|
DrumSuzette MyburghSpelers: Taye Diggs, Moshidi Motshegwa, Gabriel Mann, Jason
Flemyng, Tumisho Masha "Suid-Afrika het nog soveel stories wat vertel moet word" is een van die versugtinge wat dikwels gehoor word wanneer dit gaan oor die bevordering en uitbouing van ons plaaslike rolprentbedryf. Inderdaad, en Drum is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Heelparty onlangse films fokus op die nadraai van die apartheidsera eerder as die tydperk self, soos Forgiveness, Red Dust en die pas vrygestelde In my country. 'n Paar jaar gelede het die uitstekende dokumentêr Amandla! 'n goeie oorsig oor die hele apartheidst(r)yd gegee, maar 'n mens het gelukkig uit die teater gestap, want jy het 1994 sien aanbreek. Drum neem jou terug na die vroeë jare van apartheid, en dis 'n harde herinnering aan daardie wrede werklikheid. Wanneer die fliek in 1955 begin, is apartheid in volle gang én het die werklike implikasies van hierdie onderdrukkende beleid genoeg begin blyk dat swart weerstand momentum begin kry. In hierdie verband figureer 'n jong Nelson Mandela taamlik sterk vanaf die openingstoneel. Wat Drum 'n suksesvolle film maak, is die fokus op die persoonlike en die menslike. Hoewel die historiese gegewe as die wye en immer bepalende agterdoek gebruik word, word die kyker volledig betrek by die lotgevalle van enkele karakters. Die verhaal sentreer om die kleurryke hoofkarakter, die joernalis Henry Nxumalo (Taye Diggs). Hy is die sportskrywer vir die Engelsman Jim Bailey (Jason Flemyng) se tydskrif Drum, wat ingestel is op vermaak vir swart lesers. Nxumalo tel baie van sy stories in Sophiatown se sjebiens en nagtelike uithangplekke op (te midde van sy affair met 'n destydse sangsensasie, gespeel deur Bonnie Mbuli) en hy leef so flambojant en défaitisties as kan kom. Een van sy en sy drinkebroers se gevleuelde uitsprake is: "Drink and be merry! Die young and be a good-looking corpse!" In navolging van sy redakteur regverdig Nxumalo die tydskrif se uitgangspunt dat hul lesers te midde van hul armoedige sukkelbestaan ontvlugting nodig het. Totdat sy vrou, Florence (Moshidi Motshegwa), hom uitdaag om méér as net 'n nar in 'n netjiese pak te wees wat 'n wit man nog ryker maak. Jy het 'n besondere stem, sê sy vir hom, laat jou stem hoor oor dit wat werklik aangaan. So begin Nxumalo se "politieke" betrokkenheid. Hy begin stories by die gewone mense optel, en in die een na die ander artikel word verskillende fasette van apartheid belig: swart werkers wat soos slawe op 'n boer se plaas in Bethal aangehou word; die omstandighede in tronke; swart eiendomsbesitters wat hul eiendom ontneem word; die regering se planne om Sophiatown te vernietig. Onontbeerlik vir die sukses van Nxumalo se stories is die foto's van die jong Duitse fotograaf Jurgen Schadeberg (Gabriel Mann). Aanvanklik is dit moeilik om Bailey te oorreed om 'n ander rigting in te slaan met die tydskrif, maar toe hy sien watter invloed Nxumalo se ondersoekende joernalistiek op die verkoopsyfers het, is die stryd gewen. 'n Universele punt wat gemaak word, is die hoë prys wat mense moet betaal vir hul betrokkenheid teen onreg. Waar Florence aanvanklik vir Henry aangemoedig het om sy oogklappe af te haal, wil sy hom uiteindelik probeer terughou toe sy betrokkenheid al gevaarliker raak. Aan die een kant staan die lot van miljoene mense wat ly, aan die ander kant die veiligheid en geluk van sy vrou en kinders. Die Amerikaanse akteur Taye Diggs in die rol van Henry Nxumalo opper dieselfde vraag as Juliette Binoche as 'n Afrikanervrou in In my country: wérk dit? Die antwoord is ja en nee. Diggs, 'n knap akteur, oortuig as 'n sjarmante en flambojante karakter, maar nie werklik as 'n Suid-Afrikaner nie, daarvoor is sy gelaatstrekke en aksent net te anders. Dis veral as jy hom vergelyk met akteurs soos Tumisho Masha as Can Themba en die bendebaas Slim ('n uitstaande vertolking deur hierdie akteur, van wie ek ongelukkig nie die naam kon kry nie) dat daar egtheid kort. (Ook Gabriel Mann as Jurgen Schadeberg kom erg on-Duits voor.) Tog het 'n mens simpatie met rolprentmakers wat hul werk vir eenogige Amerika aanvaarbaar wil maak - sekerlik lei die finansiële sukses van een film tot die belegging in 'n volgende film. Drum is nie 'n gemaklike (wit) kyk-ervaring nie, maar dis een van daardie stories van ons wye en droewe land wat eenvoudig gehoor móét word. Hoede af vir regisseur Zola Maseko.
Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |