|
|
FratsgolfHoe word mens ‘n freak? ‘n Inleidende lesEk onthou die sixties van die vorige eeu. Die Republiek was rooskleurig, Doktor Verwoerd was op sy troon: ’n goedige oom met ’n groot maag en ’n vetterige kuif wat in ’n boot gesit en visvang het. Ek was idillies gelukkig tot op 4 jaar, toe ek my hart en my onskuld verloor het aan die loseerder in ons buitekamer. Hy was ‘n verlangse familielid, omtrent twintig jaar oud en ’n hakkelende bleeksiel. Op foto’s uit dié goue era lyk hy soos jou tipiese Amerikaanse reeksmoordenaar: bleek met akneeletsels en sielvolle oë agter swart horingraambril, swak mond. Hy was ons kinderopasser. Volgens vrouetydskrifte bereik vroue hul seksuele piek tussen die ouerdom van veertig en vyftig. Ek het op vier gepiek. So hongerig oop sou ek nooit ooit weer klop nie, daarvoor sou die kerk, die staat en die skool sorg. Dit was ons geheim en ek sou nooit droom om dit vir iemand te vertel nie. Ek wou dit hê en ek wou nie hê dit moes ophou nie. Toe ek skool toe is, was hy lankal vort. In graad een was daar vir ’n
ruk ’n half-vertraagde kind wat haar wenkbroue met ’n skeermes afgeskeer
het, nog lank voor die Punkbeweging. Die kinders het haar vermy omdat sy gespoeg
het as sy praat en skuimbolle opgewerk het as sy opgewonde geraak het. Ek het
in gefassineerde afgryse na haar gebrabbel geluister. Ek het verstaan waarvan
sy praat. Sy het gelispel en gebry en onsamehangende stories uitgespoeg van
’n poliesman wat op die mat lê in sy onderbroek (ek kon my die toneel
maklik voorstel, die onderboek was ’n Y-front, wit, vol klein ronde gaatjies).
“Dan haaal hy thy DING yt ... ath daar thulke WIT goed
by thy DING ytkom, moet jy weet hy’th LUTHHHH...” Ek was eensaam nadat sy weg is. Nou was ek die enigste vrot appel in die koor van kindergesiggies soos die sterre se liggies die hemel se pêrels vir Jesus se kroon, so het ek geglo. Ek het deur dooie oë na die spelende kinders gekyk en gedink: as julle maar weet hoe vrot ek is, stink, siek, sondig. As ek honde sien paar, wou ek opgooi. Ek was onherroeplik besoedel. Ek sou nooit ’n man kry nie, dit was duidelik. Ek het dwanggedagtes gekry; ’n honende stem in my binne-oor wat 100X herhaal: Liewe Jesus het ’n piepie, Liewe Jesus se piepie. Om die sataniese stemmetjie te verdring, het ek freneties begin lees, elke wakende oomblik, alles wat voorkom. Ek was opgefok. Ek het honderdmaal tot bekering gekom. My puberteit het ek uitgestel tot verdere kennisgewing. Ek was ’n vroom en heilige kind, ’n senuweewrak. Die landskap in my kop het ek ordelik en in Engels aangekweek. Toe ek die eerste keer Blake lees: O rose thou art sick het alles in my regop gestaan en YETH! geskree. Deborah Steinmair
LitNet: 08 Oktober 2004 |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |