|
Billy ElliotSuzette KotzéSpelers: Jamie Bell, Julie Walters, Jamie Draven, Gary Lewis
Danksy die reklamemasjien is die storie teen hierdie tyd seker al oorbekend: Billy Elliot, n elfjarige seun uit n arm mynwerkersgesin in die noorde van Engeland, stel meer in ballet belang as in boks (en dit terwyl sy pa én sy oupa gerekende manne in die kryt was). Sonder sy pa se wete begin hy balletklasse neem by Mrs Wilkinson, maar toe dit uitkom, is sy pa woedend en verbied hom om daarmee voort te gaan. Mrs Wilkinson meen egter Billy is goed genoeg om n oudisie af te lê om toegelaat te word tot die Royal Ballet School in Londen. Intussen is sy pa en ouer broer midde-in die groot mynwerkerstaking van 1984, daars nie geld nie, en die hindernisse in Billy se pad lyk net al meer onoorkomelik. Hoewel die tema n talentvolle jongeling wat veg om bo uit te kom en sy droom te realiseer geensins nuut is nie, lê die krag van die film in sy karakters. Spesifiek in die akteurstalent van die veertienjarige Jamie Bell wat Billy vertolk. Sowat van toneelspeel by so n jong akteur het n mens lank laas gesien vergelyk byvoorbeeld die toneel waar Billy die brief van die Royal Ballet School ontvang. Dit lyk na n uitgemaakte saak dat die jongeheer Bell sy plek langs Hollywood se hardebaarde gaan inneem vir die toekenning van vanjaar se Oscars en hy sal sy fyn balletskoene vierkant kan volstaan, by wyse van spreke. Teenoor Billy se karakter staan sy pa, Jackie, ewe goed vertolk deur Gary Lewis (n pluimpie aan die persoon wat hom vir die rol gekies het). Hy is n geharde mynwerker, ja, verteenwoordigend van die tipiese macho man, maar die kyker het ook deurgaans simpatie vir sy stryd om oorlewing in n ongenaakbare ekonomiese realiteit. Die Elliot-driemanskap word voltooi deur Billy se ouer broer, Tony, knap vertolk deur Jamie Draven. Dan is daar Julie Walters as Mrs Wilkinson, wat net die regte balans tussen hardgebaktheid en warmte vir haar rol handhaaf. As streng onderwyser en in die konfronterende tonele met Billy se pa vat sy gn nonsies nie, maar sy oortuig ook met n soort geharde moederlikheid teenoor Billy wat bitterlik verlang na sy ma wat onlangs dood is. Behalwe die uitstekende toneelspel en n regisseur wat sorg dat die karakters deurgaans oortuig in die situasies wat geskep word, slaag die film omdat dit nie sentimenteel is nie. Dit val ook nie in die ander slaggat van nog n snikstorie oor die arme arm Iere nie (die stukkies Ierse humor wat deurkom, is heerlik). Daarby is die slottoneel perfek. n Mens kan hier en daar kritiek lewer (die toneel op die ferrie waar Mrs Wilkinson vir Billy die storie van Swanemeer vertel, byvoorbeeld, lei nêrens heen nie en die danstonele wissel in gehalte), maar jy wil nie regtig nie, want sulke eerlike, opregte flieks oor gewone mense se lief en leed is te skaars in die hoofstroomkategorie. Gaan kyk en geniet! Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |