Vars films en hoekom ek nie gemors duld nie
André Crous
cinephile2@yahoo.com
Die doel van hierdie artikel is om in breë trekke die huidige kwaliteit, bywoning en resensering van films in Suid-Afrika te ondersoek. Ek praat hier sonder enige pretensie dat my woorde meer gewig dra as die algemene opinie in dié saak; ek probeer slegs die eerlike subjektiewe benadering toepas wat ek graag by ander resensente wil sien.
My argumente in laas jaar se Onbevredigende tendense in die rolprentbedryf is nie meer voldoende nie, en terwyl hierdie artikel op sekere punte uitbrei, bevraagteken ek veral ook die bemarkingspraktyke van die Suid-Afrikaanse filmverspreiders. Die belangrikheid van die film as bevredigende tydverdryf in byna elke persoon se lewe is onmiskenbaar, en daarom het hul kwaliteit n verreikende (nie net verrykende nie) bydrae om te lewer tot almal se lewens.
Watter flieks is bevredigend vir die massas wat elke Vrydag- en Dinsdagaand op die filmteaters neersak? Watter eienskappe moet n fliek hê om geld te maak?
Antwoord: Geestelose middelmatigheid. If you put three thoughts into a movie youve broken the law and no one will come, was Sean Penn se woorde by die Edinburgh-filmfees in 2001.
Die meeste kykers wil nie verras word nie. Hulle wil die storie voor die tyd weet, steeds hul R30 opoffer en gaan sit voor n skerm waar hulle totale intellektuele hibernasie ervaar. Hierdie kykers (en die films wat hul geld opslurp) beskuldig ek van n gewillige afstomping van n kreatiewe verbeelding, n verset teen die kunste, n houding van apatie teenoor dít wat die siel en die verstand aangryp en die mens tot beter dinge en denke inspireer.
Maar hoe gaan mense weet wat om te kyk as daar nie n groter verskeidenheid deur die verspreider sowel as die resensente aan hulle gebied word nie? Waarom is daar geen filmpublikasies nie? Ster-Kinekor se driemaandelikse FilmFinesse-tydskrif, so mooi soos dit is, het geen resensies nie. Dit is n bemarkingspublikasie. Elke film klink onmisbaar en daar is geen kritiek nie net lys op lys van filmfeeste waar die films bekroon is. Ons het onafhanklike filmpublikasies nodig wat films eerlik beoordeel en veroordeel. As n film sleg is, dan mag niemand te bang wees om so te sê nie.
Maar waar is die filmkritici? Hoekom is almal net filmverslaggewers, koud en feitelik? Ek stel nie regtig belang in die toneelspelers of die aantal toekennings nie; ek wil weet hoe die verslaggewer oor die fliek voel en hoekom. Waar is die kritiek? Tensy die resensente deur die bemarkingsdepartemente van Ster-Kinekor en Nu-Metro betaal word, is daar geen verskoning vir hulle om hul resensies altyd soos koeksisters voor te hou nie.
In Suid-Afrika is daar n baie duidelike vrees vir genadeloosheid. Suid-Afrikaners moet hul preutse beleefdheid egter oorboord gooi en begin sê wat hulle dink. Sonder kritiek gaan die situasie nooit verbeter nie. Films word nêrens met styl geprys of uitmekaargeskeur nie. Alles is altyd netjies en afgemeet; niks is kontroversieel nie. Met groot lof noem ek Shaun de Waal van die Mail & Guardian as die uitsondering op die reël.
Wat is die funksie van flieks? Vermaak, bowenal. As die fliek niks beteken sonder sy simboliek en sy verborge betekenisse nie, dan is dit vals en pretensieus en n slegte fliek. Sommiges laat ons vergeet van ons probleme, ander herinner ons aan die mens se daaglikse worsteling (soms suksesvol, soms nie) met sy probleme en hoe dit sy bestaan affekteer. Flieks moet ons laat voel. As n fliek jou nie lewendig laat voel nie, jou nie laat lag, laat huil of laat dink nie, dan is dit onsuksesvol as n fliek.
Hoekom gaan mense fliek en sit nie liewer voor hul televisieskerms (waarvan n hele klomp met klank- en platskermtegnologie spog wat al byna die teater sn oortref) en spaar die geld nie? Die grootte van die skerm en die gesamentlike ervaring van komedie of drama of aksie of gruwelgeweld dra by tot n vergroting van ons eie ondervinding daarvan. Die mag lê nie meer by jou en jou afstandbeheer nie: jy kan nie die film pause soos jy lus voel nie. Dié magteloosheid (tensy jy sou uitloop) vergroot die effek van die film en dra meer by tot n larger-than-life-ervaring as wat jou televisieskerm ooit kan.
Die flieks wat baie geld maak word blockbusters genoem. Blockbusters is flieks soos X-Men 2; Matrix: Reloaded; Pirates of the Caribbean; Charlies Angels II; Terminator 3 en The Hulk, wat gewoonlik n vet begroting het en dié bedrag maklik-maklik wêreldwyd binne die eerste paar dae terugkry by die loket. Die blockbusters is ook toevallig, nè! die flieks wat oral op voorblaaie van tydskrifte pryk en waarvan ons elke 15 minute die lokprent op televisie sien.
Die blockbusters is selde werklik sleg en (terwyl hulle op min Top tien-lyste sal verskyn) spreek ten minste op n vlak van vermaak tot n groot aantal mense oor kulturele en sosiale grense. Doen die blockbusters iets reg? Is dit die rede vir hul sukses? Of moet ons hul sukses toeskryf aan die verspreider se bemarkingsveldtogte? Bemarking is nie die enigste rede vir die finansiële sukses van die blockbusters nie, maar die rol daarvan kan kwalik geïgnoreer word.
Buitelandse films maak min geld, omdat hulle net in hoogstens vyf (gewoonlik tussen een en drie) teaters op n slag gewys word en weinig indien enige bemarking kry. Kommersiële films maak baie geld omdat ons van hulle weet en hul pragfotos ons oral konfronteer.
In hierdie artikel stel ek buitelandse films gelyk aan films waaarvan die dialoog nie in Engels is nie. Hulle word gewoonlik om een of ander duistere rede kunsfilms genoem. Daarteenoor staan kommersiële films: Amerikaanse films uit Hollywood. Iewers tussen-in lê die Amerikaanse films met onafhanklike bevondsing, en hulle word ook gewoonlik na Cinema Nouveau verban.
Bemarkingsgeld word op al die verkeerde films spandeer. Het ons byvoorbeeld enige idee hoeveel spandeer is op die bemarking vir Matrix: Reloaded n film wat sonder bemarking reeds op n wins in goud verseker was?
Intussen word die films wat éintlik bemark moet word soos enige buitelandse fliek hoegenaamd deur die bemarkingsmasjien van die verspreider oorgeslaan. Ons hoor van een buitelandse film per jaar, soos Amélie in 2002 of Crouching tiger, hidden dragon in 2001. Soms kry hulle dit reg om in die populêre teaters gewys te word, maar die beste films soos Y Tu Mamá También en City of God (en ouderdomsbeperking se voet: Rules of attraction het nie hierdie probleem gehad nie) - bly in Cinema Nouveau vashaak. Dit is duidelik dat die filmverspreiders glad nie geïnteresseerd is in die kwaliteit van hul produkte nie, maar alleenlik in die aantal siele wat die filmsale op auto pilot binnestroom.
So, die onus rus op die filmresensent die persoon wat veronderstel is om op ingeligte wyse na films te kyk om die film te bemark deur middel van sy resensies. Maar nee, wat kry ons? Ons kry n waterige geproes deur mense wat nie ingelig wíl klink nie, anders is hulle blykbaar pretensieus en daal die lesersyfer. Positief of negatief dwaal resensente nooit te ver van die gemiddelde nie. Baie selde word n film een ster gegee (en nog minder vyf), ondanks die feit dat daar nie n tekort aan drek of meesterstukke is nie.
Die resensente hoef ook nie eens ver te soek vir n teiken van eenster-resensies nie. Leon Schuster se grenslose vindingrykheid het gelei tot sy nuutste voortbrengsel: n verdere draaiboek waarin hy n vrybrief het om sy fassinasie met ontlasting en valstande entoesiasties uit te leef en voorsien is van die mateloos intellektuele titel Oh Shucks, Im Gatvol!.
Ster-Kinekor verwelkom hom met ope arms alte gelukkig om nog n aantal rekords te breek en natuurlik sal die fliek weer maande lank uitverkoop wees. Die skuld hiervoor lê sowel by Schuster self (die meester van swak smaak en die persoon se films wat grotendeels gelei het tot die verarmde verwagtings van wat n Suid-Afrikaanse film kan wees) as by die enorme gehoor wat sy groteske aborsies bewonder. Schuster se flieks word gekyk deur mense wat nie van beter weet nie.
Die enigste rede waarom ek Schuster uitsonder is dat hy n monopolie op die Suid-Afrikaanse filmbedryf het. Hy het groot geldmag, maar sy films spreek keer op keer van n ongesonde beheptheid met rassestereotipes. Daar is absoluut geen oorspronklikheid in sy werk nie, en dit lei tot n eksponensiële verlaging van die kykers se IK.
Films steek in my kop vas wanneer hulle my ruk met oorspronklikheid of oomblikke van absolute herkenning. Dít behoort die doel van élke film te wees, en dis nou maar n feit soos n koei dat n gelag vir winde nie n storie in jou kop laat vassteek nie. En tog aanvaar die mense smaaklose banaliteite sonder enige weerstand. Hulle moet hul koppe draai, die grot verlaat en die lig sien.
Flieks behoort kuns te wees, maar hulle behoort onder geen omstandighede kunsflieks te probeer wees nie. Kunsflieks is heeltemal te dikwels meer kunstig as wat hulle kuns is, en dit dui op pretensie waarvoor nóg die ernstige nóg die populêre filmkyker sal val.
Is flieks kuns? Dit is n sinnelose vraag, want daar is te veel flieks elkeen met sy eie positiewe en negatiewe punte vir my om n enkele oordeel te kan maak.
n Populêre of n buitelandse film is nie outomaties beter of swakker net omdat dit een van dié twee onderskeie etikette dra nie. Elke film moet apart beoordeel word op grond van sy meriete en die som van sy dele.
Hoekom beperk mense hulself so by die kyk van flieks? Daar is meer om te sien en te waardeer as die Latest Releases by die videowinkel, maar n grootskaalse publieke miskonsepsie bestaan dat films ouer as vyf jaar nie die moeite werd is nie.
In 1927 is die eerste klankfilm gemaak en vanaf 1960 word bykans alle films in kleur vervaardig. Films soos The Godfather (1972) en Star wars (1977) speel vandag nog n integrale rol in die verwysingsraamwerk van filmkykers rondom die wêreld. Die ouderdom van n film is dus nie n aanwyser van sy kwaliteit of toeganklikheid nie.
Roger Ebert in my oë die vooraanstaande Amerikaanse filmkritikus was met n besoek aan n universiteit geskok om te hoor hoe oningelig filmstudente is oor die geskiedenis van films, en die afsku wat selfs hulle het van enigiets in swart en wit.
Vir enigiemand wat iets beter wil sien as meer van dieselfde, stel ek die volgende twintig flieks voor. Hulle is sogenaamde Amerikaanse classics wat almal dié etiket verdien, by die meeste videowinkels opgespoor behoort te kan word en steeds deur n moderne gehoor waardeer kan word. Hulle strek vanaf 1984 se Amadeus terug na 1939 se Wizard of Oz, vier is in swart en wit (Psycho, Some like it hot, Citizen Kane en Casablanca) en almal is in Engels.
Amadeus (1984)
ET (1982)
Raiders of the lost ark (1981)
Apocalypse now (1979)
Midnight express (1978)
Annie Hall (1977)
Die Star wars-trilogie: Star wars (1977), The empire strikes back (1980), The return of the Jedi (1983)
Taxi driver (1976)
One flew over the cuckoos nest (1975)
The Godfather (1972)
Lawrence of Arabia (1962)
Psycho (1960)
Some like it hot (1959)
Rebel without a cause (1955)
Singin in the rain (1952)
Casablanca (1942)
Citizen Kane (1941)
The wizard of Oz (1939)
As flieks vyftig jaar na hul vrystelling nog steeds n impak op n kyker kan maak (hiervan is Charlie Chaplin se films sommige oor die tagtig jaar oud n goeie voorbeeld), hoekom weier mense om vandag n nuwe film te sien op grond van iets soos taal?
Amerika se films is die stapelvoedsel en ander buitelandse films is blykbaar net vir fynproewers. Maar wat van Suid-Afrikaanse films? Ja, glo dit of nie, Suid-Afrika maak wel films en ek praat nie van Schuster nie. Die filmbedryf word op die Karoo-vlaktes van Victoria-Wes verheerlik, ver verwyder van die oningeligte gepeupel waaruit die Suid-Afrikaanse filmpubliek bestaan. Maar die films wat met soveel lof bekroon word by die Apollo-filmfees sien uiteindelik nie eens die filmteaters nie dit blyk dat die vrystelling van n Suid-Afrikaanse film in sy eie land nog moeiliker is as vir n buitelandse film. Hoekom moet spesiale filmfeeste soos die een tydens Sithengi in November gereël word sodat die films van eie bodem óp eie bodem gesien kan word?
Dié jaar is drie groot Suid-Afrikaanse rolprente darem in die Suid-Afrikaanse filmteaters vrygestel. Promised land het die Apartheidsideologie n opstopper gegee, selfs al kom die storielyn meer ingewikkeld voor as wat dit eintlik is.
Stander, met n Amerikaanse regisseur en meesal Suid-Afrikaners in die rolverdeling, was uiters vermaaklik. Dit het die Bonnie and Clyde-vergelyking soms te ver gevoer, maar die algemene gevoel was een van opwindende avontuur en oproerigheid in die Apartheidsjare.
Cosmic Africa ly aan die buig in eerbiedigheid voor jou Afrika-wortels-fenomeen. Die visuele impak is groot, maar die verteller word heeltemal te veel monoloë gegee en dit verstomp die pragtige natuurbeelde. Die filmmakers moet n bietjie die Qatsi-trilogie bekyk vir opvoeding, want hul werk getuig wel van buitengewone potensiaal, en n tekort aan inspirasie het hulle nie.
Oor die gebrek aan Afrikaanse projekte behoort ons vir eers nie bekommerd te wees nie, want die tyd sal wel kom. Só ook met Zoeloe- en Xhosa-films. n Voorspelling dat ons binne die volgende dekade groot produksies in die ander landstale sal sien, is nie te vergesog nie.
Konstante blootstelling aan dieselfde flou flieks het gelei tot n aanvaarding daarvan. Die mense vreet wat hulle gevoer word. Wat sou gebeur as die skandalige (soos Dumb and dumberer) met die skouspelagtige (soos 25th hour waarvan veel minder kopieë versprei is) vervang word? Kan die verwagtings van die gemiddelde film moontlik verhoog word? Ek hoop so.
Miskien behoort ek nie die doodmiddelmatige fliek te verdoem deur dit met die flieks by Cinema Nouveau te vergelyk nie. My punt is egter dat slegte films dikwels ten koste van beteres gewys word en dat films nie gelyke verspreiding geniet nie. Oor die algemeen word die beste films by die minste teaters vrygestel. Ek vra nie dat buitelandse flieks voorrang geniet nie; ek vra net vir gelykheid in hul verspreiding. Hoekom wys Bad boys II oral en nie Lantana nie?
Films hoef nie te streef na volmaaktheid nie, maar die feit dat hulle berge kan versit, dui op n mag wat wag vir diegene wat die moed het om daarvoor te streef. Hoekom bly die filmbedryf voortploeter met dieselfde sinnelose, denkloos aanmekaargetimmerde monstrositeite wat skaars n maand in die teaters en in die kykers se geheue oorleef?
Cinema Nouveau is n geïsoleerde handvol (vyf, om presies te wees) teaters wat verwyder is van die volk, en lankal reeds gebrandmerk is as die plek vir filmsnobs, waar die enigste Engels die onderskrifte is en aandpakke vereis word. Terwyl dit n oulike idee is, is dit glad nie die geval nie. Cinema Nouveau, vanweë sy reputasie, skrik baie mense af om flieks te kyk wat hulle moontlik in hul plaaslike teaterkompleks sou uitprobeer het. Maar die volk bly oningelig en word nie blootgestel aan die verskeidenheid films van die wêreld en aan die potensiaal van die filmmedium nie, want die beste films sit verkramp, weggesteek, gemarginaliseer in Cinema Nouveau.
Hoe moet die mense wat leef op Charlies angels en Bringing down the house die Nouveau-films ontdek? Bring die films na hulle toe! Voer hulle City of God, Intacto, en The Magdalene sisters soos hulle die Hollywood-films gevoer word. Cinema Nouveau se films moet uitvloei na minderbevoorregte teaters: die kommersiële soort.
En wat van ons rol in die opvoeding van die nageslag? Kinders kan n fliek soos Amélie net soveel geniet soos volwassenes.
Die keuringsproses vir sogenaamde kunsfilms (populêre films ook) moet ernstig hersien word. Minder gemors moet gewys word, en wanneer iets die moeite werd is, moet dit langer gewys word. Groot buitelandse films wat by Cannes pryse wen, soos Yi Yi: A One and a Two uit Taiwan en die twee onlangse films van die Dardenne-broers, Rosetta en The Son, word deur Suid-Afrikaanse verspreiders geweier.
n Ongelooflike ongeregtigheid is vroeër dié jaar gepleeg toe Apocalypse now redux n onverskrokke anti-oorlog-opera, die enigste wat Wagner verdien nie eens veertien dae lank vertoon is by n somtotaal van twee teaters in die ganse Suid-Afrika nie: Nu-Metro Canal Walk en Nu-Metro Montecasino. Daarna is dit na die Labia, en toe is dit weg. Apocalypse now bewys watter magtige invloed die filmmedium op die menslike bewussyn kan hê wanneer dit reg gebruik word. Maar nee, wat word bemark? Oral sien ons net lokprente en skrikwekkende posters vir Maid in Manhattan, Daredevil, The hot chick en Dreamcatcher. Die beste films word nie gesien nie, en die swakstes word in ons keelgate afgestop.
Die filmkritici moet films eerlik beoordeel vanuit n duidelike, persoonlike oogpunt. Wanneer die lesers van resensies op meer ingeligte wyse dit beteken dat hulle hul eie opinies vorm en logies kan vergelyk met dié van die resensent na films kyk, dan sal hul vereistes vir films strenger word.
Dikwels maak films ons vry van ons aardse verbondenheid. Films laat ons besin, hoop en droom. Films is daar om ons te laat ontsnap en ons in te lig. Films vermaak ons en plaas ons vir n oomblik in n ander tyd, op n ander plek, met nuwe vriende en vyande. Films inspireer ons met lig, of laat ons die donker ongeregtigheid van die lewe voel. Films beweeg ons. Almal het die reg om op kwaliteit aan te dring en niemand mag met middelmatigheid tevrede wees nie, want dit is om die potensiaal van ons bestaan te negeer.
Die lewe is te kort om flieks te kyk wat ons nie aanraak nie. Kykers moet aandring op (n groter verskeidenheid van) beter flieks, en die verspreiders moet ons intelligensie nie onderskat nie. Wanneer daar groter deelname is, die algemene apatie teenoor die kwaliteit van flieks verdwyn en mense die belangrikheid van flieks in hul lewens besef, dan sal hierdie wêreld n beter plek wees.
16 Desember 2003
boontoe
|