|
Sylvia: Kuns, of eerder die skepping daarvan, is 'n albatros wat alleen gedra moet wordSteyn du ToitEpos: movies@mfm.sun.ac.za Sylvia Nadat sy die kombuis aan die kant gemaak het, berei sy toebroodjies en melk voor vir haar kinders. Saggies plaas sy die skinkbord tussen die twee slapende gesiggies neer en soen elkeen moederlik. "Ek is lief vir julle," fluister sy opreg, voordat sy die kinderkamer se venster 'n bietjie oopmaak en die deur van buite verseël. Dan, volkome in beheer, draai sy die gaskrane van haar stoof oop en wag in die vertroostende stroom wat haar finaal sal verlos. As ek moes selfmoord pleeg, sou ek dit soos Sylvia Plath doen. Met die uitstap hoor ek 'n tante met pers spookasemhare agter my aan haar man vra: "Nou wie was nou eintlik die skuldige een gewees?", waarop hy antwoord: "Hè?" Die vraag (en antwoord) is natuurlik baie geldig. Sylvia Plath (Paltrow) en Ted Hughes (Craig) het mekaar op universiteit ontmoet en is later getroud. Albei was skrywers - hy was egter suksesvol, en sy onerkend. Hy het buite-egtelike verhoudings gehad, maar sy was weer 'n selfvernietigende depressielyer. Hulle het mekaar letterlik verwoes. Dit was eers met haar selfmoord, en die verskyning van haar roman The Bell Jar, dat sy eensklaps as een van die voorste vrouestemme in die literatuur besing is. Hughes het feitlik verdwyn. Die stryd tussen hulle siele is egter weer heel waarskynlik hervat met sy dood in 1998 en die verskyning van Birthday Letters - 'n bundel gedigte waarin hy sy stilte oor hul verhouding verbreek het. Toe Gwyneth Paltrow 'n paar jaar gelede die Oscar verower het vir haar rol in Shakespeare in love, kon ek nie verstaan hoekom nie. Vandag sluk ek my woorde. Gwyneth Paltrow is een van die voorste aktrises van haar generasie en het 'n reusebydrae gelewer tot die erkenning van Plath se bestaan - iets wat vir laasgenoemde baie belangrik was, maar wat ongelukkig nooit vir haar (tydens haar leeftyd) beskore was nie. Paltrow kry dit reg om op 'n skrikwekkende manier, sonder dialoog, die gemoedstoestand van Plath konstant en pynlik uit te pols. In so 'n mate dat ek eintlik bekommerd om haar ontwil raak. Waar kry sy haar inspirasie vir soveel donker moedeloosheid vandaan? Sylvia is nie 'n biografiese rolprent nie, maar eerder 'n blik op die skade wat twee kunstenaars mekaar kan aandoen deur bloot saam te wees. Kuns, of eerder die skepping daarvan, is 'n albatros wat alleen gedra moet word - sonder die teenwoordigheid van onskuldige bystanders. Twee goed sou Sylvia Plath se lewe gered het: antidepressante en 'n huwelik met 'n rekeningkundige. LitNet: 20 Oktober 2004 |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |