|
|
SpooktogJohann RossouwSy eerste volwaardige vertaling is n teks van Derrida, naamlik laasgenoemde se inleiding tot n opstel oor die religie. Destyds pak hy die vertaling geesdriftig aan. Aangesien dit ook sy eerste volwaardige vertaling is, aangevuur deur sy basiese bemeestering van Frans, is sy vertaling ook oormoedig, hubris. Watter gek wend hom in sy eerste vertaling tot dié Franse woordmeester? Wanneer hy en M., laat een Saterdagaand, ná die derde hersiening van die vertaling, uitgeput die woord khôra in n Grieks-Engelse woordeboek naslaan en agterkom dat hulle nie meer kan onthou waar die letter xie (kh) in die Griekse alfabet staan nie, besef hy die waansin van die hele onderneming. Nietemin verskyn die vertaling tog, met Derrida se persoonlike toestemming en al. Hy sweer dat hy nooit weer Derrida sal vertaal nie. In dieselfde tyd lees hy n stuk van Derrida se Spectres de Marx (in Engels vertaal as Specters of Marx). Wat hy lees, gryp hom so aan dat hy dit sterk oorweeg om die boek te vertaal. Van die oorweging kom egter niks nie. Hierdie gebeure speel af in die paar maande ná Derrida se Suid-Afrikaanse besoek, wat afgesluit word met n Sondagmiddagete aan huis van M. By dié geleentheid spreek J. n verwelkomingswoord en Derrida bedank hom. Almal om die tafel huil. Filosowe is nie bekend daarvoor dat hulle huil nie, en daarom is die toneel des te aangrypender. (Eintlik is daar nie een filosoof aan die tafel wat huil nie: Derrida eien nie die term filosoof vir homself toe nie, terwyl die res van hulle, synde Afrikaners wat in n verafgeleë land woon, kwalik méér as liefhebbers van die filosofie genoem kan word. Hoewel hulle maklik, argeloos, deur die Afrikaanse media as filosowe beskryf word. Gee iemand om?) Vir maande ná Derrida se besoek is hulle almal begeester. Derrida se gees besiel hulle. Deur die loop van die volgende jaar gee hulle egter die gees op en ontwikkel hulle afstand ten opsigte van hom. Veral D., wat jare lank met die gees vervul was, gee die gees van Derrida met oorgawe op. Hyself bly nietemin deur die verskynsel, deur die denker, Derrida, geboei. Hy lees nooit meer as fragmente van Derrida nie. Heelwat van hierdie fragmente lees hy in Fragmente. Ander lees hy weer wanneer hy telkens voor die filosofierak van n boekwinkel staan. In Frankryk vorm hy die gewoonte om die gehalte van n boekwinkel te meet aan die aantal werke van Derrida wat die winkel aanhou. Belaglik. Maar smaaklik. Intussen skryf hy uiteindelik n stuk fiksie (vóór hierdie stuk fiksie). Dit beslaan byna n honderd bladsye en die proses van publikasie neem n aanvang. Hy loop met n idee vir n verdere stuk fiksie rond. Hy begin dit skryf. Maar, soos telkens met die skryf van fiksie, verveel dit hom ná n tyd. Hy is nie langer daardeur begeester nie. Die gees verlaat hom. Van vertaling is hy egter nooit ver nie. Met die skryf van fiksie is jy intiem met jouself, asook met die karakters wat deur jou tot stand kom. Jy gaan om met geeste. Met vertaling is jy intiem met jouself, met die karakters (of konsepte) in die teks, asook met die skrywer van die teks. Die geeste gaan om met jou. Jy begin fiksie skryf omdat jy iets wil sê. Jy begin vertaal omdat jy iets wil deel. Skrywers is nie anoniem nie, vertalers wel. Skrywers is voor(op), vertalers tussenin, indien nie op die agtergrond nie. Wanneer hy die dag besluit om vir eers sy huidige stuk fiksie af te lê (die soveelste maal wat hy so n besluit neem) ten gunste van sy huidige vertaling, is hy verlig. En nie slegs in die sin van n las wat van hom af is nie. Minder as twee weke daarna gaan kyk hy die Kanadees-Armeense regisseur, Atom Egoyan, se Ararat. Hoewel hy later van tyd kunsfilms(met hul gewaad in lyding, geweld en dood, in die naam van kuns) vermy, gryp Ararat, wat handel oor die Armeense volksuitwissing deur die Turke, hom aan. Die prent stel herinnering, rou en ballingskap aan die orde. Alles temas waaraan hy nie nog in boeke en rolprente ook blootgestel wil word nie, omdat hy genoeg daarvan leef. En tog. In die prent is daar n toneel waar Ashile Gorky, Armenië se grootste twintigste eeuse skilder, wat in 1934 in New York in ballingskap selfmoord pleeg, voor een van sy doeke in trane uitbars. Hoewel kunstenaars gereelder as filosowe huil, gryp die toneel hom aan. Gorky bars naamlik in trane uit voor die doek wat sy bekendste werk sou word, n skildery van homself en sy moeder, wat in die uittog van Armeense vrouens en kinders ná die uitwissing by Van in Oos-Turkye omkom. Die skildery is gebaseer op n foto wat van hom en sy moeder geneem is toe hy nog n kind was. Die foto was bedoel vir sy vader, van wie hy later sou verneem dat dié ook deur die Turke om die lewe gebring is. (Om die lewe gebring: hoe bring jy iemand om die lewe? Die lewe as n plek waaróm jy iemand lei, en waarheen dan? Waarvandaan lei jy hom? En wie is jy wat lei? Is jy n spook? Dis tog net spoke wat gemaklik tussen die land van die lewendes en die land van die dooies beweeg.) Gorky staan links van sy moeder, wat sit. Op die foto kyk hulle albei intens na die kamera. Met ontboesemende blikke. Blikke wat die kyker ontwapen. Gorky staan voor sy doek, neem verf op sy hande, en wis sy moeder se hande op die doek uit. Dan syg hy huilend voor die doek neer. Hy ruk soos hy snik. Ook hý ruk soos hy snik voor die silwerdoek. Herinnering, rou en ballingskap. Wanneer hy by die teater uitstap, is hy begeester. Die prent, sê hy vir L., laat my dink aan n boek van Derrida waarvan ek jare gelede slegs n stuk gelees het, Spectres de Marx. Die boek, net soos hierdie prent, handel oor spoke. In die prent spook die seun en die dogter se oorlede vaders by hulle, in die sin dat hulle nie die betekenis van hul vaders se dood kan verstaan nie. In die boek hou Derrida hom ook met spoke besig. Iewers in die boek, as ek reg onthou, skryf hy dat spoke ons nie net herinner aan dié wat nie meer hier is nie, maar veral aan dié wat nog moet kom. (Tydens kommentaar op n lesing wat hy in Suid-Afrika oor lokale ruimte hou, merk iemand op dat n lokale ruimte ook deur dooies gekenmerk word: n ruimte wat sy dooies onthou, is n ware plek.) Derrida se boek begin weer by hom spook. Hy raak opnuut begeester deur die idee om die boek te vertaal. Hy begin die boek soek in elke boekwinkel waar hy kom, maar hy kry dit nêrens op n rak nie. (Franse boekwinkels hou meesal slegs die nuutste boeke aan. Dit, besef hy, is waarom hy lankal boekwinkels takseer op hul Derrida-versameling: dit gaan nie soseer om Derrida nie, maar om die feit dat meer as slegs die nuutste op die rak aangehou word. n Ware boekwinkel is een waar die rakke deur ouer boeke, deur spookboeke, gevul word. So kan n mens dan ook die nuutste werke na waarde skat, daar waar hulle nog wedywer om n plek neffens die ou spoke oop te spook.) Hy maak op die internet seker dat die boek nog beskikbaar is, maar hy verseg om dit in dié spookruimte te bestel. Hy wil opsluit die boek self vind. Hy wil dit in sy eie hande hou, meer as net n spook. Dit moet iéwers op n rak staan. Hy staan hom voor dat hy dit enkele maande vantevore by Gibert Joseph in Parys gesien het. Dit spook by hom, veral die feit dat hy nie tóé die boek gekoop het nie. Hy deurkruis al die boekwinkels van Lyon, maar Frankryk se derde grootste stad het nie die boek nie. Hy vind dit ook nie in Arles nie. Volgende is Aix-en-Provence, waar hy kan onthou dat een van die winkels by n vorige besoek uitgeblink het met die volledigheid van hul Derrida-versameling. Dan is daar Parys, waar hy oormôre sal wees. Dit word n spooktog. Wie jag nou spoke? Wie wil nou nog spook om n boek oor spoke, wat eintlik nie soseer oor spoke handel nie, op te spoor? Hy onthou dat hy lank terug n proefskrif oor spoke wou skryf. Ook dié idee het hom weldra nie meer begeester nie. Sal hy dit miskien waag om Derrida te skakel? Sal hy hom vrae gaan vra oor sy destydse spookboek? Spook Derrida se boeke by Derrida? In die Times Literary Supplement van 6 September (natuurlik gewy aan 11 September, praat van n spook) kom hy af op n uitstekende resensie van drie nuwe werke deur en oor Derrida in Engels. Die resensent gee n uiters gebalanseerde waardering van Derrida, wat hom ernstig opneem, maar nie verheerlik nie. Dít geniet hy terdeë. Al is hy lank nie meer met metafisika besig nie, spook dit opnuut by hom. Hoe anders dan nou weer oor Derrida tob, hy wat hom sy hele lewe met die dekonstruksie van die metafisika besig gehou het, met spektrologie (want die metafisika is tog dood)? Hy besef dat die aflegging van spoke geen maklike onderneming is nie. Miskien, dink hy, sal hy tóg die boek vertaal. Dalk is vertaling uiteindelik die beste manier om jou spoke af te lê. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |