|
Callas ForeverSuzette MyburghSpelers: Fanny Ardant, Jeremy Irons, Joan Plowright, Jay Rodan, Justino Diaz Maria Callas word algemeen beskou as die beste operasopraan van die twintigste eeu, n legende in haar tyd, en haar nalatenskap leef steeds voort in haar opnames. Maar om die glorie te behou, om dit nie te hoef afstaan aan daardie groot sloper Tyd nie (met apologie aan Charles Fryer) dáár lê die versugting van hierdie film. Volgens die tydskrif Film Finesse is regisseur Franco Zeffirelli, wat in heelparty produksies saam met Callas gewerk het en n goeie vriend van haar was, ná haar dood telkemale genader om n fliek oor haar te maak. Hy het aanhou weier totdat hy die idee gekry het om n fiktiewe weergawe van die laaste vier maande van haar lewe te maak. Met dié film maak Zeffirelli dus n baie persoonlike verklaring, en dis nie moeilik om te vermoed dat hy heelwat van homself in die rol van Larry Kelly geplaas het nie. Kelly (Jeremy Irons) is n nogal lank in die tand vervaardiger-regisseur wat bygebly het. Dis 1977, hy dra n hippieponiestert (hoewel erg grys) en is die promotor van n rockgroep, Bad Dreams dié film oor n operaster open met n dawerende rocknommer! Kelly arriveer in Parys om voor te berei vir n Bad Dreams-konsert, maar hy het n kaart in sy mou n projekidee wat hy aan Callas (gespeel deur Fanny Ardant) wil voorlê. Aanvanklik weier sy om hom te sien. Die 54-jarige voormalige ster het haar teruggetrek in haar woonstel en ontvang niemand meer nie. Sy bring haar dae deur met die luister na haar vroeëre opnames, en met verlangend staar na n foto van Ari Onassis, en verder sluk sy pille by die hande vol. Kelly kry dit uiteindelik tog reg om sy voorstel aan haar te verduidelik: met behulp van die moderne tegnologie kan n videoreeks van haar bekendste operas gemaak word waarin sy die mondbewegings maak, maar haar beste sangopnames van vroeër word met die beeld gesinchroniseer. Die kyker sal dus Callas hoor én Callas sien, twee verskillende eras saamgevoeg in een. Só sal n hele nuwe geslag bewonderaars, wat nooit die voorreg had om haar op die verhoog te sien nie, Callas kan beleef. En natuurlik sal haar plateverkope die hoogte inskiet. Ná haar aanvanklike teenkanting stem Callas tog in tot die projek. Daar word besluit dat Carmen die eerste in die videoreeks sal wees, aangesien sy opnames daarvan gemaak het, maar dit nooit op die verhoog vertolk het nie. Spoedig is Callas net so begeester soos die res van die span en die harde werk aan die produksie begin. Callas word n stralende Carmen en die eindresultaat is n reusesukses. Om meer as dit te sê, sal te veel van die film verklap (n wenk: moenie die beskrywing in Film Finesse lees as jy wel beplan om dit te gaan kyk nie). Hoewel bogenoemde gebeure in 1977 geplaas word om chronologies korrek te wees ten opsigte van Callas se dood, is die wêreldbeskouing veel eerder dié van 2004. Dit wil sê, n (post-) postmoderne wêreld waarin die grense tussen werklikheid en skyn vervaag het. Die kyker van 2004 verwag nie regtig meer die integriteit waarvan Callas later in die fliek praat nie, en is heel gelukkig met kunstenaars en kuns waar slim verpakking instaan vir werklike talent en oorspronklikheid. As dié soort opset jou laat gril, moenie die fliek daarom vermy nie Zeffirelli laat sluit dit op n fyn, egte en uiters bevredigende manier wat sy reputasie as gevierde regisseur gestand doen. Én hy laat jou nadink oor ouderdom en verganklikheid en die verliese wat dit meebring, sowel as die feit dat groot talent ook n groot prys dra. Die pluspunte van die film is Irons en Ardant se skitterspel, en natuurlik om Callas se wonderskone stem te hoor. Larry se skoorderige vriendskap met die veteraanjoernalis Sarah Keller (Joan Plowright) en sy liefdesverhouding met die jong kunstenaar en Callas-bewonderaar Michael (Jay Rodan) was na my smaak n bietjie gekunsteld. Desnieteenstaande is Callas Forever beslis die kyk werd.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |