|
|
'n Toeris in jou eie leweDeborah Steinmair
Moenie waag nie, sê my sterre in Die Burger. Wie, ek? Soms stap ek deur akkerlanings vol toeriste met 'n onsigbare masjiengeweer teen die bekken. Koppe ontplof links en regs soos waatlemoene. Tarantino in hoogseisoen. Vir my was die heel aangrypendste toneel in Charlize Theron se Monster haar karakter se katastrofiese werksonderhoud. Hoe pynlik kon ek nie identifiseer met die lelike steweltjies nie (dit het gelyk asof sy in patroondoppies getrap het), met die gebrek aan relevante ondervinding, met die woedende gevoel dat die samelewing jou nooit gaan toelaat om op die bus te klim as jy eers op die sypaadjie gekuier het nie. Soos die reeksmoordenares in Monster glo ek dat ek oor vaardighede en talente beskik wat baie meer werd is as ondervinding. Soos sy slaag ek nie daarin om dit te artikuleer nie. Kaapstad. Die laaste Maandag in November. Skuins voor elf. Die dag het lankal verlep aan die tak. Daar sit jy in een van die miniraadsale van 'n wolkekrabber. Drie of vier pare oë rus op jou. Op die tafel lê jou CV, vol gate soos Kerkorrel se toekoms. Onder in die straat, diskreet om die hoek geparkeer, wag jou kar, 'n klein silwer sigeunerkaravaan waarin al jou aardse besittings geprop is. Dis nou behalwe die paar meubelstukke wat in 'n hoek van iemand se motorhuis opmekaargestapel is. "There is too much riding on this," mymer jou Engelssprekende onderbewuste. "Waarom glo jy dat jy die regte persoon vir hierdie pos is?" Ek bewerkstellig oogkontak en probeer vergeefs die maniese glans van desperaatheid uit my pupil weer. Waarom glo ek dat ek die regte persoon is? Ek slaan 'n blank. My vingerpunte tas vergeefs. Die tien punte wat my vyftienjarige vir my uitgedruk en laat instudeer het, is skoonveld. "Ek moet die pot aan die kook hou. Vryskutwerk is nie genoeg nie. Ek uhh … hou van 'n uitdaging." Geluidloos skiet ek my voet vol gate. Onder die tafel verander my nuwe Edgars-skoene in lelike steweltjies. 'n Versuikerde sosiopatiese aggressie stoot soos sooibrand in my keel op. Die onsigbare gesteelde rewolwer brand 'n gat in my handsak. 'n Mens sou dink dit sou makliker word. Ek onderwerp my aan die kruisverhoor soos aan 'n tandartsbesoek, die enigste ligpunt die feit dat dit sal verbygaan. Anders as my tandartsbesoeke, duur my werksonderhoude egter nooit lank nie. "Ons sal jou laat weet." Met die opstaan haak my handsakstrep aan die stoel se armleuning vas en ruk my onbeskof terug. Niemand anders wink my terug nie. Met die uitstap wonder ek of dit die moeite werd was om nuwe skoene te loop koop het. Hoe anders sou my lewe gelyk het as ek op 20 by die versekeraars aangebly en my stadig maar seker opgewerk het. Teen 10 persent-verhoging per jaar en 'n bevordering hier en daar sou ek twee dekades later 'n vet salaris verdien het. Ek sou 'n hoekkantoor met 'n glasbladtafel, miskien selfs 'n vistenk en 'n minikroeg, gehad het. Ek sou aan die regte kant van die tafel sit, my gepoleerde naels op die tafelblad tik en die aspirantwerknemer koel takseer. "As jy teen die einde van die week niks van ons gehoor het nie, moet jy aanneem dat jou aansoek onsuksesvol was," sou ek saaklik en met finaliteit sê. Sê nou ek het nooit tussen die toeriste op die sypaadjie van die lewe beland nie? Dan sou ek nooit die lang en windverwaaide road trip saam met die maniese marionettemeester beleef het nie. Sou ek nooit langs die see wakker geword het met die dag, die week en die maand wat lank, blink en leeg wink nie. Nooit in Europese strate met nat blare vreemde kleingeld in my jassak loop en tel het nie. Sou ek nooit 'n stapel boeke waaraan my hart geheg is, vir R100 verkoop en 'n watertand driegangmaal beplan het met die opbrengs nie. Sou ek nooit wegge-Sedoos geraak het in die verbysterende skeppende waansin van my eksmentor, die nonkonformistiese skrywer nie. Nou sit ek weer aan die verkeerde kant van die tafel met my voete en my CV
vol gate. Ek lig my ken en straal 'n eerste-indruk-glimlag. Dis óf dit óf 'n
moordorgie in gesteelde karre op die langpad. Rev daai enjin, Charlize!
Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |