|
Ignorant Fairies (2001)Coenraad Walters Met: Margherita Buy (Antonia); Stefano Accorsi (Michele); Serra Yilmaz (Serra); Andrea Renzi (Massimo); Gabriel Garko (Ernesto); Koray Candemir (Emir). Dit is eintlik moeilik om oor Ignorant Fairies te skryf: dit roer my op al die plekke en op al die maniere waarop ek geroer wil wees. En as dit vir n verandering gebeur, dan vergeef n mens dikwels meer as gewoonlik. Antonia se man Massimo sterf (in n motorongeluk so reg uit Meet Joe Black). Tussen die goed wat uit sy kantoor ontruim word, is n skildery wat sy nie ken nie. Agterop is n boodskap van Massimo se ignorant fairy- die bewoording maak dit ondubbelsinnig duidelik dat daar n buite-egtelike verhouding was. Gedryf deur die besef dat sy haar man nie werklik volledig geken het nie, gaan soek sy die Ander Vrou om die skildery terug te gee. Tot haar ontsteltenis stel sy vas die Ander was n man, Michele. Ten spyte van haar skok word sy stelselmatig betrek by hierdie alternatiewe lewe van Massimo, sodat sy selfs (onbewustelik) sy plek inneem aan tafel vir die Sondagmiddagmaal. Die proses waardeur sy in n mate ingeweef word in hierdie groep vriende se lewens, word verhaas deur haar hulp om Michele se vriend Ernesto, wat aan Vigs ly, te versorg sy werk immers in n Vigs-kliniek. Haar verwerking van haar hartseer, ontnugtering en skok verloop egter nie heeltemal so eenvoudig nie, deels omdat sy moet aanvaar dat n ander persoon aan haar voorheen totaal onbekend ewe hartseer as sy is oor Massimo se dood. Uit hierdie konflik leer die karakters en die kykers ewe veel. Watter soort verhaal het ons hier? Die gegewens laat dit soos n tragedie lyk, maar daarvoor is die toon te lig en warm en hoopvol. Antonia se verdiepende betrokkenheid by die alternatiewe groep vriende (gays, transseksuele, Turke, Vigslyers) en die situasies wat hierdeur veroorsaak word, wil-wil komies raak, maar die oorsaak van hierdie betrokkenheid laat hartseer en woede té na aan die oppervlak lê. Antonia se verhouding met Michele en later ook met Emir laat vonkies romanse opspat, maar dié verflou gou weer. Wesentlik lyk Ignorant Fairies vir my soos n Romanse met die Lewe. Kykers wat ook Ozpetek se vorige wegholsukses Hamam (Turkish bath) gesien het, sal weet hoe eenders hierdie twee flieks is. In albei word n vrou geskok deur die alternatiewe lewe asook die dood van haar man. In albei kom die vernietiging van die oue ter wille van ontwikkeling ter sprake (in Ignorant Fairies bloot terloops). En van albei onthou n mens die warmte, die deernis, die liefde waarmee die karakters uitgebeeld word. Die enigste Engelstalige fliek wat ek vinnig kan onthou wat hierdie emosies in die kyker kon losmaak, was Her majesty Mrs. Brown met Judi Dench as Koningin Victoria en Billy Connolly as Mr. Brown, haar rymeester. Ek het onlangs tot die besef begin kom, en dit in ander resensies uitgespreek (sien bv Monsters, Inc) dat die vorme van liefde sonder erotiek (en miskien ook dié wat dit insluit) dikwels sentimenteel is. Diegene wat dit wil ontken, sal moet werk met erg verskraalde menslikheid. In n prent soos Ignorant Fairies is dit dus onmoontlik om die sentiment in die komplekse verhouding tussen Antonia en Michele te vermy. Indien Ozpetek dit totaal sou uitsny, sou die uitbeelding daarvan oneerlik gewees het. Gelukkig dat hy egter nie bloot op die sentimentele fokus nie, maar ook die intensiteit van negatiewe emosies en die makabere humor daarvan uitlig. Die grasie waarmee Buy en Accorsi hul karakters uitbeeld, is sprekend. Buy speel met minimale gesigspel, maar jy weet feitlik altyd presies hoe sy voel. Voorts is albei akteurs aantreklik sonder om skouspelagtig te wees; deur die deernis wat hulle verwek, word hulle egter pragtig! Sommige kykers sal sekerlik swaar sluk aan hierdie verhaal. Hulle mag maar in vrede heengaan. Ek bly staan by my openingstelling, en voeg daarby: dis hierdie soort fliek wat die lewe die moeite werd maak. Dankie tog ook dat dit in die outentieke tale (Italiaans en Turks) gemaak is wat tot n oortuigende werklikheidsbeeld bydra. Gaan kyk na Ignorant Fairies. Laat sak jou skanse en waag dit om geroer te word. In ons dag en tyd is so iets broodnodig. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |