NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Willem de Vries
is gebore in Durban. Hy het klas geloop by die Kaapse Technikon en die destydse Blou Okapi-koffiewinkel in die Eikestad. Hy was ’n kort tydjie ’n vryskut in Tafelberg en Human & Rousseau se bemarkingsafdeling. Tans is hy in Die Burger se redaksie. Hy geniet vakansies in Ladismith in die Klein Karoo. Baie.
  naam

Sneeu

Willem de Vries

“But you know, Larry, in times when people just don’t have time anymore for friends or even family, they have to know that there are three things that will put them back on track ...”

“Dis maklik, u kyk na die skerm voor u en druk die knop as u die deuntjie herken. Kom ons val weg. Hier kom hy, nommer een.”

“En dis Idle Youth en Better Luck. Hulle is kop aan kop. Maar wag, daar breek Freelance Revenge weg, maar dis Idle Youth en Better Luck, Idle Youth en Better Luck kop aan kop, en ...”

“Current and forthcoming attractions ...”

Die videomasjien spoel die band vinnig vorentoe. Die onderste helfte van die skerm is vol sneeu. Daarbo in wit letters op ’n agtergrond van somerbloulug verskyn die boodskap oor die Directoraat en die snitte.

Maar skielik is hy baie moeg, het al te lank voor die TV gesit. Al klaar twee flieks gekyk; die een met ’n gelukkige einde, die ander met onderskrifte.

Hy trek sy oë op skrefies teen die gloed van die groot wit muur van die woonstelblok aan die ander kant van die straat. Voor die TV sit is nog meer deprimerend as om aan haar te dink.

Die laaste tyd het dit vir hom gevoel of alles grepe uit TV-programme geword het. Die laaste keer was toe sy gesug en die deur toegeklap het. Dit sou hom nie verbaas het as musiek sou begin speel en die rolverdeling teen die deur afgerol het nie.

Hy probeer aan ander dinge dink. Hy verbeel hom hy is ’n toeris in die oorbekende straat, maar kan nie aan ’n oortuigende aksent dink om mense vrae mee te vra nie. Met ’n sug stap hy die koffieplek binne. Die plek is amper vol, maar hy sien ’n sitplek by die venstertoonbank. Dis laatmiddag en hy geniet die geur van sterk Duitse koffie en klassieke musiek wat uit weggesteekte luidsprekers speel. Nie links of regs nie, loop hy na die venster en gaan sit. Hy kyk vinnig heen oor die etendes, teugendes en praters. Sy blik val ’n oomlik vas voor die TV hoog bo in ’n hoek maar dit is afgeskakel. Toe hy terugdraai, het ’n kelnerin reeds ’n spyskaart neergesit. Hy trek haar aandag en sy stap na hom. Koffie met koue melk, asseblief. Sy knik. Hy het seker ’n ruk lank gesit en staar, want die volgende ding waarvan hy bewus is, is die koppie voor hom.

Hy eet die beskuitjie en sluk stadig die koffie. Dis ’n mooi dag. Oorkant die straat is ’n breë sypaadjie met ’n reling wat die mense van die rotse skei. Die see en lug word met ’n dun potloodstreep geskei. Die koffie is sterk en hy voel wakker. Hy bestel nog ’n koppie en staar na buite. Die musiek en die stemme op die agtergrond het ’n klankbaan geword van die wêreld anderkant die ruit. Die ruit self het nou ’n reuseskerm geword.

’n Meisie stap die skerm van die een kant binne. Sy het ’n lang bruin romp aan en haar lang ligbruin hare waai eenkant toe; ’n papiersak dwarrel akrobaties verby haar. Dan verskyn daar haarfyn lyne op die skerm. Die lyne word al hoe meer, verdwyn nie, totdat die hele skerm goudgeel gloei.

Die laatmiddagson val met so ’n hoek teen die ruit dat die fynste skrapies helder is. Hy staan op en skuif die geld onder die piering in. Toe hy die deur oopmaak, skakel iemand ’n motorradio aan met die volume oopgedraai, maar tussen stasies. Hy mik in die rigting van die motor, maar kyk reg in die son in. Hy knip sy oë en kyk weg. Hy sien krioelende swart en wit spikkels en die klank van sneeu is oorverdowend.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.