NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Susan Samuel is gebore op Kroonstad in 1977 en sy matikuleer in Kaapstad. Sy voltooi ’n BA graad aan die Universiteit van Stellenbosch in Afrikaans en Nederlands, Filosofie en Engels.
Twee van haar kortverhale word opgeneem in Kwela-Boeke se hoërskoolkortverhaalbundel: Another kind of One Nation. In 1997 wen sy die Stellenbosch SR-skryfkompetisie se ope-afdelig in prosa.
Tans is sy ’n student in BA Honneurs in Joernalistiek op Stellenbosch.

  Susan Samuel

(woon)stelling 7.5

Op die punt van sy tong lê die klein wit dingetjie soos ’n vratjie met ’n prentjie van ’n duif uit fokus. Hy kom nader, sy tong ’n offer na my uitgestrek, ’n slang giftig gereed om te pik. Sy oë is swart teen die rooi en pers ligte wat met elke maatslag van die ritme sy kaal kop perfek afets. Hy lyk soos Jesus in ’n Batman suit. Sy benerige arms is so bekend teen my rug en die duif vlieg by my mond in, flapperend tussen tonge, tande, keelgat.

Onderaardse wortels diep uit my maag groei opgewonde deur my hele lyf, stuur die bloed pompend deur my kop, vinniger en verwoedend, aanhoudend botsend teen die velledop van my lyf. Ek staan op die dak van die Loft. Voor my strek die liggies van Kaapstad flikkerend in die donker nag. Elke fokken liggie is met die hand ingedraai. Blokke woonstelle sluip teen Duiwelspiek op. Die vensters is leë neonkolle in die donker nag. Vredehoek lê soos ’n stralekombers en gloei.
    My mond voel onrustig, ek kan nie ophou kou aan die chappie wat oud en vreemd misvorm word deur elke kaakbeweging nie. Ek hurk op die rand van die dak en kyk na die motors, straatkinders en ravers wat dwalend vermeng is soveel meters onder my. Dit voel asof ek aan elkeen van hulle kan vat. Hul klere, hare se tekstuur voel dan náby en dan weer vér. Die sement van die dak is grof onder my hande wat ekstaties sensories nie wil ophou vat aan alles nie. Ek vervoel my aan die korreltjies grond wat afskilfer en tussen my vingers gevryf word — my hande is later koud en rou.
    Ek steek ’n sigaret aan, maar die wrang smaak in my mond gaan nie weg nie. Die gebou onder my pomp ’n harde base-line deur my voete, pompend na die kroontjie van my kop. Soveel deegliker as wat hy dit ooit sou kon doen. Ek ril. My arms is vol merke, duidelik in die lig van die stad. Elkeen het ’n storie. Dié een van ’n sigaret na Pete se birthday, daai een is die buckle van die belt, dié een ook. Die roof met die patroontjie is nog van die steakmes laas Sondag. Die ander is alles ou en nuwe naaldmerke: ouer geles, nuwer bloupers rooies en die nuutste steeds ’n rofie in die middel van nêrens — soos die liggies van die stad. Ek gaan lê op my rug en kyk op ... na iets. Na wat? Geen sterre, konstellasies is sigbaar bo-oor die oordonderende ligte van Kaapstad nie.

Ek stap met die staaltrap af, verby die daggarokers en skoolkinders met kieste wat bol en slaperige laggies. Hy staan by die bar — absoluut sexy soos gewoonlik. Asof hy my verwag, draai hy hom om toe ek nader kom en word dankbaar ingesluit deur sy oë in sy surrealistiese wêreld in. Met sy hand op my maag spog hy by donker vriende oor die replika daar geplant. ’n Klein rotjie wat reeds bloederig knaag. Ek dink aan seer naalde ... hoe dit vóél. My kop draai. Hy sing iets in my oor, sy stem net ’n lae plofgeluid teen my nek. Hy hou my vas, dans met my asof ek nie weet van die priemende oë wat bo-oor my rug slanke lywe in die klub ontbloot soos snoeke oopgekloof in ’n vuil restaurant nie. Hy stuur my terug na die deur en ek draai gedwee om, stap uit, gehoorsaam, en eers op die trap hoor ek hom agter my.

