|
The Village het geen diepte nieSteyn du ToitThe Village Regisseur Spelers Goed, laat ons begin by dit wat ons kan aanneem: The Village is die nuwe film van M Night Shyamalan. Dit beteken ons kan 'n uitgerekte, bonatuurlike film met 'n verrassende einde verwag. Die karakters in sy vorige films was spoke (Sixth Sense), strokiesprentkarakters (Unbreakable) en ruimtewesens (Signs). In The Village lyk dit asof ons met "geheimsinnige gedrogte binne 'n donker bos" te make het. Joaquin Phoenix keer terug vir sy tweede rol in 'n Shyamalan-rolprent as Lucius Hunt, 'n jong man wat in 'n gestileerde, konserwatiewe nedersetting woon. Op 'n grafsteen lees ons die datum 1897. Dié dorpie en sy inwoners word deur twee elemente in toom gehou: 'n groepie oueres onder leiding van Alice Hunt (Weaver) en Edward Walker (Hurt), en die geheimsinnige woude wat die dorpie omring. Die skeiding tussen die twee wêrelde word deur 'n deurskynende "grens", met behulp van geel vlae, aangedui. Op die oog af is dit die perfekte dorpie, kompleet met sy eie dorpsidioot, Noah Percy (Brody). Volgens die oueres huisves die woude 'n mitologiese ras, bekend as "Those we do not speak Of" - behalwe as daar elke vyf minute na hulle in die film verwys word. Daar bestaan blykbaar 'n ongesproke ooreenkoms tussen die dorpsinwoners en hul bure dat die grense nooit oorskry mag word nie - 'n reëling wat bly staan todat Lucius op 'n dag die woude betree … Shyamalan se kuns lê in die slinkse afleiding van sy gehoor se aandag - nes 'n kulkunstenaar wat ons met sy linkerhand hipnotiseer terwyl hy vinnig die haas met sy regterhand in die hoed plaas. Deur middel van sy karakters se persoonlike worstelinge en hul intieme gesprekke met mekaar, waarin die kyker deel, maak hy staat op die element van patos om ons logos te oorheers. Dit gee hom natuurlik die gulde geleentheid om ons later simpel te laat voel omdat ons nie die einde sien kom het nie. The Village werk egter 'n klein bietjie anders: daar is geen diepte nie, en die einde is so lagwekkend kak dat jy dit in elk geval nooit self sou kon geraai het nie. Al het jy hoe hard probeer.
LitNet: 23 November 2004 |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |