NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Marelize van Taak
het sopas haar BPhil in Joernalistiek aan die US voltooi en is dringend op soek na werk. Sy stel belang in enige joernalistieke aspek — vanaf fotografie en skryf tot by bladuitleg en redigering. Sy het ’n hele paar uiteenlopende belangstellings en op die oomblik is sy hooked op outisme en lees alles wat sy oor dié fassinerende onderwerp in die hande kry.
  Marelize van Taak

Paranoia is net ’n stasie

Marelize van Taak

“Jis, ou, ons gaan dit nie maak nie,” sê Gideon toe hy by die woonstel inloop.

Steyn kyk op van waar hy by die kombuistafel sit en All-Bran Flakes eet: “Toemaar, ek het al gepak. Ek hap net gou klaar, dan kan ons jou kar laai en in die pad val. Geen haas.”

“Dis juis die ding. My kar se CV joint is oppie koffie en die werktuigkundige kan eers op die vroegste Vrydag vir my ’n ander een kry,” antwoord Gideon en gaan sit met ’n sug op die wasbak. Sy gesig vertrek in ’n gepynigde uitdrukking as hy dink aan die Groot Naweek Makietie op Christiaan se plaas buite Johannesburg wat hulle nou gaan misloop. Hy het vroeër in die week al so ’n beklemmende gevoel gehad. Dit was ’n té ondeurdagte besluit, dié trippie op Noorde toe.

“Ons vat die trein,” sê Steyn voordat hy die papbakkie bo sy mond kantel en die laaste bietjie melk uitslurp en opstaan. “Ek sal gou bel en plek bespreek. Soek jy solank vir ons ’n lift stasie toe.”

Gideon gee ’n laggie oor die flou grap en begin met ’n vuil teelepel patroontjies trek in die stuk Sunlight-seep wat bo-op sy papiertjie op die wasbak se rand lê. “Jy moet mal wees. Wat is die kans ons kry nog vandag plek? Besides, ek dink dis gevaarlik. Jy weet nooit wanneer ’n gangster jou sommer wil lem nie.”

“Ag! Jy’s net paranoïes,” skree Steyn aan die onderpunt van die gang waar hy woes deur die telefoongids staan en blaai. Hy skakel die Kaapstad-stasie se navraenommer en knipoog vir Gideon wat vanuit die kombuis vir hom ’n skeptiese kyk gee. “Gaan vra vir Liza in 305 of sy ons kan stasie toe ... Hallo? Ja, Steyn Roode. Ek wil graag twee kaartjies Johannesburg toe bespreek, vir vandag nog as dit kan. 'Skies? I would like to book two tickets to Johannesburg. R390 per person in second class? Yes, I’ll take it ...”

Jy sal gelei word na waar jy nie wil wees nie
“The TransKaroo from Cape Town to Pretoria will depart in twenty minutes. Passengers must please enter through gates nine and ten. Thank you.”

“Toe, dis julle,” sê Liza en knik met haar kop in die rigting van die perron. “Moet nou nie gaan staan en doodvries daar bo nie. En ja, ek sal na die katte kyk én die plante water gee én sorg dat ek daar is as die garage Gideon se kar kom haal.”

“Jy’s ’n engel,” sê Steyn en soen haar op die voorkop. “Waar’s Gideon?”

Gideon kom aangedraf met ’n winkelsak onder die arm. Hy steek selfvoldaan by die twee vas en pluk ’n paar handskoene, ’n mus en ’n serp uit. Dit is nou wel nie die mooiste kleure nie en laat hom effens soos ’n Kersfeesboom lyk, maar koudkry gaan hy wraggies nie. En dit was ’n bargain! Net R25 vir die hele toetie. Hy sal meermale hier tussen die stasie se stalletjies moet kom rondsnuffel, die plek is goedkoper as die Salvation Army se winkel. Die aankondiging kom weer oor die luidsprekers. Ai, dink hy, waarin begewe ek my vandag?

Die mense begin stamp-stamp deur die hekke beweeg. Gideon wil nog die sekuriteitswag uitvra oor hoe veilig dit is om op die trein te slaap, maar Steyn sleep hom aan die arm weg en begin al tellende langs die trein af loop op soek na wa nommer agtien.

’n Kondukteur met ’n vriendelike snor-gesig hou vir hulle die deur oop en beduie links in die nou gangetjie af na waar hul kompartement is. Steyn gooi sy bagasie op die groen bank neer, skuif die venster oop en neem ’n diep teug aan die olierige stasielug.

“Mmm ... ruik jy dit?” vra hy.

Gideon staan fronsend in die deuropening en gril vir die droewige toneeltjie voor hom. Dit lyk kompleet soos ’n staatshospitaal se wagkamer. “Ruik ek wat?”

“Die stank van avontuur.”

Hoe ry die boere
Dit is net Steyn en Gideon in die sespersoon-kompartement en teen die tyd dat hulle Hugenote-stasie in die Paarl nader, het die twee hulself al gerieflik ingerig. Steyn se draagbare CD-speler staan op die tafeltjie wat bo-op die wasbak afslaan en twee pare voete hou maat saam met die 5Fm-platejoggie se keuse. Gideon sit en peuter aan die verwarmer op soek na ’n manier om sy sigaret aan te steek en Steyn lê lomerig by die venster en uitstaar terwyl die Boland se roesbruin wingerde verbygly. Die kondukteur kom vra of alles nog reg is en leen vir Gideon sy aansteker. Hy vermaan hulle ook om die deur van binne af te sluit indien hulle wil slaap. Toe hy uit is, gee Gideon vir Steyn ’n “ek-het-jou-mos-gesê”-kyk.

’n Halfuur later kronkel die logge wurm deur die Heksriviervallei en ’n trop bobbejane sit ongeërg vir hulle en kyk. Die ritmiese geskommel van die trein sus Steyn aan die slaap en hy mompel iets van middagete voordat hy omdraai, sy hande tussen sy kniekoppe indruk en liggies begin snork.

Die trein gaan deur ’n lang tonnel en dit herinner Gideon aan die spookhuis by sy laerskool se jaarlikse speletjiesaand. ’n Koue hand gaan enige oomblik op sy skouer kom lê en iemand met vampiertande gaan lag in die flou lig van ’n kers. Hy begin hom net lekker inleef in ’n gru-toneel, toe die sonlig weer deur die kompartement spoel en sy oë laat pyn.

Hy raak gou verveeld van die alewige gestop en wegtrek op elke stasie en stap uit in die gangetjie om die badkamer te gaan soek. Sy pad word versper deur die agterstewe van iemand wat by die venster uitleun. Hy tik die skraal mannetjie met die stringe oorringe op die skouer en dié kyk vinnig om. Sy wange is die ene trane van die koue wind, maar hy lag uitbundig toe sy oë Gideon s’n vind:

“Travelling by train can cause a serious head rush, bro’! The sheer speed, the deafening clang of metal, the lack of balance! This Transkaroo surely is a horisontal roller coaster!”

Gideon bespeur deur die liriese woorde ’n soet reuk. Hy glimlag flou terug en skuif die venster ongemerk ’n bietjie kleiner toe hy langs die man verbyskuur.

Die badkamertjie lyk soos iets uit ’n Lego-huisie. Alles is ongemaklik klein en Gideon skrik hom boeglam toe hy dwarsdeur die spoelbak tot op die spoor kan sien. Bossies, plastieksakke en ysterstawe flits verby. Hy konsentreer hard om verby die vreemde omgewing te dink, maar dit help nie. Hy sal moet wag tot die trein weer stilstaan. Hy steek sy hande in sy baadjiesakke en voel die bekende vorm van sy selfoon. Gits! Hy moet nog vir Christiaan laat weet om hulle op die stasie te kom haal. Hy pluk die foontjie uit - die skerm soek tevergeefs ’n sein. Gideon se paranoia vlam weer op.

Buite in die gang ratel ’n trollie verby en iemand skree: “Chips! Cooldrinks! Magazines!”

Gideon pluk die deurtjie oop en strompel agter die kelner met sy goedere aan. Die trein ry nou baie stamperig en ou Headrush klou met albei hande aan die vensterreling vas. Hy swaai dié keer sy lyf weg sonder dat Gideon hoef te vra en die kelner is gelukkig nog nie in die volgende trok nie. Gideon koop ’n koerant, 500 ml Coke en ’n botteltjie Klipdrift by Colin en vra hom ook sommer hoe laat middagete bedien word.

Op pad terug na hul kompartement toe lees hy die graffiti teen die mure - Jerry and Fiona was here ... This thing has no brakes ... Hard Livings. Sy bolip voel klam en die bloed klop hoorbaar in sy kop. Hy draf val-val teen die mure tot by 18-G, skuif die deurtjie met só ’n geraas oop en toe dat Steyn daarvan wakker word en val lam op die bank neer.

“Jinne, ou, het jy daai brannas iewers gedief, of vir wat hol jy so?” vra Steyn deur ’n gaap.

“Ek sê jou, hier is bad vibes op hierdie trein,” antwoord Gideon gejaagd terwyl sy hande bewend die Klipdrift-botteltjie se seël afdraai. “Gangs, man, gangs!”

Steyn lag en sit regop. Hy ril van die koue, trek sy jas oor sy bene en hou ’n plastiekglasie na Gideon uit: “Gooi daar ’n knertsie. Dalk is dit ons laaste.”

Wees in alle omstandighede dankbaar
Met ’n paar stewige doppe agter die blad stap Steyn en Gideon net ná middag by die restaurantwa in. ’n Rugbytoerspannetjie en ’n dosyn ouers en onderwysers kyk vir ’n oomblik op en gesels dan verder oor spelpatrone, gebreekte sleutelbene en die treurige nat weer in die Kaap. Alles met ’n voetdikke Transvaalse aksent. Die tweemanskap skuif weerskante van die enigste oorblywende tafel in en Colin kom aangedraf met kleurvolle spyskaarte.

Toe die trein by Matjiesfontein intrek, lek Steyn net mooi die laaste hoenderbeentjie af en Gideon sit reeds behaaglik agteroor met ’n koppie koffie. Die rugbygroep het in tussentyd verkas en slegs ’n paar hartseer enkelinge sit verspreid in die trok. Gideon haal ’n kamera uit en neem ’n foto van Steyn met die mooi klipgeboue van die stasie in die agtergrond. Hy roep vir Colin nader om ’n foto van hom en Steyn saam te neem. Die middag is lomerig en die Karoolug opbeurend blou.

“Hierdie lekker vars lug sal maak dat ek ophou rook,” sê Gideon terug in die kajuit.

“Sien, dit is toe nou glad nie so erg soos wat jy gedink het nie. Ons ry lekker, ons eet lekker. Ag jinne! Daar is selfs drank op dié trein!” terg Steyn hom. Hy wurm in sy slaapsak in, skuif ’n bietjie rond en kry uiteindelik sy lê. “Ons is regtig bevoorreg, nee, sommer heeltemal bederf om só te reis. Jy hoef nie op die pad te konsentreer nie, jy kan rondloop as die sit te lank word, jy sien die hele land in ’n kwessie van ’n dag, jy het al die geriewe wat nodig is ...”

“Was jy al in die badkamer?” onderbreek Gideon hom.

“Ja, okay, dit is nou ’n bietjie beknop en ’n man sukkel om jou staan te kry. Maar gooi net jou knieë in die hoeke en daar’s no spillage,” beduie Steyn binne-in sy slaapsak.

“Stop! Jy lyk soos ’n papie wat vervel. Of verpaap, of wat ook al hulle doen as hulle skoenlappers word.”

Gideon vou sy hande agter sy kop en staar oor die vlaktes wat verbyskuif. Hier en daar slaan kolle pers vygies uit en die veld lyk asof dit onlangs goeie reën gehad het. Elke nou en dan kom ’n windpomp verbygehardloop, gevolg deur ’n klossie arbeidershuisies. Wit wolkies lê laag oor die renosterbosse, dit lyk selfs of van hulle aan die bossies knibbel. Hy raak aan die slaap en droom hy’s ’n boer wat treintrokke vol skape te perd aanjaag oor die Karoo.

Alle goeie dinge kom tot ’n einde
Steyn word iewers in die middel van die nag wakker. Iets is nie pluis nie. Die trein staan botstil. Op die bankie oorkant hom kan hy ’n bondel komberse uitmaak waar Gideon lê. Dit beweeg stadig op en af - hy slaap vas. Steyn vroetel uit die slaapsak uit en swaai sy bene van die bank af. Hy is skielik spyt dat hy gekies het om heel bo te slaap. Sy sokkievoet soek-soek in die donker na die tafelblad en hy klim saggies af tot op die vloer. Buite in die gang hoor hy sagte stemme mompel. Daar is iets sinisters aan die stilte. Was Gideon toe al die tyd reg?

Steyn voel rond tussen die sakke totdat hy ’n paar skoene kry. Dit is Gideon se weermagstewels en heeltemal te groot vir hom, maar dit sal moet doen vir nou. Hy trek dit aan, draai die veters ’n paar keer lomp om sy enkels en maak die knope styf en dubbeld. Vanaand gaan hy dalk nog moet veg vir sy lewe. Hy dink daaraan om Gideon wakker te maak, maar besluit daarteen. Laat ek eers vasstel hoeveel van hulle daar is, dink hy.

Die deur skuif geluidloos oop en die skerp ganglig verblind hom vir ’n oomblik. ’n Kondukteur kom aangestap deur die rubberkonsertina wat die trokke verbind. Steyn trek sy kop terug en wag tot die man verby is voordat hy, met sy skouers agteroor getrek, uitstap in die gang.

“Haai! Wat gaan hier aan?” bulder hy. Sy mond is kurkdroog.

Die kondukteur vlieg om en kyk hom verskrik aan. “Hoe bedoel meneer nou?”

“Moenie jou dom hou nie, man.” Steyn beleef ’n oomblik van twyfel. Is hy besig om sy naam met ’n plank te slaan? Dis in elk geval nou te laat. “Vir wat beweeg die trein nie, hûh? Is dit ’n roof of ’n hijack? Komaan, moenie dink ek is simpel nie.”

Dit lyk of die kondukteur sukkel om nie te lag nie toe hy antwoord: “Omdat die spoorlyn opgedeel is in eenhede van 500 meter en bewegende treine altyd twee eenhede van mekaar af moet wees. Die Blou Trein is nou op Christiana en ons is op sy hakke, nou wag ons eers ’n rukkie.”

Steyn vervies hom vir die beterweter en mompel: “O, dankie,” voordat hy beteuterd omdraai en weer in sy slaapsak gaan kruip.

Die son sit al hoog toe die trein uit Krugersdorp vertrek en Gideon wakker skrik van die stamp. Hy skud aan Steyn en dié lyk verbasend wakker. Toe hy opstaan, sien Gideon dat Steyn sy stewels aan het.

“En dít?”

“Hmm? O, die boots. Dis alles jou skuld. As jy nie die heelpad geneul het oor bad vibes nie, het ek nie gisternag nodig gehad om skollies se maermerries af te skop nie,” brom Steyn.

Gideon wag vir ’n verduideliking, maar kry dit nie en slaan die tafeltjie op om sy tande by die miniatuurwasbakkie te borsel. Deur die doustrepe teen die venster gewaar hy mynhope en die industriële buitewyke van Johannesburg. Daar is ’n klop aan die deur en Colin loer in met twee koppies koffie op ’n kartonskinkbordjie.

“Welcome in Egoli, gentlemen. We will arrive at Johannesburg station in half an hour’s time. Please get your bags together and check under the seats if you don’t leave anything behind,” sê hy met ’n glimlag.

Toe hy uit is, staan Gideon verwese met die skinkbordjie in sy hande: “Dink jy ’n mens kan met niks kom nie en voel jy vat iets saam wanneer jy afklim?”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.