Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sies tog, Dainty …

Deborah Steinmair

Ek't vandag 'n vriendin by haar psigiater gaan aflaai. Haar shrink se naam is Dainty. En ek? Nee, ek bly weg van die Dainties, ek koester my versteurings in die hoop dat hulle van my 'n skrywer gaan maak. Kyk maar hoeveel roem en rykdom het Woody Allen en Leonard Cohen se neuroses hul besorg. Lag en jy lag alleen, snik en jy verkoop miljoene cd's.

Een van my gunsteling bitter vroueskrywers (ek kan nie nou onthou wie nie) het gesê almal se lewens is net-net buite beheer. My melankolie is vinnig besig om veld te wen. Areas van onvermoë sprei soos 'n rooiwynvlek. My psige is 'n huis waarin die een gloeilamp na die ander blaas. As 'n mens jou boek teen die regte hoek hou, kan jy darem nog lees by die stoeplig.

Een van die areas van verlammende onvermoë is die gerf verkeerskaartjies wat besig is om te verbleik in my paneelkissie. Nou ja, dis heel normaal, hoor ek jou sê. Is dit normaal om jouself nie so ver te kry om skottelgoed te was nie? 'n Hele week al? Ek het dae gelede ophou kook, maar die stapel word nie kleiner nie. Ek vermy die kombuis en nou ook die slaapkamer, waar ongesorteerde wintersklere 'n mensgemaakte heuwel vorm. Ek sluip van donker gang na minimalistiese stoepkamer en oorweeg om alles weg te smyt: kleding, breekware en messegoed.

So pas was daar 'n klop aan my deur. Dis die student van langsaan wat vra of "Tannie dalk vir my van daardie skottelgoedwashandskoentjies het om te leen". Was dit 'n vingerwysing van die kosmos?

In die skemer stoepkamer knipoog die TV halfhartig soos 'n voetseer hoer. Met my laaste krag hark ek die remote, waarvan die battery ook besig is om te groet, nader.

Agtermiddag-soaps laat die ongereelde kyker voel soos 'n buiteruimtelike besoeker wat sy groen snoet teen die ruit druk. Vir iemand wat nog nooit ingepas het nie, bevat sepies raaiselagtige en onbruikbare leidrade tot die psige van normale mense. Apaties klik ek tussen die sepies rond, neem hier 'n motoriese moment tussen ma en dogter waar: "Everything that happened to you was due to the fact that you had to forfeit the love of a mother. If you had not been taken from me as a baby and given to Barbara, you would not have turned out gay." Dan weer, in 'n ander seep, die vertwyfeling van 'n vroutjie wie se baba in die hospitaal met 'n ander een omgeruil is. In 'n derde seep verdedig 'n ma haar oorle' man: "Your dad was a very intelligent man." "Mom, he was illiterate. He couldn't read his own rap sheet." "He really cared about you." "Oh yeah, this is how much he cared about me!" (Die dogter ruk 'n kinderporno-video met die titel Lockerroom Lolita uit.) Ensovoorts.

Dit val my op dat die hele lewe 'n seep is, kompleet met ongeloofwaardige toeval en verbysterende rampspoed. Die enigste verskil is dat die toevallighede in die regte lewe meestal ongesiens verbygaan. Daar is nie in die regte lewe 'n geobsedeerde privaatspeurder wat oor dekades en provinsies heen bly navors om uiteindelik te bewys dat jou MIV-positiewe tiener nie jou biologiese kind is nie, dat jy per ongeluk met jou broer gaan trou het en dat die alkoholistiese busbestuurder eintlik jou regte egte pa is nie. In die sepies het 'n mens 'n beter garderobe en meer grimering om die slae van die noodlot te trotseer. Die dialoog laat ook maar veel te wense oor - net soos in die regte lewe staan mense dikwels in kardinale momente met 'n mond vol tande.

Tussen die sepies deur loer ek na die ywerige eekhoring in die moerbeiboom voor die venster. Met nerveuse stert wip hy van twyg tot twyg en bevoel elke rooi moerbei. Oeps, nog 'n kwelling: Hoeveel handjies betas die vrugte wat ons eet?

In die gleuf na 'n seep reken 'n stralende ateljeegas: "Death is an enormous growth opportunity." Kom weer? Die hare en toonnaels? "We should learn to say hello to the deceased." Hallo!

Miskien moet ek vir Dainty die shrink gaan sien oor my skottelgoedprobleem. Veral noudat ek my geel handskoentjies uitgeleen het, is die kanse skraal dat ek ooit weer gaan opwas.

 

LitNet: 14 Oktober 2004

Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.