Op die dak, my wêreld, lyk hy vreemd en klein en ek trippel om hom, vertel, lag, wys na die maan, die verligte berg, ontwyk sy arms, sy oë wat my soos die slang in The Jungle Book orals agtervolg. Hy steek sy arm na my uit, sy hand beautifully bleek in die lig en ek lag, haastiger en hoër, ontwyk hom. ’n Nuwe malle speletjie waar my waagmoed my koudskok, want ek weet, o fok, ek wéét van die woede wat nou in hom opbou. Dis asof ek skielik intenser die donker dinge wat hy uit die nag uit opslurp, kan sien maal en kook binne-in hom. ’n Pappery van teer en etter wat mors en bevlek met elke uitbarsting.
    En ek speel en giggel simpel terwyl hy na my kyk met daardie oorbekende trek om sy mond, soos die toeskouer van ’n patetiese dramastuk waartoe hy gedaal het om na te kyk en nie sy geld terugvra nie oor hy die akteurs te jammer kry. En ek ignoreer hom, praat met myself, sing vir myself en ek sien hom skielik soos ek hom nog altyd wou sien: desperaat vasgevang in ’n image waarop hy verlief geraak het.
    Nes telkens tevore sien ek die woede en aggressie soos branders oor hom breek en weereens word ek verlam deur vrees, kan net magteloos en verstard toekyk hoe hy soos ’n roofdier my nader gryp, sy naels in my skouers kap en my dwing om pateties voor hom te cringe van die pyn. Dit voel asof ’n nat wolkombers oor my gegooi word wat selfs my asemhaling saam met my swaar lyf grond toe neertrek. Ek kyk na die hand op my skouer, die wit kneukels, die haartjies op sy vingers, die afgevrete naels, die skif op sy mou. Met ’n gevoel van afsku weet ek toe dat my mag oor hom soveel groter, sterker is. Na soveel jare is ons steeds een. En dit sal ons altyd bly. Hy kan my volpomp met heroïen, thinners, prozac, semen — enige ding wat realiteit verdryf — maar my superiority is soos ’n skaduwee oor ons. ’n Bang muis wat klein en snel van die slang af vlug en elke keer triomfeer. Tartend hom nooit uitlos nie. En stilletjies teer op sy ingewande.
    Dis asof ek wegtree van my lyf, sien hoe dit rondgegooi, geskud word — ’n nikswerd aanhangsel wat deur pyn beheer word. Sy donker swart skadu troon uit bokant die donker ruim in. Sy vertrekte gesig skreeu hees tussendeur vuishoue, skoppe. Dan staan hy terug, kyk soos ’n koning trots oor sy vertrapte landgoed — die ewige heerser. Afgryslik baas.
    Ek sien dan met ’n vreemde sadness hoe ek met al my fisieke krag sy knieë skop, dit knak, en hy agteroor in slow-motion, komieklik verbaas oor die rand van die dak stort. Geen geluid nie — asof hy dit nog altyd verwag het. Die nag is stil, die dak leeg. Ek kruip vorentoe, ’n bloederige slakkespoor, en kyk oor die rand, sien die commotion daar onder soos ’n wetenskaplike deur ’n mikroskoop na talle klein selletjies, dingetjies in beweging. Lank lê ek so en kyk na die stad, draai my op my rug, kyk na die sterre, skielik sigbaar deur die stadsligte. Die rot is vergete en klonterig verspreid oor die dak.
    Dan kom ek orent, my lyf vol energie, die pyn verdoof, my klere taaierig oor my bene. Ek strek my vlerke en soos ’n vlermuis verdwyn ek oor die dakrand, rukkend en vlugtend die nag in.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.