|
One hour PhotoCoenraad Walters Met: Robin Williams; Connie Nielsen; Michael Vartan; Dylan Smith; Erin Daniels. Hierdie byna minimalistiese rolprent toon hoe daar met eenvoudige verhaalgegewe en knap tegniese vaardighede n meesleurende prent geskep kan word wat n mens nog baie lank bybly. Robin Williams is veral bekend vir lewendige vertolkings soos die onderwyser in Dead poets society (1989)en die radio-omroeper in Good morning Vietnam (1987). Aanbieders van kletskonserte reël vir binneaarse Valium wanneer hy n gas is, want sy maniese tekere gaan verg groot kalmte en selfbeheer van ikone soos Oprah en Parkinson. Die stil, stil, stil vertolking wat hy in One hour Photo lewer, merk hom as n besondere akteur. (Ek kan maar net hoop dat dit nie so vinnig sal verdwyn soos Toys (1992) nie: dié besondere kykie na kind wees bly myns insiens een van Williams se mees onderskatte prente.) Williams is Seymour Parrish, oftewel Sy the photo guy: hy doen kitsontwikkeling in n Amerikaanse supermark. Daar is een bepaalde gesin wat hom fassineer, en weens sy eensaamheid ontwikkel sy belangstelling in n obsessie. Hulle is Nina Yorkin (Nielsen), haar man Will (Vartan) en hul seuntjie Josh (Smith). Dié gesin se oënskynlik ideale bestaan bied hom n ontsnapkans uit sy eie werklikheid. Wanneer hy agterkom mnr Yorkin is ontrou aan sy vrou, reageer hy heftig. Gegewe die spanning wat opgebou word deur die prent self (en in n mate ook deur die reklame), verwag n mens iets veel ergers as wat werklik gebeur, maar die psigologiese impak van Seymour se optrede is diep ontstellend. Hoewel Red dragon n totaal ander soort riller is as One hour photo, bied albei prente n beeld van n persoon wat werklik eensaam is - selfs die redes vir dié eensaamheid toon ooreenkomste. Die wyse waarop die twee karakters (Sy en Dolarhyde) hulle eensaamheid hanteer, verskil wel, maar ook nie soveel nie! Die fotografie van One hour photo beklemtoon die orde van Sy se bestaan, en ook die kleurloosheid daarvan. Kyk mooi na die slot, die grys en roomkleur en die oorweldigende wit. Dit staan in skrille kontras met die beelde wat Sy uitstal teen sy fotomuur. Hoewel n mens Sy se optrede afkeur, word n diepe deernis met hom ontlok. n Mens word gedwing om jou eie lewe te meet teen syne en dankbaar te wees. Die draaiboek en Williams se vertolking stel net op een punt teleur: die oordra van die psigologiese rede vir Sy se optrede. Jy wag die hele tyd daarvoor, maar wanneer dit kom, is dit n voorbeeld van telling, nie showing nie, en dit doen afbreuk aan die wonderlike subtiliteit waarmee die verhaal vertel word. Maar dis n klein beswaar. One hour Photo verteenwoordig n hoogtepunt in Williams se indrukwekkende oeuvre en word sterk aanbeveel. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |