|
The center of the world (2001)Coenraad Walters Met: Peter Sarsgaard, Molly Parker Wanneer n mens met een oogopslag die Statue of Liberty, die Eiffel-toring en die Groot Piramide van Egipte kan sien, kan jy net op een plek op aarde wees: Las Vegas. Maar hierdie befaamde dobbelstad is nie die middelpunt van die wêreld nie om uit te vind wat wel is, moet n mens n hele ent ver ry met hierdie emosionele tuimeltreinverhaal. Richard Longman (Sarsgaard) ontmoet Florence (Molly Parker) in n koffiewinkel. Hy het ongelooflik baie geld verdien met internet-sake, en hy is nou verward en verveeld met sy lewe. Hy soek, in rekenaarterme gepraat, na skin: werklike kontak met werklike mense. Florence fassineer hom en hulle raak aan die gesels. Hy kom agter haar roeping is om tromme te speel in n band, maar haar beroep is dié van n ontkleedanseres. Wanneer hy haar uitnooi om n naweek in Las Vegas deur te bring, is sy onseker oor hoe sy hierdie aandag moet interpreteer. Sy lê dan baie streng reëls neer oor wat mag en wat nie mag nie. Die naweek begin baie goed, en selfs wanneer hulle n ou kennis van hom raakloop, improviseer sy n nuwe rol vir haar wonderlik oortuigend (kamma as sy sakevennoot). Dis in hierdie gesprek dat sy die uitspraak oor die middelpunt van die mens se wêreld maak: dis daardie deel van die vroulike anatomie waaruit ons almal gebore word. Soos hulle haar reëls een vir een begin oortree, raak die situasie al hoe ingewikkelder en is n donker, diepsinnige besinning oor die rol wat seks in mense se lewens speel, die gevolg. In sekere opsigte herinner Center of the world aan Pretty woman, nie alleen weens die verhaal self nie, maar veral weens n bepaalde sin in die dialoog: in albei films sê die man aan die vrou dat hy haar nog nooit soos n prostituut behandel het nie. Maar in Center is al die oppervlakkige glans gestroop. Die hele verhaal is trouens gestroop: net die allernodigste word gewys, en selfs die sekstonele, in hul rou eerlikheid, is geïntegreer en help om die storie voort te stu. Die glans van sterre soos Gere en Roberts verlig nie die skerm nie Sarsgaard en Parker speel hul karakters met verstommende krag. Ongelukkig word meer klem gelê op Richard; derhalwe is die psigologiese motivering agter Florence se karakter onduidelik. Hoewel Center of the world geensins n maklike, aangename fliek is nie, en eintlik in sy donkerheid heel ontstellend kan wees, kan dit aanbeveel word vir fliekvlooie wat deur die onderwerp aangespreek word en van n ernstige argument-fliek hou. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |