|
|
LiesbetRiëtha Zondagh (1998)Liesbet het ‘n meevaller gekry en kom met die massiewe bondel somersrokke hier ingestap. “O! Liesbet, jy het só baie klere, jy kan nou hiervan vir die armes gee.” “Die armes? Ja, Mies ... die armes.” Sy praat saggies en kyk nie
in my oë nie. Sy sou skool toe gegaan het om te leer lees, maar toe sy ‘n paar woorde kon skryf, het sy die klasse laat vaar. Sy sê hoe meer mense leer, hoe slegter word hulle. Ek dink die skryf het iets in haar wese laat gebeur wat haar gehinder het. Liesbet het toe nooit ‘n ding geleer uit wat ek haar alles vertel het
van die Bybel of enigiets nie. Diep in haar siel ken sy net dankbaarheid vir
alles wat sy van kleins af (en van nature) ontvang het. Gee ken sy glad nie.
Sy kan nie sien of dit reg óf verkeerd is om te gee nie. Maar dankbaarheid
vir ontvang het sy vervolmaak. Dis dalk die groter gawe.
Liesbet (woord vir woord op my erewoord)Riëtha Zondagh (1997)“Mies, jy weet wat vertel Gretha my. Miesies, ek praat waarheid. Daai ander ousie by Zonkisizwe, sy man hy't haar baie gaslat. Hy was baie sleg mies. Nou Gretha hy sê daai ousie laas week gaan sy "wish doctor" toe. Hy sê sy moenie worry nie. Toe sy bataal hom. Nou, by hierie weekend … Miesies, ek bang nou Miesies. Jy weet wat sê daai ousie. ‘Vrydag se aand daai sleg man hy sê vir die vrou hy gaan was. Hy sluit die deur van die zozo waar hy bad. Maar hy bly lank tyd weg. Later sy gaan kry die ander djong mans en hulle breek daai deur. Miesies, toe in daai bad die man is weg. Net die gróót slam hy lê in daai bad. Miesies ek lieg nie. Dis daai man gewees wat die slam geword het, hulle toor hom, Mies. Toe hulle los daai man, wat nou hy's die slam, in daai bad en hulle roep die polies. Toe die polies, hulle vat daai gróót slam en sit hom in die vangwa. Daai ousie sê vir die polies hulle moet hom vat want hy't haar baie geslat en sleg behandel. Hy's ‘n groot tsotsi, daai een. “Miesies, toe daai polies, hulle vat maar daai slam na die diertuin daar anderkant. Nou hy es daar by die ander slamme. Ek sal jou daai man gaan wys Mies. Ek praat nie kak nie Miesies. Hulle kyk nou na hom daar by daai diertuin. Nou daai vrou sy't niks meer die worries nie.” Die uitdrukking op my gesig het Liesbet seergemaak. Sy’t ‘n klikgeluid
gemaak, omgedraai en van my weggestap. Ek het so sleg gevoel, want sy was ten
volle oortuig.
TinaRiëtha Zondagh (1996)Tina het een aand per ongeluk 'n pinkiepunt-grootte spinnekoppie ingesluk toe sy in die nag 'n hoesie kry en die koppie water wat sy altyd langs haar bed hou, voor haar mond sit. Sy het gevoel hoe die stukkie gekoekte hare (dit hét kompleet so gevoel) verskriklik teësinnig in haar keel afgaan. Toe voel sy dit stry teen die wande van haar keel. Sy het onmiddellik opgestaan. Die wasbak was die naaste en sy het daarin begin braak; toe sien sy die grys spinnekop pap en verslenter in die bak. Van daardie dag af was Tina nie weer dieselfde nie. Sy huil vir alles. Sy eet
ook sleg. En as daar in geselskap van iets onaardigs gepraat word, loop die
trane. Sy't 'n nuwe liefde vir mense ontwikkel – sy huil so maklik. Al
haar senupunte lê styfgespan onder die vel en om haar hart. Sy voel geroepe
om ander te help. Die maag bly vaagweg omgekrap en sy ruk maklik op. Sy huil
partykeer as sy in die kombuis staan en kos maak.
Shadrag die teëlaarRiëtha ZondaghShadrag was een van die konstruksiewerkers toe ons op ‘n keer ons huis laat opknap het. Hy was verantwoordelik vir al die teëlwerk – my missie, soos altyd, om die man bekeer te kry. Ek vermoed egter my ewige drang om te gesels was die vernaamste motivering vir my samesyn met diegene wat hulself in my teenwoordigheid bevind het. Van Shadrag het ek omtrent geen terugvoering gekry nie en hoe meer hy in stilte voortgeteël het, hoe spraaksamer het ek geword, totdat die man op ‘n dag sy gereedskap neersit, sy hande aan sy broeksakke afvee, en my in my oë kyk. “Miesies, ek is ook ‘n kind van die Bible. My twee boeties in die
Bible is Meshag en Abednigo. Daar innie Bible het ‘n man ons drie boeties
in die oond gegooi waar ‘n groot vuur in gebrand het. Maar daai vuur hy
maak ons fokkol. Miesies, jy kan my niks leer van daai boek nie. Ek en my twee
boeties, ons was orraait daai tyd.”
LitNet: 08 Augustus 2005 Wil jy reageer op hierdie kort verhale? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |