NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Prelude in C kruis mineur

Madri Victor*

Die jong vrou staar gefassineerd na sy hande. Met elke beweging is sy hande in perfekte balans. Asof opgestel voor ’n klavier. Hy het groot hande. Hande soos Rachmaninof s’n moes gewees het. Dis waarom sy so sukkel met die prelude in G mineur. As haar hande net groter was. Sy vryf oor haar effens geswelde polse. Haar vingers voel styf en seer. Die slagter is besig om ’n boud vleis met vinnige pols- en armbewegings op te sny. Sy wit oorjas is baksteenrooi gevlek van die bloed. Wanneer hy klaar is, sit hy die vleis op die skaal, maak twee pakkies op, en vee die bloederige tafelblad skoon. Sy vingerpunte rus liggies op die tafelblad.

“Juffrou, kan ek help?”

Die vrou kyk gesteurd weg na die jong meisie agter die toonbank.

“Dis al na vyf … as u dalk iets wil hê …”

Die laaste klant het pas geloop en dis duidelik dat sy huis toe wil gaan. Vir die eerste keer vandat sy ingekom het, kyk die slagter op.

“Dis reg, Elisabeth, ek sal help, jy kan maar gaan. En los maar die skoonmaak vanaand.” Hy glimlag vir die vrou.

Die slagter weet van haar. Sy kom al ’n paar maande na dié slaghuis. En hy weet van elke keer dat sy hier inkom. Sy is jonk. En baie begaafd, hoor hy. Die koerante voorspel dat sy nog ver sal kom as pianis. Hy weet baie goed van haar.

“Wat sal dit vandag wees?”

“Die gewone asseblief: een kilogram maalvleis.”

Terwyl sy betaal, vra hy haar uit oor haar volgende optrede. Sy vryf weer oor haar polse. Oor minder as ’n maand tree sy saam met Lukas Malan en Idil Beret op. Minder as ’n maand en sy sukkel nog steeds met die Rachmaninofse afronding. As haar vingers net nie so styf was nie! Dis elke maand se ding dié. Vir ’n dag of wat rebelleer haar lyf weerbarstig teen elke beweging van haar hande.

“As jy dalk net ’n rukkie kan wag? Ek sal graag die klavier vir jou wil wys. My woonstel is net hier bo.”

Die slagter kyk vraend na haar. Sy was so ingedagte dat sy nie gehoor het wat hy vertel het nie.

“Seker. Ek sal graag kom kyk.”

Die vrou vryf weer oor haar polse. Sy vermoed haar lyf is haar gees nie goedgesind nie.

Terwyl hy sluit, kyk sy weer na sy hande. Die haartjies op sy hande, en veral dié op sy polse, is effens donkerder as sy vel. Onder sy naels is daar nog ou bloed. Snags kom die slagter se hande soos skimme in haar drome na haar. Altyd aan iemand anders, of afgekap en los van ’n liggaam. Maar altyd sy hande. In die perfekte houding. Sy hande werk asof hulle ’n eie lewe, ’n vreemde krag het.

Buite is dit koud en reënerig. Toe hulle die trappe opstap woonstel toe, begin sy vloei. Sy kan die taai klam tussen haar bene voel. Heel waarskynlik is dit ál wat ons bind, dink sy. Bloed. Bloed en sy hande. Die slagter sit sy hand op haar rug. In die woonstel wys hy na die klavier. “Dit was, soos ek gesê het, my moeder s’n. Koffie?”

Sy knik. Terwyl hy die ketel aansit, stap sy na die klavier en maak dit oop. Die ivoorklawers is amper al geel verouderd. Maar die vlamme in die hout maak daarvan ’n uitsonderlik mooi instrument. Sy vee oor die note en is verbaas dat daar geen stof op is nie. Terwyl sy versigtig op die klavierstoel gaan sit, dink sy weer aan Rachmaninof. ’n Banneling na die 1917-revolusie in Rusland. Net nadat hy in 1931 sy laaste soloklavierkomposisie, Variations on a Theme of Corelli, geskryf het, is selfs sy musiek vir twee jaar in Rusland verbied. Meestal voel sy self ’n banneling. Verban uit haar lewe. Uit haar eie lyf. Asof sy eintlik deel aan ’n ander wêreld het.

In die kombuis hoor die slagter hoe die vrou ’n paar toonlere speel, onder andere C kruis mineur. Haar linkerhand is ’n fraksie stadiger as haar regter. Sy hande bewe liggies. Hy stap tot agter haar en begin haar nekspiere masseer.
“Jy is gespanne. Is dit die komende uitvoering?”
 
Die vrou is slegs van sy warm, klam hande in haar nek bewus.

“Dis ’n mooi klavier. Met ’n verbasende klank. Jammer dit kan nie tot sy reg kom nie. Jy speel nie self nie, of hoe?”
 
Hy antwoord nie. Sy staan op.

“Moenie,” keer hy. Die slagter vryf steeds haar nek. Sy hande beweeg stadig af oor haar arms, haar heupe. Die vrou beweeg nie wanneer sy hand onder haar romp inglip nie. Sy hande is sweterig op haar bobeen. Sy dink aan die fyn haartjies op elke vinger. Die slagter se hand streel steeds oor haar sagte wit been. In hoeveel drome was sy al hier? Sy hand beweeg op oor die binnekant van haar been. Sy maak haar oë toe. Rachmaninof het na 1917 deur Europa en Amerika getoer, nooit meer tuis in sy geboorteland nie. Was hy ooit weer êrens tuis? Die vrou voel hoe sy vingers oor haar nat warmte gaan. Sy vingers voel warm in haar. Hy vat sy hand stadig weg. Sy weet dat hy nou haar bloed, ligter as dié van die slaghuis, sal sien. Wanneer sy omdraai, is sy oë dof. Hy lyk moeg. Sy kan aan niks dink om te sê nie. Voordat sy uitloop, kyk sy weer na sy hande. Die een is besmeer met haar bloed.

Onder in die straat verbeel sy haar sy hoor dit. Rachmaninof se prelude in C kruis mineur. Sy eerste komposisie vir soloklavier. Die helfte van ’n ou klavier se ivoorklawers word bevlek met haar bloed.

*Madri Victor
Madri Victor het in die Karoo grootgeword en beskou dit steeds as haar wegkom-plek. Sy hou van boeke en boekemense, wil graag meer reis, sou eendag by die see wou woon en besit 'n halwe aandeel in 'n Claerhout skildery.
 



LitNet: 12 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.