NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Willem de Vries
is gebore in Durban. Hy het klas geloop by die Kaapse Technikon en die destydse Blou Okapi-koffiewinkel in die Eikestad. Hy was ’n kort tydjie ’n vryskut in Tafelberg en Human & Rousseau se bemarkingsafdeling. Tans is hy in Die Burger se redaksie. Hy geniet vakansies in Ladismith in die Klein Karoo. Baie.
  naam

Omgewing

Willem de Vries

Die sonlig weerkaats in al die geelkoperborde en -asbakkies, gooi vlekke lig teen die meubels en goud-rooi kolle teen die plafon. Deur die venster is ’n antikwariaat met ’n ou houtleunstoel aan die oorkant van die smal steeg sigbaar. Op die stoel is ’n portret van ’n jong vrou in ’n goue raam. Donker hare krul ragfyn van onder ’n sagte wit hoofbedekking tot in die skaduwee van haar nek. Die olieverf is fyn en donker.

Hy het haar lank laas gesien, maar selfs die idee om haar weer te sien, skep in hom ’n vae, algemene gevoel van verliefdheid.

Die kelnerin het raafswart hare en ’n sagte stem. Hy stel hom voor sy bly in ’n smal Victoriaanse huis met klimop. ’n Tafel staan by die skuifraamvenster op die tweede verdieping en sy drink soggens tee daar. Die res van die kamer is donker met die lig wat haar gesig af-ets teen die nog donker oggend in die vertrek. Hy kyk weg van die portret toe die kelnerin sy koffie voor hom neersit.

Toe sy by die deur instap, is haar hare dié keer korter. Haar oë nog dieselfde grysblou. Yskoue lug val by die deur in. Sy praat sag en soen hom vol op die mond. Sy het hom gebel. Dat sy hom graag weer wil sien, dit was so lank laas; sy is boonop weer in die dorp. Darem, totdat die laaste paar goed verkoop is. Mens moet darem kontak behou.

Hy kon nie die glimlag keer terwyl sy met hom praat nie. Sy weet dit het niks te make met wat sy sê nie, maar sy beantwoord nie sy glimlag regstreeks nie. Sy hou aan praat en beantwoord hom so. Gaandeweg verstil sy glimlag en hy luister na haar stem, wat sy sê. Dan glimlag hy soos herinneringe deur hom sluis. “Ek weet nie hoekom ek jou al dié dinge vertel nie. Ek weet nie meer wat my punt is nie,” sê sy in ’n stadium. Sy praat van bome met vlindervlerke vir blare. Sy praat van ’n aand so koud sy het skape van wasem in die straat laat wei. Sy verwys na ’n gemeenskaplike vriendin as “sy gifbeker en haar kruishout”.

Sy maak van die tafel waar hulle sit ’n intieme kamer van woorde, met ’n kelnerin wat deur ’n venster nou en dan verneem of hulle nog gelukkig is. Dan, êrens in die gesprek vervaag en verdwyn die kamer. Haar stem ding nou mee met die gebrom van ’n yskas, koppies wat op pierings klingel, die klokkie aan die deur.

“Ek het gedink dit sou anders wees,” sê sy. “Alles voel nog dieselfde ...”

“... maar voel nou beter, kry sin,” maak hy klaar.

Sy herhaal sy woorde, maar kyk rond vir die kelnerin. Sy wys na haar pols en sê sy moet hardloop. Hy sê hy sal nog sit en sy koppie klaarmaak, maar dis goed om haar weer te sien. Beloftes van goue weersiens word gemaak om die afskeid te verberg.

Sy waai vir hom in die stegie voordat sy wegstap. Hy salueer. Waar sy gestaan het, sien hy weer die portret. Die agtergrond is pikswart en die gesig melkwit, spookagtig. Die laatmiddaglig val die steeg binne.

Die volgende oggend drentel hy af stad toe en eindig op in dieselfde plek waar hulle die vorige dag was, asof dit toevallig kon wees. Hy gaan sit naby waar hy die vorige dag gesit het. Die oggend is loom. Hy geniet die geluide, die stemme. Hy kyk na die vertoonvenster aan die oorkant van die steeg. Die stoel is nog daar, maar die portret is weg. Elke keer dat hy terugdink aan haar gaan hy die leë stoel onthou. Dieselfde kelnerin bedien hom. Toe sy vra of alles nog in die haak is, kan hy die glimlag nie keer nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.