NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Willem de Vries is gebore in Durban. Hy het klas geloop by die Kaapse Technikon en die destydse Blou Okapi-koffiewinkel in die Eikestad. Hy was ’n kort tydjie ’n vryskut in Tafelberg en Human & Rousseau se bemarkingsafdeling. Tans is hy in Die Burger se redaksie. Hy geniet vakansies in Ladismith in die Klein Karoo. Baie.   Willem de Vries

Tussentyd

(Omgewing II)

Willem de Vries

Watter mens is dan daarteen bestand? Die reuk van gemaalde koffiebone in ’n smal kamer van ’n koffiehuis wat uitkyk op ’n plein, die bome waarvan die meeste blare al afgeroes het. Haar hare wat immerherfs is. Die dag was koel en jakkals trou met wolf se vrou.

Hy kan haar nie onthou sonder om haar stem te hoor nie, haar frases en mantras van “al genade, ai genade”. Gewone woorde wat inkantasies word. Is mens by magte om towerspreuke, veral in alledaagse taal, teen te gaan? Sy het hom daardie dag half verwonderd, en met meer as net ’n bietjie verrasde spot, die hertog van hartstog genoem. Hy’t gegrinnik, maar ontkom die naamgewing nie. In die weke daarop neurie die wasmasjien se tuimelsiklus dit, op straat sê bergies dit tussen die stringe ander goed in hul monoloë in die verbygaan.

Sy het egter van hom weggegly en die hartstog het omgesit in melankolie. Norma kon egter help. Hulle’t nooit oor haar gepraat nie; patrone in mekaar gevind en mekaar se gewoontes toegelaat. Groewe bied genade van hoe korte duur dan ook al. Later het die gewoontes verslyt en hulle het mekaar al hoe minder opgesoek.

Met die kwynende behoefte aan geselskap, raak hy al hoe meer in homself gekeer. Hy sien, maar sien ook nie. Als klink na geykte herhaling en geskied op monotoon. Hy bou ’n weersin op in leë stoele, opgepak in toe restaurante. Dit laat hom dink aan ’n kerkhof vir gesprekke tot wanneer die deure wyd oopgegooi word en tafels en stoele die sypaadjie weer oorstroom. Te eniger ander tyd sou sy eie melodrama hom laat glimlag.

Al hoe meer het hy die gevoel hy kort iets onontbeerliks, maar wil terselfdertyd nie weet wat dit is nie. Dit voel vir hom óm hom is dinge klinies en vaal.

Hy ry see toe; parkeer die motor op die los sand op die vuurwarm teer. Eers sit hy met die vensters ’n rukkie oop dat die seelug die kar binnespoel. Hy voel hy kan sy oë toemaak en hom net daar oorgee aan die slaap. Traag klim hy uit. Hy haal diep asem en maak sy kop leeg van gedagtes.

Die lug is vandag ’n verbeelde ding, onpeilbaar en ligligblou. In die parkie op die rondomtalie is die enigste klank die geruis van die see wat wegsyg in harde sand. Die onverwagse nuutheid van dinge is oorweldigend. Die park is nie meer ’n park nie. Om hom is vreemde monumente. Die klimraam is kubusse lug opeengestapel. Terug in die motor, skakel hy die radio aan. Hy is verlig toe hy die omroeper se stem hoor.

Hy kan kwalik onthou wanneer laas hy sonder meer by iemand gaan inval het. Hy voel verdoof. Die aand gaan kyk hy ’n fliek in die oorbeligte sentrum in die hawe. Dit blyk ’n sonderlinge fliekervaring te wees. Naby aan die einde van die rolprent slaan die film aan die brand. Die toneel op die doek breek op in al hoe groter wordende borrels wit. Almal se gesigte verstar in verwondering in die skelwit lig, die onverwagse reuk van brand. Die terugkeer na die rolprentteater, die reuke, die springmielies, die mense langs mekaar.

’n Oomblik lank is hy bang die onderskrifte gaan deur die brandende film ontsnap. Hy probeer hom voorstel hoe dit sou wees as alle klank wegval en oral waar jy kyk net onderskrifte is, aan die onderkant van alles waarna jy kyk. Jy kan skree so hard jy kan, die lettertipe en -grootte bly dieselfde. Wat dan van wanneer jy gaan slaap? Rol die “rrrrrr” wat die yskas maak tussen oog en ooglid voort?

Iemand maak ’n deur oop, maak verskoning en gee almal gratis kaartjies vir ’n latere vertoning.

Hy wil nog nie onmiddellik teruggaan huis toe nie. Hy gaan drink koffie in ’n oorbeligte plekkie met op die agtergrond die klanke van ’n temende strykorkes. Bo hom sien hy ’n muurlys geldnote van verskillende lande. Die gesigte sigbaar, langs elk is syfers, amper of dit ’n bepunting is.

Hy sit aan ’n tafel oorkant ’n stroom mense wat verbymurmel. Langs hom sit ’n paartjie, hulle kyk na die mense met dieselfde uitdrukking of hulle deur ’n tydskrif blaai, om die leegte mis te kyk. Onderweg huis toe het hy die vreemde gevoel die kaartjie in sy sak flikker en verdwyn. Die son sak weg en die sterre en stadsligte word soomloos, terwyl hy aan die slaap en aan die droom raak.

Met die wakkerwordslag die volgende oggend probeer hy alles onthou wat sy in die koffiewinkel gesê het. Hy wonder wanneer haar woorde gaan ophou. Wanneer sy wil hervatkans gaan kry. Hy staan op, kyk onsiende na die houtvloer, maak ’n venster oop en in een asem verlug hy sy kop van deurleefde gedagtes.

Dis ’n yskoue wintersdag en hy kan nie anders as om eufories te voel nie. Hy stap in die laning met die kaal bome af. In die vroegoggend lyk die blare op die keistene soos opgefrommelde bladgoud. ’n Bergie mompel iets in die verbygaan, maar hy probeer nie raakhoor wat hy sê nie.

Hy draai af na ’n plek nie ver daarvandaan nie. Die restaurant kyk uit oor die nog leë pleintjie tussen die toringende geboue. Toe die kelnerin sy bestelling neerskryf, krul van haar lang swart hare oor sy een arm in ’n ragfyn kalligrafie wat hy nie kan lees nie, maar waarvan hy die betekenis verstaan. Hulle raak aan die praat en hy is verbaas met hoeveel weerlose aandag sy na sy woorde luister.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.