|
Re-animatorFritz MoutonRegisseur: Stuart Gordon [1985]
Werk dit? Ja en nee. Gemeet aan vandag se standaarde, met briljante spesiale effekte om elke hoek en draai, sal Re-animator se visuele pogings nie almal tevrede stel nie. Dit is egter nog steeds uiters goed, met n intense mengsel van gruwel en bloeddorstigheid. Hierin lê die film se krag dit is n doelgerigte slagtersprent wat alles uithaal en wys ... Re-animator vertel die verhaal van n obsessiewe mediese student, Herbert West (met n kultusvertolking deur Jeffrey Combs) wat dit sy dagtaak maak om dooies op te wek. Met sy neongroen wondermiddel eksperimenteer hy op sy vorige professor en sy huismaat se kat, met chaotiese gevolge. Alhoewel albei weer lewend word, is hulle totaal van lotjie getik en ontsaglik gewelddadig. West besluit dan om vars lyke in die universiteit se lykshuis te gaan soek, maar natuurlik bly sulke na-uurse aktiwiteite nie lank geheim nie. Dr. Carl Hill, sy dosent, steel sy wondermiddel met die idee om al die lof vir homself in te palm, maar West is nie die tipe student wat sulke snert sal duld nie. In n ironiese wending maak hy Dr. Hill sy volgende proefkonyn, maar saal hom dan op met n hele paar psigotiese zombies ... As emmersvol gruwel jou stapelvoedsel is, dan is dit die prent vir jou. Dit is losweg gebaseer op H. P Lovecraft se kortverhaal, Herbert West The Re-animator, en is beslis die beste Lovecraft filmvertolking tot op hede. Die film was sommer blitsvinnig n kultustreffer. Entoesiaste sal Frankenstein, Dawn of the Dead en Fulci se Zombie as sterk invloede opmerk, maar die mengelmoes van elemente sorg vir puik, oorspronklike vermaak. Re-animator was Stuart Gordon se debuut as regisseur en sy heldhaftige, spottende inslag sorg vir n film wat bo die kompetisie uittroon. Die uitkyk is vlymskerp en kunstig, en die regie, produksiestandaarde en spel is eenvoudig skitterend. Re-animator verf ast ware die silwerdoek bloedrooi veral tydens die grafiese einde met gruweltonele wat al legendaries geraak het in die genre. Die film kry drie uit vyf. Tot n volgende keer, wanneer ek Frank Henenlotter se Basket Case bespreek, is dit groetnis met n effense waarskuwing moenie gaan staan en kop verloor nie ... |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |