Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wie is Annette Klinger?

Deborah Steinmair

Ons is nie almal wenners nie.

Hoe navigeer jy die res van jou sogenaamde kinderjare as jy op vier jaar dikwels salig aan die slaap gevinger is deur die student in die buitekamer wat vir ekstra sakgeld babysit?

Op hoërskool het ek die oog gevang van 'n briljante bleeksiel 'n paar klasse hoër op. Karkas het die kinders hom genoem omdat hy so maer was. Op sy rugsak het hy 'n skoenlapper geteken en BE DIFFERENT onderstebo geskryf. Dit was vir my 'n openbaring dat iemand sou wou probéér anders wees. Got, al wat ek nog altyd probeer doen het, was om in te pas. Inpas was nogal 'n tall order vir 'n meisie wat nie op lyne mag trap nie, wat "Twinkle twinkle little star" twee keer agterstevoor moes opsê voor sy die straat mag oorsteek, die soort kind wat kop onderstebo loop en prewel, skielik gaan staan, hoorbaar NEE! uitroep, kopskud, omdraai, weer omdraai, en vergeet waarheen sy op pad was. Die soort kind wat pluk en trek aan deure waarop daar lewensgroot PUSH geskryf staan. 'n Kind op wie se voorkop LOSER geskryf staan.

Op 'n manier vind jy ook maar jou balans op die fratsgolf. In Duits is daar 'n uitdrukking: ein gebranntes Kind. Julle herken mekaar op die bus, in die park vol doodgerypte wintergras, in die gange wat na Lysol ruik - die verflenterde bende verbrande kinders. Hakkelende Heinie met die hoenderbors wat later selfmoord gepleeg het, bleek en woedende Freddie wie se pa in die tronk was, opstandige Yolanda wat al baie keer oorsee was en 'n grootmens-boyfriend gehad het, vet Charles die eiervormige seun.

Jy sit maar op die muurtjie en eet jou grondboontjiebottertoebroodjie, jy omhels woorde soos kontra, sub, nis, fringe, rimpel, off-off, antiheld, loser, underdog, outsider, under-achiever, afvlerkduif, verskoppeling, ondier. Quasimodo is 'n sekssimbool. Pink Floyd skryf jou psalms. Vir die koorleier.

Boeke word jou siel se webwerf. Boeke wemel van randfigure. In Paul Zindel se Pardon me, you're stepping on my eyeball het die sentrale karakter se neurotiese ma haar ewig dopgehou, sodat sy die aanwendsel ontwikkel het om haar kop vinnig heen en weer te swaai om te kyk of haar ma haar agtervolg. Op skool het die kinders haar Swivel Head genoem. Sy het bevriend geraak met 'n seun met kurktrekkerkrulletjies en 'n wasbeer in sy sak. In hulle deurmekaar huis het sy oorgewig ma in die skemer sitkamer in 'n stoel gesit en slaap. Sy het 'n whisky baritone gehad. In 'n ander boek het 'n kind 'n maatjie huis toe gebring. Toe hulle die gang afstap, sien hulle hoe haar manies-depressiewe ma wydsbeen op die toilet sit en staar in die niet. Sy het vergeet om die deur toe te maak. "Is that your mother?" wou die maatjie weet. Waarop die kind sê: "Maybe it is and maybe it isn't." Wonderlik.

Comics het asiel gebied vir die uncool ones. Little Lotta was oorgewig en het nie 'n mooi persoonlikheid gehad nie. Little Dot wat obsessief-kompulsief. Jughead het 'n eetstoornis gehad. Betty was 'n loser. Die skim is pers. Garfield ly aan depressie. En skielik is jy vry.

Vandag verloor die susterskerke en die kultuurverenigings veld. Uncool het die nuwe cool geword. Alles is cool. Daar is wonderlike comics soos Bitterkomix en nou ook Strip Show deur 'n klompie Stellenbosse girls. Ek het nou die aand na 'n uitstalling van comics gaan kyk. Dit het ou wonde oopgerakel en katarsiese heling gebring. Veral Annette Klinger se strips het my aangegryp. Wat 'n wonderlike funky van het sy, so met 'n Klingon-klankie. Haar karakters het groot koppe, die gelaatstrekke donker en gesmudge. Daar is een lang, horisontale skildery wat bestaan uit 'n galery van losers. Die eerste kind sê: "Ek moes korrektiewe steweltjies dra. Ek het hulle gehaat." Die volgende kind moes draadjies dra wat soos 'n harnas om die kop pas. Ensovoorts. Dankie, Annette.

Nee, ons is nie almal wenners nie.

 

LitNet: 14 Oktober 2004

Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.