|
|
LangspelerWillem de VriesEers was daar die werk by n radiostasie vir klassieke musiek. Toe was daar n egskeiding en daarna die ineenstorting. Oor waar hy nou is en wanneer hy hier aangekom het, onthou hy nie veel nie. Als is n gelamineerde herinnering, fotos tussen hom en gevoelens. In die laatmiddag het die lug al verweer en die sonstrale belig die wolke wat deur die yl blou uitbol. Hy het wakker geskrik van plate wat van hoog af val en opspat teen die ruite. Dit het hom treurig gestem. Terug in die slaap het hy verward gesien sy pad verbleik en verdwyn. Hy loop in wit rond, sonder om te weet of hy langs n afgrond is. Als te wit. Dan verskyn n lang dun swart spleet voor hom. Eensklaps is dit donker. Dit is pikgitstil. Hy voel wande dun karton. n Geruis klink op om hom, maar dit bly donker. Nog voordat die ander vroegoggend wakker word en met koffie skuifelend gaan sit, is hy buite by een van die tafeltjies en kyk hoe die duiwe blitsvinnig krummels tussen skerfies oppik. n Deuntjie draal deur sy kop en los dan op in die warmer wordende oggend op die stoep vol blomgeure. Tevore was die bougainvillea aan die rand van die stoep mooi. Mooi op die manier wat jy dit van muurpapier verwag of van die omslag van n langspeelplaat. Die pers bos het nou dreigend geword. As die bye in die skadus zoem, laai dit met elektrisiteit. Maar niks gebeur nie. Hy kan hierdie angs nie langer verdra nie. Hy gaan binnetoe. Dan en wan skakel hy die televisie aan. Soms laat hy die gehekelde doek oor die TV hang. Kyk na die TV. Die mense se hande en arms bo die nuusdiens se logo-balk, die klank afgedraai. Soms lyk dit of die hande spartel of dartel; soms rus die arms op die tafel soos rekwisiete. Ander kere los hy die TV af, dan is die dowwe groen glas rokerige smarag, soos n uitgediende kristalbal. Die dae het vir hom n snoer pêrels geword: rond en tydloos, flets en flitsend. Vroue kom besoek hom. In die son is hul netjiese hare wit. Die bloese steek kalkagtig teen hul vel af. Hulle rompe fluister waar hulle ook al loop. n Koppie tee en gemeenplase. Nadat hulle tot siens gesê en vertrek het na n ander deel van die kompleks, gaan staan hy by n oop venster. Hoe meer hy na die bos kyk, des te meer word die stroom in die are van die plant hoorbaar. Hy sukkel om saans te gaan slaap en skrik soggens vroeg wakker. Dit is warm in die kamer maar hy gaan nie na buite nie. Die bougainvillea is vol skadus en nog gehul in n kombers stilte. Die slaap is vinnig op hom en hy begin droom. n Vrou, amper bekend, staan voor hom. Dit is baie koud. Die vertrek het n hoë plafon. Die kamer lyk soos n kerk waarvan al die banke opgeveil is. Deur n hoë venstertjie in n reuse-raam sweef die koer van duiwe na benede. n Gerusstellende geluid, oor en oor asof dit n plaat is wat vashaak. Jy sê dit om jouself te vermaak. Jy hou van sinne en situasies wat die idee van n afgrond vir jou wek, iets om van af te spring. Jy sal ook dinge sê soos dat jy vir altyd by my sal bly, omdat jy weet so iets kan bedoel word, maar dat veranderings nie teen mense gehou word nie. Jy vertel n leuen. Sulke woorde. Jy hou van histrioniese gebare om vir jouself te sê nou voel ek weer die lewe. Hy herhaal al hierdie dinge, sonder om te voel hy bedoel dit of dat hy werklik met iemand praat. Haar oë flits in die sonlig en maak iets in hom wakker. In die droom voel hy hoe sy hom laat vermurwe. En al hoe feller skyn die son. Hy moet sy oë toemaak. Dit voel of sy vel gloei van die hitte. Haar gesig is teen syne en hy maak sy oë oop voordat hy haar soen. n Rukkie lank is als blou, voordat die kleure weer terugstroom. Hy neurie iets. Hy onthou die naam. Red lips kiss my blues away. Hy word wakker. Die stilte om hom druis. Die klank van n grammofoon tussen snitte. Die volgende snit begin nie. Die stilte speel aan en aan.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |