|
Thirteen Conversations about One ThingCoenraad Walters Met: Matthew McConaughey, David Connelly, John Turturro, Clea DuVall, Amy Irving, Alan Arkin In n onlangse bespreking van Pierré Uys se boek Om liefde te score het ek tot die gevolgtrekking gekom dat seks en die dood die twee groot oorblywende temas is. Vriend Izak het my sagkens laat verstaan dat ek omstreeks vyf duisend jaar agter is. Lees die ou Griekse tragedies en die Bybel, dan weet jy, sê hy. En hier kom die susters Sprecher en slaan ons altwee vir n ses. Hulle one thing is geluk, daardie mooi kofferwoord wat jy in Engels met happiness en met luck kan vertaal. Albei hierdie betekenisse resoneer deur die dertien segmente van die film, netjies afgebaken deur hoofstukopskrifte. Elke gedeelte bekyk hierdie sentrale tema. Die verhaal is van die Short Cuts-soort: n klompie mense se lewens raak toevallig aan mekaar. Troy (McConaughey) is n prokureur wat een aand n jong meisie (DuVall) omry en spore maak. Sy gelukkige lewe stort ineen. Die meisie, Beatrice, wat huise skoonmaak vir n lewe, moet ook haar lewe in heroorweging neem. n Dosent genaamd Walker (Turturro) besluit om uit die groef van sy lewe te breek en verlaat sy vrou (Irving), maar nie noodwendig vir sy minnares nie. Seks en die dood speel dus piepklein kameerolletjies, maar trek nie aandag af van die sentrale gegewe nie. In n kantoor moet die kantoorbaas Gene (Arkin) en sy werkers die onverstoorbare blymoedigheid van Owen (Connelly) deurstaan. Selfs wanneer hy afgedank word, sien Owen die silwer randjie aan die donker wolk. n Kollega wen miljoene in die lotery n ander vorm van geluk wat in die mengsel ingeroer word. Sprecher slaag daarin om die filosofiese aard van die draaiboek oortuigend te verfilm. Net enkele kere (gesprekke tussen Beatrice en haar vriendin) dreig die gegewe om té praterig of prekerig te word, maar word vaardig teruggevoer na die storiespoor. Die donker toonkleur van die verfilming laat die gebeure ernstiger voorkom as normaalweg, maar pas by die bespiegelende aard van die film. Die toneelspel is ook heel knap, maar donker: geluk is n ernstige saak! Daar was die afgelope ruk n hele paar sulke Short Cuts-agtige prente. Thirteen Conversations … herinner onder meer aan die hipervreemde Sweedse werk Songs from the Second Story, maar maak heeltemal sin en is nie naastenby so eksperimenteel nie. Ook herinner dit aan Things you can tell just by looking at her, asook The Safety of Objects, wat ook nou draai. Thirteen Conversations … maak egter n veel hegter indruk as laasgenoemde en word sterker aanbeveel. Ek sien uit na die volgende produk van die Sprecher-susters: mag hulle voortgaan om aksiomas te ondergrawe! |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |