|
|
Lied in die nagFanie ViljoenEk staan voor die groot, wit huis en kyk na die donkerte wat agter die dowwe vensters van die gebou lê. So, dit is waar sy gebly het. Maria Greyvenstein. Maria Callas, soos die mense haar genoem het. Hulle sê as sy begin sing het, kon jy haar tot aan die onderkant van die dorp hoor. Haar stem het helder tussen die huise deurgespoel en dan het dit gaan lê in die hoekies van die stil binnekamers waar die mense saans tussen koel lakens ingekruip het om te slaap. Tja, dis háár plek hierie, sê tant Pennie agter my en sy knik so met haar kop na die leë huis. Onse dorp se eie nagtegaal. Syt mos vir die koeie ok gesing. As hulle op kalf staat, het die boere haar kom haal en dan het sy vir hulle gesing. Sót hulle nooit n koei geverloor in die jarre wat sy hier gebly het nie. Die kalfies het sommer so uitgepop, gn moeilikgeit nie. Maggies, nè. Oom Sondag, tant Pennie se man knik om haar woorde te bevestig. Watse tipe mens was sy? vra ek, want êrens moes daar meer van Maria Greyvenstein oorgebly het in die mense se onthou. O, altyd baie presentable en met haar voete plat op hierie aarde soos onse mense ma is. Dan onderbreek sy haarself vir n oomblik: Sondag, gaat jy nie oopsluit dat die meneer binne kan kyk nie? Ons stap stoep toe en tant Pennie hervat weer sommerso in die loop Ma somehow was dit of sy nie hier gehoort het nie. Asof sy bestem was vir ander dinge. Hoër dinge … Sy het mos op n keer weggegaan … sê-vra ek, Kaapstad of êrens … Ja, maar sy was gou weer terug. Party mense het gesê haar geld het opgeraak, ander het gesê dis haar drome wat opgeraak het. Niemand het regtig geweet nie. En toe sy terugkom was daar iets anders aan haar, sê oom Sondag terwyl hy die deur oopsluit. n Hartseergeit, jy weet? In haar sang én op haar gesig. Ek onthou sy het vir my ouer gelyk toe sy van die bus af klim daardie dag. Mooigeit hou mos nie n leeftyd nie. Daar lê altyd n verdoemenis op loer. n Impending doom, soos die Engelse sê? Net so, sê tant Pennie en trek aan haar trui se mou. En praat van die Ingelse, dis mos waar die trem behoorlik ontspoor het, met daardie Ingelsman wat op die dorp aangekom het. Sy naam was Julius. Tant Pennie stap vooruit die huis binne. Sag, asof sy op heilige stof loop. Eers het dit gelyk of dit net die ding was wat Maria nodig gehad het. Daar was gou n oor en weer gekuiery, en later … Tant Pennie trek weer aan haar trui. Julius was lekker losbek met sy stories van London en Maria … Ek sou nie verbaas wees as sy óók oor die water wou gaan om self al die dinge te sien nie. Die gang waar ons staan is leeg. Waar die muur en die plafon bymekaarkom dop die verf af van die klammigheid. Vertel die meneer van die konserte. Tant Pennie wys my eers die sitkamer. Dit is asof haar oë meer sien in die vertrek. Sy vee met haar vingers liggies oor die fyn rosies op die geelwordende muurpapier. As ek na die sierlike kaggel toe stap, begin sy vertel van die Sondagmiddag-konserte in die tuin voor die stadsaal. Julius het dit voorgestel om die kultuur aan te wakker onner die mense. Dit was eintlik baie lekker. Die mense het piekniekmandjies gebring en komberse op die gras voor die stadsaal oopgegooi. Maria het daar gestaan, netjies uitgevat, haar hande so voor haar gevou en haar ken effens gelig. En dan het sy haar rooie mond oopgemaak en die mooiste musiek op ons almal laat reën. Tant Pennie sug ingedagte asof sy nog Maria se stem kan hoor. Die ongemak van die stilte wat volg laat my in die vertrek rondkyk en dan val my oog op die stukkie papier wat omgekeerd in die kolemandjie by die vuurherd lê. Ek buk af en steek my hand daarnatoe uit. n Stukkie as sweef vloer toe as ek die papiertjie omdraai. Dit is die hoek van n stuk bladmusiek. Net n paar note is nog sigbaar, die res raak geleidelik dowwer en verdwyn in die fyn, swartgebrande rand van die papier. Verlore vir altyd. Op n dag het Maria begint weier om enigiets buiten Ingels te sing by die konserte, hervat tant Pennie. En die mense het begint weier om te kom luister. Sy het toe sommer ok die gesingery vir die koeie gestop. Syt gesê Julius sê sy moet haar loopbaan begin ernstig opneem. Sy moet teruggaan musiekskool toe. Die operawêreld kan aan haar voete wees as sy net wil en so n gesingery vir koeie is nie goed vir haar reputasie nie. Reputasie? Ga! Oom Sondag vee n spinnerak weg voor sy gesig. As sy so geworried was oor haar reputasie sou sy nie lat Julius onder haar dak loop intrek nie. n Gesaamblyery sonder dat jy behoorlik gekerk is, is net n bose ding. Ons stap stadig in die gang af, tant Pennie loop voor. Dit was in daardie tyd dat ons begin vermoed het, jy weet … Tant Pennie maak keelskoon en praat dan sagter. … dat sy in die ander tyd is. Syt nooit meer uit die huis uitgekom nie. Die gesingery saans het ook end gekry. Dit was oom Agterkwart van die slaghuis wat gesien het hoe Julius een aand laat n klomp tasse in die motor pak. Die storie het begint loop dat Julius en Maria dorp uit is oor die skaamte en dat hulle alles net so gelos het en weg is Kaap toe. Maar dit was nie so nie. Vyf of ses maande later, het die stem deur die donkerte aangerol gekom. Vreeslik mooi, met so n haarseergeit weggesteek binne. Dan is sy nog hier, het ek gedink. Net Julius is weg. Seker twintig, dertig minute het die sang aangehou … en toe is dit stil. Asof iets uit die nag weggevat is en n gat gelos het. Tant Pennie maak die deur aan die onderkant van die gang oop. Sy gaan staan teen die oorkantste muur en wys met albei hande na die vloer. Hier het haar bed gestaan. Dis waar hulle haar die volgende oggend gekry het. Sy was dood, maar in haar arms het die mooiste babaseuntjie gelê en slaap. Shame, het die mense gesê, dit moes n moeilike geboorte gewees het. Seker dié dat sy so gesing het … Tant Pennie en oom Sondag ry later, maar ek bly agter op die stoep van die ou huis. Asof iets my nog terugroep. Asof ek uit die donkerste gange in my kop dit nog kan hoor: die stem wat my die wêreld indra, wat my toevou en my teen haar bors druk. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |