![]() |
![]() |
![]() ![]() |
![]() |
![]() |
![]() Für mich gabs nur noch Fassbinder (2000)Coenraad WaltersMet: Michael Ballhaus, Irm Hermann, Juliane Lorenz; Brigitte Mira; Hanna Schygulla (almal as hulself)
Sy dokumentêr oor die beroemde Duitse filmmaker Rainer Werner Fassbinder bied n unieke blik op hierdie geniale tydgenoot van Von Praunheim. Daar is uitvoerige onderhoude gevoer met baie van die vroue wat tydens Fassbinder se kort loopbaan met hom saamgewerk het: meesal aktrises, maar ook n grimeerkunstenaar en n redigeerder. Hoewel Fassbinder gay was en dit nie juis weggesteek het nie, was hy dikwels ook passievol betrokke in sy verhoudings met hierdie sterk vroue. Hy was selfs met een van hulle getroud. Uit die onderhoude met hierdie vroue, asook met van die mans met wie hy saamgewerk het, ontwikkel n duidelike patroon: hulle was almal sterk onder die indruk van Fassbinder se genialiteit, en daarom het hulle hom sy persoonlikheid vergewe. Hy kon genadeloos en afbrekend wees, en op ander geleenthede koesterend en teer. Hy het geweet hoe om die kunstenaars rondom hom te manipuleer en om die beste uit hulle uit te haal. Die sterk emosies wat sy al te vroeë dood (aan n dwelmoordosis) by hierdie mense ontketen, selfs bykans twee dekades later, spreek boekdele omtrent die sterk emosionele band tussen regisseur en medewerkers. Die dokumentêr belig verskillende houdings ten opsigte van Fassbinder, en deur die knap redigering word n genuanseerde insig in hierdie faset van sy lewe, wat gewoonlik geïgnoreer word in besprekings van sy filmkuns, oorgedra. In sy inleidende opmerkings het Von Praunheim erken dat hy nooit werklik van Fassbinder as mens gehou het nie, al was hulle tydgenote en het hulle soortgelyke artistieke ideale gehad. Tog is die beeld wat Von Praunheim saamstel uit die insigte van die mense met wie hy onderhoude gevoer het, gebalanseerd en nugter. Dit sou interessant gewees het om meer te kon sien van Fassbinder se werk, veral wanneer n bepaalde aktrise oor n bepaalde fase van sy loopbaan gepraat het. Ongelukkig kon Von Praunheim nie toestemming bekom om snitte uit die rolprente te gebruik nie, hoewel hy enkele verfilmde onderhoude met Fassbinder self insluit. As blik op n seminale talent in die moderne Duitse en gay filmkuns word hierdie dokumentêr sterk aanbeveel. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |