|
Your hands on my hipsSuzette MyburghFrans met Engelse onderskrifte Bittersoet - daardie mooi Afrikaanse uitdrukking soos ja-nee - is wat hierdie ligte Franse komedie goed beskryf. Gelukkig is dit met die Franse filmkuns so gesteld dat "lig" nie gelyk is aan "leeg" nie - en nog minder "soetsappig", soos 'n mens so dikwels uit Hollywood kry. Die underdog in hierdie verhaal is ouer vroue, veral dié wat hulle in hul vroeë veertigs al weer (of nog steeds) alleen bevind. Maar eintlik tref dit wyer na elkeen wat nie voldoen aan die heersende dwingelandy van "jonk, cool en funky" nie (of dié wat weier om daaraan te voldoen!). Odile (Chantal Lauby) is 'n gevestigde aktrise wat doodgelukkig saam met haar mooi dogter, Marie (Armelle Deutsch), woon en van dag tot dag aangaan met haar lewe - nie te sleg nie, maar ook niks rasend opwindend nie. Sy het haar vriendinne en een getroue gay vriend - 'n bekende konteks vir menige alleenlopervrou. Toe Marie aankondig dat sy by haar kêrel gaan intrek, tref die leënes-sindroom Odile onverhoeds. Sy wil nie alleen oud word nie, maar waar ontmoet sy 'n man wat die moeite werd is om haar ryper jare mee deur te bring? Sy probeer nuwe klere, jonger geselskap en klubs, maar dis 'n klaaglike gesukkel. Tot haar vriendin Myriam (Rossy de Palma) haar 'n behoorlike liefdesteleurstelling toewens … Ewe gou blink Odile se oë oor 'n begeerlike man (en hoe!), maar Kader (Jean-Pierre Martins) is half Turks, half Andalusies, heelwat jonger as sy, en bedryf 'n pretpark saam met sy familie. Nou nie wat Odile se vriende of haar dogter sou beskryf as die ideale man vir haar nie, en soos 'n regte verliefde tiener begin Odile 'n geheime dubbele lewe lei. En net om te wys dat 'n mens nie speel met 'n Ierse vloek nie, volg die liefdesteleurstelling toe wel … maar dis gelukkig nie die einde van die storie nie. Hierdie heerlike fliek se komiese sukses berus grootliks by die akteurs en keuse van akteurs. Chantal Lauby is beide broos en selfversekerd as die liefdesoekende Odile - viva die ouer vrou! En die uitsonderlike voorkoms en verfrissende individualiteit van die Spaanse aktrise Rossy de Palma (een van Pedro Almodovar se gunstelinge) wys 'n middelvinger vir alles en almal wat tog so veilig en vervelig getrou is aan die jongste mode. Ai-jai-jai! is al wat ek oor Jean-Pierre Martins sal sê, uit vrees vir sensuur. En Armelle Deutsch as die fraaie Marie lewer bewys van veel van die prestasie van Odile se geslag: sy is opgevoed as 'n onafhanklike, sterk jong vrou wat nie 'n feeks of wanaangepas hoef te wees om haarself te laat geld nie. Die glimlag wat Your hands on my hips ontlok, bly 'n mens by lank nadat jy die teater verlaat het.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |