|
SeabiscuitMet: Tobey Maguire, Jeff Bridges, Chris Cooper, Michael Angarano, William H Macy n Mens kan hierdie rolprent sekerlik lelik en verkeerdelik brandmerk as Forrest Gump met hoefysters. Maar jy sal nie erg verkeerd wees nie. Hier het ons n ware verhaal, soos uitgebeeld in Laura Hillenbrand se boek, van n groep verloorders wat vir n wyle die Amerikaanse verbeelding aangegryp het: Hulle gesamentlike sukses het die Amerikaanse bevolking iets gegee waarop hoop gebou kon word. In die tyd van Seabiscuit se ongewone triomfe was Amerika vasgevang in die Groot Depressie, met die armoede, werkloosheid en wanhoop wat dit tot gevolg had. Natuurlik ironies dat duisende mense aangemoedig is om hul laaste sente op perde te verwed in die hoop op groot rykdom, maar die verhaal soos dit hier vertel word, kyk dié feit gerieflik mis. Tog word die verhaal sober en interessant vertel. Etlike gebeure wat in baie ander regisseurshande ernstig gemelk sou gewees het vir elke laaste greintjie sentimentaliteit, word hier lig hanteer. Die dood van Howard se seun is n goeie voorbeeld. Die uitbeelding van die vader-seun-verhouding tussen Howard en Pollard is n ander. Daarteenoor is die toneel waarin Smith besef Pollard is die ideale jokkie vir Seabiscuit, n bietjie lank en ooglopend. In kleiner rolle is William H Macy (as die eksentrieke radio-omroeper Tick Tock McGlaughlin) en Michael Angarano (as die jong Red Pollard) oortuigend (ons ken Angarano as Jack se seun in Will and Grace). Die inkleding is knap: die tydperk word mooi opgeroep deur die kostuumontwerp en die kamerawerk. (Natuurlik stel filmmakers hulself bloot wanneer hulle so n tydperk aanpak: kyk maar na die aantal foute wat op die Internet Movie Database ( www.imdb.com) gelys word!) Tog voel n mens soms asof die vertelling fut kort. Ten spyte van die onvermydelike hoera!-einde waarop die verhaal afstuur (en wat genadiglik ook kortgeknip word), trek sommige tonele net te veel, so asof hegter redigering deurgaans n aanwins sou wees. Hierdie kritiek ten spyt, het ek gelukkig uit die fliek gestap. n Interessante verhaal uit n boeiende tydperk, merendeels knap vertel. Jy kan maar dié perd opsaal voor hy in die niet verdwyn.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |