|
Oliver TwistAndré Crous Oliver Twist (2005) Hierdie film word op 9 Desember vrygestel.
Arme Oliver Twist. Dis die een ongeregtigheid op die ander; die kyker moet net hulpeloos sit en toekyk hoe hy van die een onmoontlike situasie na die ander rondgeslinger word. Hy is natuurlik jonk, en is daarom ook hulpeloos. Die kyker moet dus simpatiseer met jong Oliver, omdat beide partye hulpeloos is. Ha! Die logika! Roman Polanski het dié as opvolgprent gekies tot sy groot sukses van 2002, The Pianist. Die draaiboeke vir albei is geskryf deur Ronald Harwood, wat met sy laaste poging 'n Oscarbeeldjie huis toe geneem het. Oliver Twist, weeskind, word eers in 'n fabriekswinkel geplaas waar hy toue moet ontrafel. Hy kry tydelike blyplek by 'n gesin, maar wanneer 'n seun sy oorlede ma beledig, raak hy aggressief en word uit die huis gegooi. Hy vind sy pad 70 myl Londen toe, waar hy bevriend raak met 'n straatdief, Artful Dodger. Dié stel hom voor aan die res van die bende, en dis wanneer die moeilikheid begin. Ek het nie die bekende Dickens-boek gelees nie, en ongelukkig het ek nie die onlangse Suid-Afrikaanse rolprentverwerking (Twist) daarvan gesien nie, maar oor Polanski se nuwe film het ek die volgende te sê: Die film is donker, soos dit seker hoort, maar keer op keer kan ons sien dit is in 'n ateljee verfilm: mure en brûe is te skoon, te goed opgepas. Die vertrekke is donker, byna altyd deur kerse verlig. Natuurlik wanneer daar (tydelike) positiewe energie is, en dinge vir 'n verandering lyk of hulle tog goed gaan uitwerk vir die titelkarakter, is daar 'n oorbodige hoeveelheid sonlig wat by die vensters instroom en die koue blou lig van vroeër laat wegsmelt. Soms kan Polanski egter net nie die versoeking weerstaan om onnodige humor by die storie te voeg nie. Ons sien die werkhuiskinders wat aan tafel sit en 'n bol stywe bruin materie kry as maaltyd. Die toesighouer dank die Here (groot baniere hang teen die muur: "God is Holy", ensovoorts) vir die milddadige maal. Wanneer Oliver waag om vir nog te vra, is die owerhede - wat besig is om aan vyfsterdisse te wei - geskok deur sy vermetelheid. Gelukkig word ons die close-ups van sjampanje en kaviaar gespaar. Oliver, word - binne die beperkende raamwerk wat ek nou sal uitwys - met begrip vir sy rol deur die jong Barney Clark uitgebeeld. Sy voordrag is nooit steurend nie, en hy trek nie enige jammerlike gesigte nie. In 't kort: hy lewer 'n baie goeie vertolking juis omdat hy nie "soos 'n kind" optree nie. Die probleem met die karakter van Oliver is egter sy lastige maniere (Nancy, 'n karakter wat haar lewe inruil sodat Oliver mag oorleef, noem hom 'n gentleman) wat uiteindelik tot 'n vreeslik passiewe karakter lei. Ons wonder dikwels waarom hy nie optree teenoor die buitensporige onreg wat hom aangedoen word nie, maar hy is te ordentlik om enige teken van rebellie te wys teen sy kwaaddoeners. En aan kwaaddoeners is daar nie 'n tekort nie. Onder andere is daar Fagin (Ben Kingsley doen sy bes om van dié rol iets meer as 'n mompelende, vuil ou man te maak; terloops, sy karakter herinner baie aan Geoffrey Rush in Pirates of the Caribbean!), wat die klomp straatseuns onderhou. Dit bring my iets wat krap, 'n probleem wat (hierdie is net 'n aanname) waarskynlik reeds in die roman sy neus uitsteek: Wat is die storie met hierdie string ou mans wat so in Oliver belangstel? Die een is so weird soos die ander, en hul motiewe is nie altyd duidelik nie. Die film is uiteindelik maar net nog 'n periodestuk: mooi afgeneem, met goeie akteurs wat hul bes doen om die storie met ons te laat resoneer. Maar enkele probleme het my laat voel ek word onnodig geforseer om met Oliver te simpatiseer. As Oliver net effens meer verontwaardig gelyk het met die hele affêre, sou dit my tevrede gestel het, en die finale toneel tussen Oliver en Fagin dra net verder by tot 'n gevoel dat Oliver nooit vir homself sal kan opstaan nie.
Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |