|
Boys & GirlsSuzette KotzéRegisseur: Robert Iscove
Jennifer (Claire Forlani) en Ryan (Freddie Prinze Jr) ontmoet die eerste keer as twaalfjariges wanneer hulle langs mekaar in n vliegtuig beland (hulle eindig ook in n vliegtuig, wat n aangename sirkelmotief sou gewees het as dit nie so geyk aangebied was nie). Hulle kliek nie, want hulle is net te verskillend. Hy is metodies en het alles uitgewerk en netjies opgesom in langtermynplanne. Sy is impulsief en oomblik-gerig, en wil onder geen omstandighede vasgevang word nie. Hulle ontmoet weer vier jaar later, hulle kliek nog nie, en dan weer as eerstejaars by Berkeley-Universiteit. Nadat beide afgesê word deur hul onderskeie geliefdes, begin hulle stadigaan vriende raak. Tot hulle uiteindelik beste vriende is wat heelwat tyd saam deurbring. Hulle deel mekaar se hartsake en liefdesteleurstellings (waarvan Jennifer meer het as die versigtige en hardwerkende Ryan hy is die enigste een wat ooit optree asof hy op universiteit is en eksamens het wat geslaag moet word). Dan is daar ook nog hul onderskeie kamermaats. Ryan sn is Hunter (Jason Biggs), wat bitterlik op soek is na homself dit blyk uiteindelik dat hy eintlik doodgewone Steve van n doodgewone middelklasgesin in n doodgewone middelklasbuurt is. Maar hy wroeg eers vreeslik voor hy homself vind en nie meer die hele tyd stories opmaak waarmee hy die meisies (tevergeefs) probeer beïndruk nie. Jennifer se kammie is die popgesiggie Amy (Monica Arnold), wat konstant haar terapeut se woorde aanhaal en verder nie veel oorspronkliks te sê het nie. (Die regisseur werk ook vlugtig n moontlike homoseksuele belangstelling in as deel van die tipiese formule, dié keer darem lesbies ter wille van variasie.) Die lang, uitgerekte Jennifer-en-Ryan-sage kom tot n punt toe hulle een aand heel onbeplan meegevoer word deur n romantiese oomblik en seks het, en net daar verbrokkel die vriendskap ook. Maar danksy die Hollywood-formule is die liefde nooit tevergeefs nie, en eind goed, alles goed. Hierdie fliek met sy twee mooi hoofkarakters behoort n ouderdomsbeperking te hê om enigiemand ouer as agtien te verbied om daarna te gaan kyk en ek hoop nie ek beledig nou die agtienjariges nie. Dis n blote tienerfliek wat hard probeer om diep te wees, maar dis helaas oppervlakkig, vervelig en oneindig geyk. Aan die ander kant, ons was eens almal twintig … n fliek soos hierdie maak mens net weer opnuut dankbaar dat die verbygaan van die jare, hoewel dit die vetrolletjies, plooitjies en grys hare bring, darem ook lewenservaring en die ontwikkeling van n eie identiteit tot gevolg het. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |