|
Luna PapaSuzette Kotzé Russies en Farsi met Engelse onderskrifte n Seuntjie se stem vertel jou van sy ma en sy eerste roeringe in haar maag hy praat uit die baarmoeder uit, en is heeltyd n teenwoordigheid tot aan die einde van die fliek waar hy opgewonde wag dat sy geboorte moet plaasvind. Sy ma is Mamlakat (Chulpan Khamatova), n sewentienjarige meisie met drome in haar hart, verre plekke in haar oë en die brandende begeerte om n aktrise te raak. Sy behoort aan die plaaslike toneelgroep en daardie aand word Hamlet (praat van teenstrydig in daardie omgewing!) in hul dorpie opgevoer. Maar sy moet saamry terwyl haar pa sy konyne gaan verkoop, en weens n klomp vertragings (onder meer deur n klomp skietlustige soldate) kom sy te laat vir die vertoning daar aan. Op pad huis toe deur die digte bosse kom sy n man teë, eintlik net n stem wat verklaar dat hy n akteur is, en onder die invloed van haar teleurstelling en die gloed van die volmaan verlei hy haar. Die voorspelbare het gebeur: n maand of wat later kom sy agter sys swanger. In die ortodokse Moslem-gemeenskap maak dit dadelik van haar n uitgeworpene, maar haar pa, Safar (Ato Mukhamedshanov), wat sy dogter ten spyte van sy growwe uiterlike baie liefhet, besluit dat haar eer gered sal word. Saam met haar mal broer, Nasreddin (Moritz Bleibtreu hy ly aan bomskok uit die oorlog en het nie al die hase op hok nie), vertrek hulle op n epiese tog om die pa op te spoor met komiese, tragi-komiese en verskriklike gevolge. Die inkleding van die fliek is slapstick-agtig, maar tussen al die lawwigheid deur vra dit gewigtige vrae oor dinge soos familie en bloed wat dikker is as water, die verskil tussen liefde en lus, aanvaarding versus vooroordeel (die heiliger-as-jy-houding waarmee die dorpenaars Mamlakat veroordeel, is skreiend en alte bekend aan die kyker). Die onbekende akteurs kwyt hulle wonderlik van hul taak, en veral Mamlakat tref as tegelyk weerloos en sterk, onderhorig maar vurig onafhanklik. Die treffendste van hierdie film is egter die surrealistiese droomkwaliteit, wat perfek volvoer word in die magies-realistiese slot, en die andersoortige wêreld wat dit uitbeeld. Die Tadjikistanse regisseur Bakhtiyar Khudojnazarov (Luna Papa is sy derde film) se werk word vergelyk met dié van Emir Kusturica (Time of the Gypsies, Arizona Dream, Underground), en Luna Papa herinner inderdaad baie aan Kusturica se briljante Black Cat, White Cat wat laas jaar in ons rolprentteaters gedraai het. Hoewel Luna Papa nie in dieselfde klas as bogenoemde is nie, is dit nogtans n baie genietlike en aweregse viering van die lewe in sy vreemder skakerings.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |