|
The MotherEckhard CloeteRegisseur: Roger Michell Beide die Eskimos en die San het die gewoonte (gehad) om hul bejaardes in die wildernis agter te laat wanneer hulle nie meer by die res van die gemeenskap kan byhou nie. In beide gevalle word hierdie skynbaar wrede optrede geregverdig deur die ru klimaat. In die Weste gebruik ons n ander taktiek: deur emosionele koudheid laat ons ons ouers goed verstaan dat hulle net tot op n punt n invloed op ons lewens sal hê. Daarna is dit outehuis toe: n oumens moet haar plek ken en weet wanneer om na die onsigbare aftree-oord te verkas. The Mother probeer hierdie tema ondersoek. Die verhouding tussen ma May (Anne Reid) en kinders word ondersoek as subtema naas die uitbeelding van die seksuele verhouding tussen die iets-in-die-sestigjarige May en n man (Darren, gespeel deur Daniel Craig) twee keer so jonk soos sy. Maak geen fout nie: die prent is nie n komiese blik op die verhouding tussen n ouer vrou en n jonger man nie. Dis n uitmergelende en eerlike ondersoek na die regte van n oudwordende vrou binne die moderne Westerse konteks (die gegoede Londense voorstede). Na die dood van haar lewensmaat weier May om stilletjies van haar kinders se aardbol te verdwyn. Wanneer haar pragmatiese seun (Stephen Mackintosh) versoek dat sy tog asseblief nie moet moeilik wees nie, vra sy: Why not? Why cant I be difficult? May se dogter, Paula, bly ook in Londen en dis met dié se minnaar wat May n emosionele konneksie maak wanneer sy na haar man se dood eensaam en gedisoriënteerd is. Die konneksie loop uit op n volskaalse seksuele vehouding, waarvan die dogter eers heeltemal onbewus is. Die krag van Suid-Afrikaans-gebore Roger Michell (wat ook vir die effens soetsappige en oppervlakkige Notting Hill verantwoordelik was) se nuwe prent lê in die genuanseerdheid en ambivalensie van die komplekse vehoudings tussen die karakters. Waar Darren byvoorbeeld totaal en al onselfsugtig voorkom in sy hantering van May se kwesbare seksualiteit, word dit later duidelik dat ook hy n alternatiewe motief het vir sy fisieke ontferming oor haar. Al die karakters in die film het hul eie (dikwels onbereikte) ambisies en emosionele bagasie waarvan die ander karakters nie bewus is of die tyd en energie het om te hanteer nie. In n huis wat wemel van kleinkinders en deurmekaar gesprekke, is May nogtans ge?soleer. Haar kleinkinders stel meer belang in hul TV-program as in die ouma wat vir die laaste keer die huis verlaat. Wanneer May se man kort voor sy dood probeer uitdruk hoe kosbaar sy familie vir hom is, heers daar n ongemaklike stilte om die eetkamertafel. Paula beskuldig haar ma daarvan dat sy haar nooit aangemoedig en geprys het nie en dat dit die rede is hoekom sy nie in haar eie oë suksesvol is nie. Dit is die desperaatheid van die karakters se omstandighede wat opval. Selfs wanneer Paula uitvind haar ma en Darren het n seksuele verhouding, is nie een van die twee bereid om die troos en intimiteit wat Darren bied, op te gee nie. Wanneer May haar dogter vergesel na die skrywerskring wat sy lei, word die pynlike en eensame kant van moederskap verwoord in May se woordskets van n herinnering. Daar is nie n oplossing wat in stroop gedoop kan word of in Hollywood-geskenkpapier toegedraai kan word nie: die ysingwekkende fisiese vuishou wat moet dien as boetedoening en katarsis, is gelaai met jare se verwyt. Die draaiboekskrywer, Hanif Kureishi, was ook verantwoordelik vir die draaiboeke van Intimacy en My Beautiful Launderette. Ook The Mother behoort saam met films soos Romance X, The Piano Teacher en Jane Champion se films in n kategorie wat ernstig kommentaar lewer en, belangriker, vrae stel oor die aard van menslike seksualiteit en intimiteit. Mag n oumens byvoorbeeld nog seksuele passie deel en vrylik uiting daaraan gee? (May se kinders is geskok wanneer hulle sketse waarin fellatio met Darren uitgebeeld word, in haar sketsboek ontdek.) Uiteindelik is dinge natuurlik nie so eenvoudig soos my beskrywing van die Weste se hantering van hul oumense nie. Maar dis juis die punt wat die film probeer maak.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |