FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Dr T and the women

Suzette Kotzé

Spelers: Richard Gere, Helen Hunt, Farrah Fawcett, Kate Hudson, Tara Reid, Liv Tyler
Regisseur: Robert Altman

Van Robert Altman kan jy katnaels verwag, selfs al trek hy pelshandskoentjies aan. Met Dr T and the women skep hy ’n satiriese wêreld waarin vroue die botoon voer — en dis pure hel om in dié verstikkende estrogeenwolk te leef.

Dr T (Richard Gere), voorste ginekoloog in Dallas, is ’n man tweeduisend. Hy is reeds daar waarheen die meeste van die manlike bevolking (hopelik) oppad is. Die vroue stroom na sy praktyk, want hy is sensitief en hy verstáán vroue so goed, en boonop is hy nog uiters aantreklik ook. By die huis versorg en vertroetel hy die vroue in sy lewe net so toegewyd: sy pragtige blonde vrou, Kate (Farrah Fawcett), en sy pragtige blonde dogters, Dee Dee (Kate Hudson) en Connie (Tara Reid). En nog nooit één keer het hy, met al daardie pragtige vroue wat so op sy ondersoektafel lê, dit eens oorweeg om sy vrou te verneuk nie.

Nie dat al hierdie sorgsaamheid en sensitiwiteit hom sy manlikheid ontneem het nie. O nee, tydens die jaguitstappies saam met sy drie vriende is hy die onbetwiste leier en beste skut, en op die gholfbaan skort daar niks met sy voorgee nie. Al waaraan hy nie meedoen saam met die manne nie is die onsmaaklike grappies en skuins verwysings na vroue. Hulle het duidelik nog ’n hele paar sporte om te klim op die evolusieleer — die een se vrou is Dr T se mees neurotiese pasiënt, die ander s’n is ’n kettingrokende feminis vir wie Dr T ondersteun in haar veldtog om ’n belangrike hoofweg na ’n vrou te laat hernoem. Want hulle chauvinistiese macho mans ondersteun hulle nie, sien.

Alles is egter nie so wel in die Travisse se perfekte wêreld soos dit op die oog af lyk nie. Dis al ’n hele rukkie dat mev T nie te wel is nie, en terwyl sy en die dogters na Tiffany’s gaan om Dee Dee se trougeskenkelys te finaliseer, dwaal sy af en beland uiteindelik poedelkaal in ’n fontein in die winkelsentrum (reg voor ’n winkel met die naam Godiva’s). Sy word gehospitaliseer en die prognose lyk nie goed nie: sy ly blykbaar aan die nuut ontdekte Hestia-kompleks, ’n moderne siekte van vroue wat van alles té veel het, ook huislike geluk en die liefde en versorging van hul man. Nog ’n krisis ontwikkel toe Dee Dee besluit om haar vriendin Marilyn (Liv Tyler) van Houston te laat kom om strooimeisie te wees. Connie is heftig gekant daarteen vir redes van haar eie, maar is dit nie maar net susterlike jaloesie nie?

Tussen alles deur ontmoet Dr T vir Bree Davis (Helen Hunt), die nuwe hulpafrigter by die gholfklub. En Bree is — dankie tog! — net so anders as die gepamperlangde, oorversierde, opgesmukte vroue wat elke uur van die dag sy aandag opeis. Sy is bevry en onafhanklik, dra praktiese, gemaklike skoene en steur haar nie veel aan ’n optooiery nie.

Hoe die film verder ontvou, deur krisis en ontnugtering tot by sy verlossende einde, gaan ek nie verklap nie, maar dis ’n wipwaentjierit wat die merk dra van ’n meester-filmmaker. Die onlangse What women want het jammerlik gefaal om ’n ordentlike ontleding te gee van die huidige stand van die geslagspolitiek. Dit het rondgeflap tussen moderne tydskrifidees oor bevryde mans en vroue en het skaars geweet watter punt dit probeer tuisbring. Nie Dr T and the women nie. Altman weet presies wat hy wil sê, en hy sê dit sonder om doekies om te draai, van die ginekologiese ondersoek in die openingstoneel tot die grafiese geboortetoneel aan die einde. Die prent wat hy skep van ’n wêreld wat deur vroue, of op die vroulike manier dan, beheer word, is nie ’n positiewe een nie, en hy wys vroue in al hulle tipes en argetipes.

Die film is subtiel en nie hoofstroomvermaak nie, en dis satiries eerder as humoristies, maar Altman-aanhangers sal hulle verkneukel. Gaan kyk gerus!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.