|
'n Greep op die riller?André CrousEk hou nie daarvan om goed in boksies te plaas nie. Is daar suiwer dramas of suiwer komedies of suiwer rillers? Bitter min. Hoeveel van hulle is in elk geval iets werd? So, wat is 'n riller? Ek kan nie hierdie vraag antwoord sonder om die skeiding tussen riller en gruwelfilm te ondersoek nie. Daar is egter 'n hele verskeidenheid gruwels om uit te kies. Een van die groot skeidingspunte is natuurlik die hoeveelheid bloed wat verskyn. In die gruwelfilm word bloed - en ander liggaamsvloeistowwe - gewoonlik op hedonisties-sadistiese wyse (daar is uitsonderings: ek dink byvoorbeeld aan Interview with a vampire) uit 'n onskuldige slagoffer verwyder. Die meer sadistiese karakters sal selfs so ver gaan as om ledemate af te saag of af te ruk - ek dink byvoorbeeld aan die kontrepsie wat as onthoofdingsmeganisme dien in die Japannese gruwelfilm Audition. Dit is dus duidelik dat 'n film soos Texas chainsaw massacre ongelukkig nie die rillerlys sal maak nie. Verminking à la kettingsaag is pure gruwel. Sommige gruwelfilms, waaronder Frankenstein, Dracula en Nosferatu, bevat elemente van bonatuurlike magte, selfs al neig dit na die absurde. Die woord bonatuurlike kan hier ook met onnatuurlike vervang word: Beauty and the beast is 'n romantiese gruwel. 'n Gruwel is ook dikwels so onrealisties dat die kyker daarvoor begin lag. Wie kan die reeksmoordenaars van 'n Scream 2 of Scream 3 nog ernstig opneem in die lig van die reëls van beweging? Of iets soos Return of the killer tomatoes? 'n Riller, daarenteen, voed op menslike vrees, en die moontlikheid dat 'n situasie soos die een in die draaiboek wel in die kyker se lewe kan ontstaan. Hier kan ons verwys na Seven, 'n baie geloofwaardige uitbeelding van 'n erg ontstellende raaisel, waar die kyker dikwels in vrees is. The exorcist is halfriller, halfgruwel as jy glo dat 'n jong meisie van die duiwel besete kan wees. Anders is dit 'n gruwel. Halloween begin as 'n riller - 'n heel realistiese situasie - maar verval stadig in 'n onsuksesvolle manipulasieproses waar die kompleksiteit van die kamerawerk en die gewelddadigheid stadig maar seker toeneem. Halloween probeer gruwel-elemente inkorporeer, maar verloor sy geloofwaardigheid. Wie loop in helder daglig in 'n spierwit masker rond en word deur niemand behalwe die heldin opgemerk nie? Myns insiens verskuif dit vinnig na die gruwelafdeling. Ek moet natuurlik beklemtoon dat gruwels nie gebrekkige rillers is nie - ek verwys hier streng na die geloofwaardigheidsvraagstuk. 'n Riller wend 'n sterk poging aan om die kyker se idee van wat moontlik is en wat onmoontlik is, nie te onderskat nie. Ons kan nie net sê: "Whatever, dis onmoontlik" en sodoende die film irrealiseer nie. Dit is wél moontlik by die gruwel, waar die monster, soos Halloween se Michael Myers, gesteek en geskiet word, by 'n balkon afval, en steeds binne oomblikke op die vlug slaan, oënskynlik ongedeerd. 'n Ware riller poog nie net om die hare op jou nek orent te laat staan nie: jy moet hulpeloos voel, paniekbevange, en nie anders kan as om te wag op die ontknoping nie. Dikwels weet die kykers ook nie meer as die hoofkarakters nie. 'n Klassieke voorbeeld is die eerste vyf minute van Scream, wat dit regkry om paniek deur 'n onbekende stem op te wek. Dié idee is later uitgebrei tot 'n vollengte-verhaal in Phone booth, met nogal heel indrukwekkende resultate. 'n Ander voorbeeld is die film op die lys wat hier onder verskyn: Funny games is 'n afgryslike film waar die kyker gyselaar gehou word nie net deur die antagoniste nie, maar deur die film self. Die kyker is totaal en al hulpeloos, maar tog is hierdie hulpeloosheid van primêre belang vir die film se intellektuele hoek. Dit is 'n mind-boggling film en hierna sal jy nie weer dieselfde wees nie. Gewoonlik neem dit 'n dag of twee vir die bewerasies om te bedaar. Dis die onbekende wat ons bang maak. Dis die afwagting. Die verskil lê daar: 'n riller laat ons ons naels kou, terwyl die gruwelfilm ons walg met bloed en derms. Albei, indien goed gedoen, spreek tot ons emosies. Wanneer daar twee partye (die Goeie en die Slegte) is wat onafhanklik opereer en jy sit en wag vir die konfrontasie, dan is dit 'n riller. Die gruwel probeer so min as moontlik afwagting skep en die konfrontasie (die slagting) so lank as moontlik uitrek. Daarteenoor staan die riller, wat die konfrontasie nie eksplisiet wys nie, of dit tot 'n minimum beperk en ons eerder so lank as moontlik op die randjies van ons stoele hou. Ek kan natuurlik nie van rillers praat sonder om na die Meester, Alfred Hitchcock, te verwys nie. In sy befaamde boeklengte-onderhoud met die Franse regisseur-resensent François Truffaut het hy die volgende te sê omtrent die verskil tussen spanning en verrassing: Gestel jy het 'n toneel in 'n film waar twee karakters by 'n tafel sit en praat.Die riller is 'n spanningsprent. Die kyker weet iets, maar hy weet net nie genoeg nie. Inderdaad, hy is bang vir die moontlikhede waarvan hy bewus is, sonder om presies te weet wat gaan gebeur. Daar is 'n element van misterie. Die Scream-films, wat altyd eindig met die onthulling van die moordenaar as die mees onwaarskynlike verdagte, probeer hulself 'n riller-inspuiting gee, maar die tonele van eksessiewe geweld is erg op die voorgrond. Ons kan na Silence of the lambs verwys, wat met Anthony Hopkins 'n wonderlik raaiselagtige karakter in Hannibal Lecter skep, van wie ons nooit weet wat om te verwag nie. In teenstelling daarmee is Hannibal uit en uit 'n gruwelfilm, met ingewandes wat uitgesny, uitgeruk en weer ingesluk word. Soos ek reeds genoem het, is baie rolprente 'n mengsel van verskillende vorme. Psycho is, op grond van twee tonele, meer 'n gruwelfilm as 'n riller: a) sy bekendste toneel, die moord in die stortAan die ander kant het Psycho ook wonderlike tonele vol afwagting, en kan dit as 'n riller deurgaan: a) Marion Crane in die motor (die toneel met die polisieman en die toneel laatnag in die reën)Hitchcock se film The birds het groot dele van 'n riller - veral die toneel waar die blonde aktrise Tippi Hedren langs 'n speelraam sit terwyl die swart kraaie stadig, een vir een, daarop toepak. Maar by ander tye kry ons groot bloedige close-ups van hande en bene wat bepik word. Jy gaan nie in 'n riller met die kwaaddoener empatiseer nie, want dan is die gevaar verby. Jy empatiseer met iemand wat heeltyd in gevaar is. Hier kan ek Felicia's Journey (in 1999 uitgereik) noem oor 'n senior burger wat as bekende kok werk, maar van tyd tot tyd jong meisies om die lewe bring. Hy is die hoofkarakter, en terwyl terugflitse sy motiewe verduidelik, vind die kyker hom steeds vreesaanjaend. Met die eerste oogopslag sou dit lyk asof 'n film soos The talented Mr Ripley die vorige paragraaf weerspreek. Ons empatiseer met die hoofkarakter, wat mense rondom hom doodmaak. Ons begryp sy redes baie goed, maar ons is die hele film lank bang vir die moontlikheid dat hy weer in 'n posisie geplaas word om sulke dade te pleeg: hy beskerm homself teen pyn, teen die wegglip van die masker waaraan hy gewoond geraak het. Die feit dat ons die storie in spanning beleef, is egter 'n aanduiding dat ons met 'n riller te doen het. Die virtuele filmkatalogus, Internet Movie Database (www.imdb.com), wat in alle ander opsigte onverbeterlik is, het 'n lys van die mees populêre rillers wat hom ongelukkig in die skande steek. Terwyl enkele elemente in die storie dalk spanningsvol is, beteken dit geensins dat die film as riller geklassifiseer kan word nie. Maar dis helaas die probleem met klassifikasie. Die moontlike kombinasies van genres en stories is oneindig, en ek sien dat ek nie werklik 'n volledige antwoord gegee het nie. Wat is 'n riller? Die kort, onvoldoende antwoord is dat 'n riller 'n drama met spanning is. Maar mense verskil. Is 'n komedie steeds 'n komedie as daar kykers is wat dit nie snaaks vind nie? 'n Vaste greep op die identiteit van die riller bly my ontwyk. Hier onder verskyn 'n lys van tien rillers wat ek aanbeveel. Dis sonder twyfel 'n vreemde versameling. Ek verseker jou egter dat hulle hul uiters effektief van die taak kwyt om spanning by die kyker te produseer.
LitNet: 08 November 2005 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |