar kroeg?” To let het ons Afrikaanse ogies met groot verligting as “Toilet” gelees. Ons het op die plotte gewoon en onder peri-urban geval. Van Perry Como het ons ‘n plaat gehad, maar ek wou eenkeer weet wie hierdie Perry Urban is. Ek het vandag my eie koerant gekoop. Blameer dit op Bliksem tref verloofde en, onder dit, Uit die bloute. Op bladsy 3 verkneukel ek my in Gidshond grom sag – Talita is ‘mevrou’. (“Nagel het Saterdag met mnr. Peet Nagel getrou en Tennessee het haar by die kansel met ‘n grom afgegee.”) Op bladsy 7 van Jip het die musikaliteit van die volgende kop my bekoor: Marijke puik in karate. Onder Persoonlik was my gunsteling: “Mnre. Prens Galant en Johan van Lill is onlangs in die verkeersdepartement op Piketberg aangestel.” Dis al wat ek gelees kon kry terwyl ek koes vir ‘n denkbeeldige oorveeg en ‘n verontwaardigde gil: “Los my koerant!” Moet ek my kop laat lees?
Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |