NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Voorspraak

Riette Rust

Mia streel oor 'n byna doringlose roossteel, dan oor 'n ontluikende knop. Die ivoor voel sag. Soos die materiaal van haar purper sitkamerkussings. Sy wéét net sý's Leo se perfekte deksel … Sy wieg die opgestopte stootkarretjie al hoe vinniger. As die wind waai, sal die babatjie swaai. Baba Gerrie se ogies gaan momenteel toe … Daardie een groot liefde wat mens net eenmaal ervaar.

Mia wéét, want sy's met die helm gebore. Só het die tannies haar al as kind vertel. "Dis duiwels," het sommige geskinder, daarom praat sy net met enkelinge hieroor.

"My gawe kom van die Here af …" sê sy.

"… Nie dat ek vreeslik heilig is nie," voeg sy by. En dink: "Want watter vrou wat fantaseer oor 'n ander se man, is?"

Mia het reeds as kind agtergekom sy't iets anders. Tóé het sy dit net nie begryp nie. Sy onthou daardie oggend; vreemd soos die nuwe, abstrakte prent teen haar muur.
"Ek's naar, Mamma," sê sy en bly lê. Haar ma gee haar 'n lepel vol van sulke dik, geel medisyne. Dit help nie. Haar kop en maag pyn nou ook.

Mia bekyk die pienk-en-groen patroontjies op haar kussingsloop. Ook die fyn stekies waarmee Mamma haar naam daarop geborduur het. Sy wens sy't krag om die kamerdeur toe te maak, want haar ma se platespeler met die operastem irriteer haar.

Toe, presies om drie minute oor twaalf daardie voormiddag, voel dit vir haar of 'n reus haar uit die bed druk en buite toe stoot.

Sy wag in die oprit voor hul huis, staar na die onkruid tussen die sementkrakies. "Wat maak jy buite? Voel jy dan soveel beter?" Sy skrik vir haar ma se ongeduldige stem.

"Nee, Mamma, ek wag vir Anna."

"Maar sy's in die skool."

"Nee, sy is nie."

Haar ma lig 'n wenkbrou en verdwyn die huis in.

Presies toe kom Anna aangehardloop. Haar bruin, donsige hare staan stokkerig om die klein, pienk gesiggie. Haar donker oë lyk vir Mia soos die pruimedante wat haar ma in water week.

"My pa is dood!" gil Anna.

"Ek weet," sê Mia en hou haar maatjie styf vas. Anna snik so hard, sy hoor nie. Mia is bly, want sy sien nie kans vir vrae wat sy nie kan beantwoord nie.

Hierna het Mia se voorgevoelens haar al verskeie kere gewaarsku. Soos toe haar broer Faan in 'n motorongeluk was. Sy't nie eens geskrik toe hy daardie aand voor haar deur staan met 'n pers kol teen sy bles en 'n bloedstreep teen sy voorkop nie.

En een nag het Mia uit die bloute wakker geword, terstond opgestaan en vir Gerrie, toe twee maande oud, gaan wakker ruk … Die baba het nie meer asemgehaal nie en haar koue lyfie het soos 'n dun aartappelskil deurgeskyn. Net Mia weet haar voorgevoel het Gerrie van 'n wiegiedood gered.

Die dag van Leo se eerste besoek was een soos nou, onthou Mia. Dit was asof die Beskikker van Lot die wind ingeasem, maar nie weer uitgeblaas het nie. En net bo die roostuin, in die indigo, was daar 'n wolk, uitgepluis tot 'n gesluierde mandjie.

Net hier, langs Mia se ivoorkleurige rose, het Leo haar vertel dat hy en Jana al vyf en twintig jaar getroud is. Mia kon die huwelikseremonie in die klipkerkie met gebrandskilderde vensters aan die Weskus síén. Met die dominee wat vra: "Beloof u dat u u vrou nooit sal verlaat nie, dat u haar in liefde sal lei en beskerm …?"

Vandag, vier kinders later, lééf Leo steeds dié belofte. Weet hy nie dat hy sy eintlike deksel eers lank ná sy huwelik gevind het nie?

Die Antique Silks het Mia self in die kaal maar vrugbare aarde gesteek.

Onder die avokadogroen skadunet is haar oë op die hemel gerig. "Here, waar sal my hulp vandaan kom?"

Dis nou maar eenmaal so dat 'n pot steeds aan sy doel kan beantwoord, al pas sy deksel nie perfek nie, dink Mia. Jy sit dit net skuins op vir water kook, en wanneer jy ertjies vinnig gaarmaak, is dit selfs goed as 'n bietjie lug kan ontsnap.

Sy trek die tuinlug in en blaas dit stadig uit. Onbesoedeld, dink sy.

Met haar een hand sus sy die donkerblou Chicco-stootkarretjie waarin Gerrie weer woel. Die kindjie het onverwags opgedaag ná jare se gebede.

Gladys, Gerrie se biologiese ma, was al ses maande swanger toe sy kom sê: "Soes met die Aids het ek 'ie vannie baby gewiet toe ek hie' kom wêk 'et nie. Dit sweer ek, Mevrou. En ek willie my jop veloor 'ie." Sy't haar neus met 'n gestreepte mansakdoek geblaas.

"Nee, jy sal nie, Gladys. 'n Kindjie is wonderlike nuus!"

"O, ek dag by myself Mevrou sal my lat gan."

Mia sien dat Gerrie se koffie-ogies oplaas toegaan. In 'n hoë register sing die vrou haar eie chanson, 'n dankgesang. Oor haar peetkind. En oor Gerrie een van die gelukkiges is vir wie Nevirapine betyds beskikbaar gestel is. Slaap kleine babatjie bo in die boom; slaap kleine babatjie sonder om te droom. As die wind waai, sal die babatjie swaai, maar as die tak breek, lê sy onder 'n boom.

Daar anderkant breek Gladys die knoppies van die Esther Geldenhuyse uit. Haar geel handskoenhande beweeg oor die salm rose, soos dié van 'n tjellis oor sy basviool. Vinnig, maar liggies en sekuur.

Dis soos gister dat Gladys hier opgedaag het. Nes 'n geskenk, toegedraai in 'n dik rooi jas en pers serp. Wat 'n vrolike Kaapse aksent, dink Mia.

"Ek lies in onse koerantjie Mevrou soek hulp meddie rose. Hier's sy," sê die vrou met die oop glimlag en wys trots na haarself.

Sy sit haar swaar bont sak op die stoep neer, skuif haar kopdoek reg. "Ek't lank gewêk by die Sonskyn-kwekery op De Doorns, maar nou's ek hie'."

"Hoekom is jy dan daar weg?"

"Ai, Mevrou, oor 'n man. Daar sou 'n wedding wies, toe sê hy net hy wil my nie mee' geherrit nie. Ek's te oud. En siek."

Gladys trek haar sak se ritssluiter oop en haal 'n gekreukelde wit papier uit. "'n Testamonial," sê sy. Mia glimlag oor die andersoortige uitspraak.

Die woorde vriendelik en betroubaar is met 'n oranje Stabilo Boss-pen onderstreep.

"En Mevrou, ek's báie lief vi' rose." Haar gul rooi mond is nou die ene tande; oesterpêrels, hier en daar met 'n stukkie goud versier. "Hulle is die Jirre se eie stempel wat hy hier oppie aar'e afdruk."

Toe weet Mia Gladys is die regte aanstelling. Ook vir Mia was dié blomme nog altyd die versinnebeelding van liefde, skoonheid en verganklikheid.

"En mevrou, ek ken van natlei, kosgee, snoei en goggas."

"Dis goed, want van blomme kweek moet ek nog baie leer," sê Mia.

Later het Mia vir haar broer Faan gesê daar is iets omtrent hierdie vrou … "Ek móés haar net aanstel. Dis asof sy geplant is in die grond van hierdie land. Dan's daar haar oë. Eerlik, maar ontnugter." Deur dit wat kom met lééf, dink Mia. Soos die tekens van meer as haar veertig jaar.

Faan luister aandagtig. "Dit klink na die regte besluit."

"Daar's net een ding wat pla: Gladys weier om my op die naam te noem. Sy sê Bernie September het eenkeer gesê mens noem nie vir jou baas op haar naam nie," sê Mia. "Maar ek's nié haar báás nie en ek het planne om haar my vennoot te maak."

"Jy sal haar nie kan dwing nie, Sus. Dit sal tyd vat."

Vandag kweek die twee vroue rose vir lewering aan Simpson Roses en ander bloemistewinkels.

Mevrou Simpson het haar geplooide, besproete hande in die lug gegooi: "I want special breeds. They háve to be different. We're not Flower to Flower. My customers have to know that."

Gladys se graad 10-opleiding is nie te versmaai nie, sien Mia gou. Die kopdoekvrou leer gaandeweg administratiewe take uitvoer. Aan die begin verwar "allie pampiere" haar, maar ná agt maande neem sy selfs stelling voor die rekenaar in. Sy't die speltegniek oor stom klawers perfek onder die knie gekry. En deesdae doen Gladys haar naam gestand: sy's die heerseres, oftewel prinses, van Cut and Rose. En van die erfhuis op die groot stuk grond.

Mia hou die stootkarretjie vanuit haar oop sitkamervenster met die houtraam dop. Die son val skuins teen die groen skadunet, soos deur 'n glasprisma. Dit sal Gerrie vas laat slaap. Dis eienaardig, dink Mia, maar hoe meer kinders gedurende die dag slaap, hoe meer slaap hulle snags. Dit leer sy nou.

Uiteindelik hang Gerrie se nek slap in haar waentjie.

Mia skink vir haar en Gladys tee in blou emaljekoppies. Flou met baie melk en suiker vir Gladys. Sterk met Canderel vir haar. Nes sy suiker by haar tee wil voeg of dit met 'n koekie wil opkikker, herinner sy haarself daaraan dat sy mooi moet bly vir Leo.

"Gladys, tee!" roep Mia tuin se kant toe.

"Ek kom." Die vrou, wat steeds haar handskoene dra, stap die dodemars. Haar swaar lyf het met minstens tien kilogram ligter geword. 'n Slymerige hoes kom onder die losgedraaide kopdoek uit.

"Ek het dêtien bome gedoen. Gie maar my tie, dankie. Ek gat eers lê. My maag pyn bietjie en ek gat sommar ook djiksalf aan my arms smee'," sê sy.

"Rus nou 'n slag behoorlik."

"Nee, ek sallie lank vattie, want wat sal gebeur as ek bly lê?"

Mia maak die houtraamvenster nog wyer oop. Mm, die yesterday-today-tomorrow ruik soos 'n pas uitgedrukte lemmetjie. Sy sak terug in haar bonkige, karamelkleurige bank, skuif 'n purper kussing eenkant. Perusia kom nader. Spin om haar voete, kantel om soos 'n beeld wat in die staan omval. 'n Donkergrys bol. Sy wenkbroue, regop soos sprinkaanspriete.

Mia kyk na haar skilderye teen die mosterdkleurige muur: William Kentridge, Hardy Botha, Amos Langdown, Christine Botha, Penny Siopis. Dís haar rykdom. Sy teug aan die vars Earl Grey-tee wat altyd ruik soos huis-toe-kom en kyk na haar ligpienk naels om die koppie. Versorgde hande vir een wat in die tuin werk, dink sy. Haar ringvinger is sigbaar kaal, ja. Maar eintlik, weet sy, is sy so getroud en getrou soos kan kom.

Daar was al mans wat wou trou. Want Mia was mooi, dáárdie tyd se mooi. Haar hare soos dié van 'n duur pop s'n: die kleur van die nag en krullerig. Haar oë, Elizabeth Taylor-blou. "En 'n peaches-and-cream gelaat," het haar ma altyd gesê. "'n Regte Irish beauty," het die mans gesê.

Tog wou Mia haar nie laat bind nie. Nie vir geld, status of selfs 'n goedgeboude lyf nie. "Dit voel net nie reg nie," het sy vir Faan gesê. "Sus, vir wie wil jy dan hê?" het hy meer as eenmaal gevra. Maar sy't nooit 'n antwoord gehad nie.

Toe ontmoet sy vir Leo in die CD-winkel, Classics. Dié dag was dit asof Vivaldi se Vier Seisoene die lente die winkel indra. Nadat Mia Insig se klassiekemusiek-rubriek gelees het, het sy besluit om die Opera Explained-reeks te beproef. "'n Waardige poging om die gewone musiekliefhebber van opera te laat hou," skryf die resensent. En aan dié musiekstyl kon Mia nog nooit vatplek kry nie. Dan sê Faan ook nog opera is die suiwerste kunsvorm. Sy besluit op La Bohème.

Mia voel iemand kyk vir haar. Die starende man se bruin, skouerlengte hare kaats die elektriese lig weelderig terug. Hy dra 'n kleinerige bril; die glas is nogal dik, maar die vorm modern. Sy swart polonek-top is van dun gebreide materiaal. En dis asof 'n aura van lemmetjies hom omring. Nes dié van die boom voor haar sitkamervenster.

Mia en Leo gryp gelyk na die Puccini-album. Sy hand raak hare.

"Ah. Great minds think alike," sê hy en glimlag.

Sy kan haar asemhaling hoor. Sy sluk, voel die skielike magenta in haar wange.

"Kry gerus La Bohème vir jou, my kind sal tevrede wees met Tosca. Solank hy net kan luister na die Slowaakse Radio-orkes en -koor. En natuurlik na Smillie se uitmuntende kommentaar," sê Leo.

Toe wéét Mia. Ook dat sy hom weer sal sien.

Dit gebeur in die dorpsbiblioteek.

Sy stol in die glasdeur. Gesink in die diep geruite bank, al verweer, sit hy en lees. Haar bloeddruk daal.

Sy glip by die badkamer links in vir 'n bietjie water en lipstif en druk haar hare reg. Sal hy haar onthou?

Mia gaan sit oorkant hom, kyk wat hy lees. Nietzsche. Nogal. Sy glip haar leesbrilletjie op: The Twilight of the Idols, sien sy. Met die subtitel: How to Philosophize with a Hammer.

Sy haal diep asem. "Hallo," sê sy en word die kleur van haar Tickled Pinks. Soos 'n bleddie tiener, dink sy. Sy maak of sy sy naam vergeet het. "Jy weet seker nie meer wie ék is nie …"

"Natuurlik. Jy's Mia van die CD-winkel!"

"Ek sien jy hou van Nietzsche se werk," sê sy.

"Ja, sy teorieë is interessant … veral vir my wat skilder."

Leo vertel haar van 'n tjello-CD wat sy "net móét hê". Die besonderhede sal hy laat weet, sê hy en vra haar telefoonnommer.

Hy sal tog nie bel nie, dink Mia, maar gee die nommer. Sy tel 'n stowwerige tydskrif van die tafel af op.

Só sit hulle tot toemaaktyd.

Intussen sal sy meer oor Nietzsche moet uitvind sodat sy kan saam gesels, dink sy.

Mia se vingers bewe toe sy op die rekenaarmuis kliek en Encarta Encyclopedia stadig oopvou. Sy't al gehoor van die Duitser se wil-tot-betekenis-teorie én van sy filosofie rondom die oppermens. Sy lees vinnig, rond en bont: "… his ideal overman is secure, independent, and highly individualistic. The overman feels deeply, … (he) affirms life, including the suffering and pain that accompany human existence."

Leo bel sowaar. En Mia kry die CD-besonderhede.

Op haar beurt vertel sy hom van 'n wynetiket wat Hardy Botha ontwerp het. Sy't onlangs die Shiraz-Malbec-versnit van Zonnebloem gekoop, net oor die etiket: 'n Afrika-baba, moontlik 'n Bybelse figuur, lê opgekrul binne-in dié kontinent wat weer geplaas is in die skoot van 'n engelagtige vrou. Haar hand hou Afrika vas. "Dis abstrak … elkeen kan dus tog seker daarin lees wat hy wil?" vra sy.

Dis asof sy 'n droë roos water gee. Sy hoor hom oopgaan.

'n Uur gaan verby.

Dit was twee jaar gelede.

"Miss Mia!" roep Gladys uit die kamer. Mia se keel trek toe. Sy spring op, hardloop verby die groot rooi telefoonnommer van die ambulans teen die gangmuur langs die telefoon.

Gladys hoes, hyg na asem. Mia hou die pap lyf regop, maar die vrou hoes en hoes. Mia trek die wit plastiekbakkie wat op die bedkassie staan, nader en hou dit voor Gladys se mond. Sy braak slym en bloed. Mia voel naar.

"Rus nou, Gladys. Jy hoef nie gou weer op te staan nie. Sê net as ek dokter Japie moet bel."

"Miss Mia … ek wil hié' doodgaan."

"Sjuut, Gladys, jy gaan nie nou al dood nie."

"Dis naby. Ek wil net sê …" Sy hyg na asem. Mia vryf haar rug. Gladys hoes weer. "Ek wil net sê, dankie. Dankie vir Gerrie …"

Mia byt haar onderlip en stut Gladys se rug met twee kussings. "Maar jy weet mos sy's my alles."

Gladys glimlag. Dit lyk of sy nog iets wil sê. Dan kom die woorde. Swaar. "Wannee' ek da' Boe kom, sal ek voo'spraak maak vir jou en Leo …" Haar oë rol toe.

Mia skrik. Nie net vir die woorde nie, maar oor sy nie besef het Gladys ken haar binneste so goed nie.

Sy kry skielik koud.

Sy neem die rooibevlekte bakkie, spoel dit in die badkamer uit en gaan sit weer in die sitkamer. Ek kon al 'n maat gehad het, iemand wat my kon vashou, warm hou, dink sy. Maar wat sy steeds nie weet of kan agterkom nie, is of Leo van háár gevoelens weet. En heg hy net soveel waarde aan die wilgerboom wat sy vir hom gegee het soos sy aan haar blou kombers?

Sy't die boom gekoop nadat sy die kaal kol in die hoek van sy oorvloedige tuin gesien het. Sy't eers Die A-Z van Tuinmaak in Suid-Afrika geraadpleeg. Daar staan: "Is die grasperk die doek waarop die tuinier die kleure van blombeddings en struikakkers skilder, dan is bome die raam daaromheen. Maar anders as die raam van 'n skildery wat 'n mens na willekeur vervang as dit ongeskik blyk, is 'n boom wat geplant is, iets blywends."

By die kwekery het Mia die hoogste treurwilg uitgesoek in die hoop dat Leo aan háár sal dink wanneer hy jare later in die skadu daarvan sit. Die Salix Babylonica is 'n boom wat, wanneer hy tuis voel, die landskap versag, het die man by Stodels gesê.

En toe sy vyftig word, het Leo vir haar 'n onopgemaakte geskenk gebring. Maar die innigste present wat sy nóg gekry het: 'n blou bokhaarkombers. "In ruil vir jou wonderlike sjokoladekoek."

Hy en Jana het na die Weskus getoer. "Dit was snerpend en ek weet jy kry gou koud … Ek wil jou net help warm hou," het hy met cerise wange gesê terwyl hy afkyk.

As Gladys die kombers net 'n bietjie te hardhandig opvou, sê Mia: "Dis duur en kosbaar … soos die goud in jou mond!" En vir Perusia skel sy sommer as hy nog net oorwéég om daarop te lê.

Intussen dink Mia aan Leo wanneer sy haar roosbome natlei, wanneer sy Rosecare, Kelpak, Nutrisol, asyn en 'n paar druppels vloeibare opwasmiddel meng, wanneer sy haar roosbome teen swartvlek bespuit, wanneer sy die liggeel Elegant Beauties met 3:1:5 bestrooi. En ook wanneer sy 'n klassieke CD koop. Dan wil sy hom bel en sê om tog nie dieselfde een aan te skaf nie, dit sal tog eendag saam met hare in 'n rak staan.

Maar sy doen dit nie.

Gerrie huil in die tuin. Dis tyd vir 'n skoon doek en melk. Soos 'n behendige ma verrig Mia dié takies. Die kindjie lag en skop-skop terwyl sy aan haar bottel suig. "My engeltjie," sê Mia en soen haar.

Gerrie is al ouer as twee. Eintlik moes sy al van die bottel gespeen en van die doek af gewees het. Maar hieroor sal Mia eers meer moet uitvind. Gerrie sal buitendien vir eers genoeg aanpassings moet maak.

Mia loer by Gladys se kamer in. Die siek vrou lê in die fetusposisie. Die Antique Silks in die glasvaas op die sytafel ruik na Oktober. Maar die kamer is koud.

Mia gaan haal haar bokhaarkombers, gooi dit versigtig oor Gladys. Net 'n kuit steek uit. Vir die eerste keer sien sy die opgehewe rooi-en-pers kol waaruit etter syfer. Sy voel flou en gaan sit op die kant van die bed. Wat sal ek sonder jou doen? wonder sy. Die geselsies rondom 'n potjie tee, die geskater rondom die roosbome, die aande van musiek luister en saam huil. Die pret met Gerrie … Soos die keer toe die kindjie in die plastiekswembad geplas het en dit so warm was dat Mia en Gladys ook hul voete ingesteek het.

Mia vee haar trane met die agterkant van haar hand af. Gladys, die roosvrou. The rose remains queen of the garden.

Sy gooi 'n pap kussing op die sitkamervloer en sit vir Gerrie daarop neer. Nie dat sy lank daar sal bly sit nie, sy loop al. Dan druk Mia Bizet se Carmen in die CD-speler en gaan sit. Sy's gedaan; sy't nooit besef moederskap is so veeleisend nie.

Sy luister na Carreras se romerige stem en besef opeens: opera is tóg roerend, nie die dissonante marteling wat sy van haar kinderdae af onthou nie.

Sy stut haar nek met 'n purper sitkamerkussing. Hoekom bly Leo so lank weg? Bel hy haar nie? Kan sy nog haar positiewe voorgevoelens vertrou? Die lewe is immers nie 'n sprokie nie … Maar dalk vóél hy tog vir haar. Wil hy haar liefs dáárom nie sien of hoor nie. Mans ís so. Vir Mia is Leo se stilswye egter niks anders nie as dít wat Oscar Wilde dalk bedoel het met "for each man kills the thing he loves".

Sy maak haar oë toe. "Here, vergeef my vir my verlange na 'n ander vrou se man."

Gerrie kyk haar aan, lag dat jy vier voortande sien.

"Vergeet van hom. Jy sal elke dag vir hom moet kook. Nie koekbak nie, kook. Hy's nie eens aantreklik nie. 'n Brein is tog nie alles nie … Hy't boonop lelike voete," sê sy vir haarself.

Dit help nie. Sy rou.

Wanneer Leo eendag hier aankom, oplaas om te bly, sal sy hom uitgelate groet, soos 'n verliefde tiener, dink sy. Soengroet. Al is hy tagtig en sy mond net 'n dowwe afdruk van nou.

Mia maak haar oë toe …

Sy skink vir Leo tee. Flouerig, soos hy daarvan hou, in die blou porseleinkoppie waarvan die silwer randjie ná jare van eenkant hou vir hom nog nie verdof het nie. Sy vat sy hand, geniet die openlikheid van haar gebaar. En vra hom presies wat Nietzsche bedoel het toe hy gesê het 'n wil-tot-betekenis is nodig vir kreatiwiteit.

Dan skilder Leo haar, maar sý hou hóm dop, kyk hoe hy die buitelyne van haar gesig en die vroulikheid van haar lyf met sy Conté-pen weergee. Eers liggies en speels, dan meer vrymoedig. Sy lang, behendige vingers met die plat naels hou die nommer een, twee of drie kwaste met hul dun ronde punte om die beurt liggies vas terwyl hy haar buitelyne in akriel en olie op die monteerbord weergee. In warm kleure, soos "raw" of "burnt sienna".

Hy skilder die kreukels van haar voorkop, frons effe, soos hy gemaak het toe hy op Nietzsche gekonsentreer het. Tóé het hy haar eers nie raakgesien het nie. Dié keer móét hy kyk, na elke detail, elke teken van ouer word. Maar ook na elke inhammetjie van haar lyf.

Vir haar borste gebruik hy sy plat nommer agt borsel. Die skadu's van haar deining en dye skakeer hy in "pale blue" en "mid grey". Só speel hy die spel van warm en koel kleure. Totdat sy, wanneer Leo se kwas die doek raak, opnuut gestalte kry. Deur sý oë. En met hande waarmee hy later, kwasloos, die rondinge van haar lyf sal natrek. Daar waar hulle nog altyd gehoort het.

Mia verwelkom sy kinders. En kleinkinders, vodde geswaai aan die wilger se takke … Maar as die tak breek, lê sy onder 'n boom … Met hoenderpastei, geel rys en asynpoeding wat sy gewoonlik net vir Kersfees maak. Nie net omdat hy hul pa en oupa is nie, maar ook omdat Mia nou weer ma én ouma gaan word.

Wanneer die son verwater en die lug begin byt, gaan sy langs Leo lê. Laat gly haar vingers deur sy ylerige grys hare. Oor sy gesig. Die voutjies langs sy oë. Delikaat streel sy, soos oor die stele van haar rose.

Terwyl hy slaap, wonder sy oor sy bene. Sy't hulle nog nooit kaal gesien nie. Is hulle maer, harig, haarloos? Versigtig tel sy dan sy slaaphemp op. Kyk of hy borshare het. Speur elke moesie en pigmentvlekkie na. Dalk het hy 'n letsel. Soos hare, daar waar 'n borsknop verwyder is.

Haar gesig word van onder af warm. Sy lig haar hare op. Haar hande sweet. Haar oksels is nat.

Leo maak sy oë oop. "Vir jou was ek nog altyd lief … Hoe kón jy dit nie weet nie?" sê hy.

Eers dan gooi sy die blou kombers weg. Verweer van al die oorgooi, Gladys se opvou, die skelm katslape en Mia se gestreel om die verlange te besweer.

Later lê Leo met sy kop op haar skoot; sy toevlugsoord. Met dié wete: hy't sy deksel gevind. Een wat hy nie skuins hoef op te plaas nie.

Sy laat hom sag weggly na die ewige Weskus waarvoor hy so lief was.

Mia is opeens wakker van Gerrie se ge-"kat-kat-kat" en Perusia se gegrom soos die kindjie aan sy stert trek. Sal die verlange na Leo ná sy dood nóg erger kan wees?

Deesdae bly Gladys pal in haar bed. Van hospitaal toe gaan wil sy steeds niks weet nie. Sy kan nie eens meer opstaan nie. Sy't eers 'n bedpan gebruik, toe grootmensdoeke gedra. Mia het agt ekstra stelle lakens gekoop. Die wasmasjien het dag en nag geloop. Nou het dokter Japie 'n kateter kom insit.

Mia het self die doeke verwyder, nou die urinesakkies. "Dis die minste wat ek kan doen vir die vrou wat my uiteindelik ma gemaak het," sê sy vir Faan.

"Jy sal altyd Gerrie se ma bly," sê Mia terwyl sy op Gladys se bed gaan sit, kind op die skoot. Die siek vrou kan nog hoor. "Elke keer as jy verjaar, 15 Junie - onthou jy? - sal ek vir Gerrie vertel van haar ma wat so lief vir haar was. Van die roosbome wat jy so netjies gesnoei het, ons pret in die swembad …"

"Dankie," sê die roosvrou, haar oë rooi en nat.

Mia plaas Gerrie se handjie op haar ma se arm. Só groet hulle. Totdat Gladys haar kop stadig moet wegdraai.

Kort hierna praat die siek vrou vir die laaste maal: "Miss Mia, jy, Leo …" Maar Mia weet wat sy wil sê: dat die tyd van voorspraak naby is.

Uiteindelik kom haal die ambulans vir Gladys. Ná 'n lang uitgerekte hoesbui, meer bloederig as gewoonlik, suig die paramedici haar longe met 'n lang suigapparaat skoon, bedek haar uitgeteerde liggaam met Mia se bokhaarkombers, plaas 'n masker waarin lug blaas oor haar mond en neus, en dra haar op 'n draagbaar uit. Vir die laaste keer, weet Mia. Want Gladys is nie meer Gladys nie.

Dis laatmiddag. Gerrie speel met haar boublokkies in die gang. Behalwe vir haar brabbelgeluide, swyg die huis. Tog voel dit asof Gladys nog hier is. Sy slaap maar net, troos Mia haarself en gaan haal die stofsuier.

Veel stof is daar nie - dis al vir dae lank windstil - maar Mia moet besig bly. Sy wil nie dink nie. Sy stofsuig die hele sitkamer, ook die banke en stoele. Besprinkel hulle dan met laventelpoeier. Uiteindelik stryk sy op die sitkamerbank neer. Vermoeid tot in haar wese.

Gerrie was weer laasnag rusteloos. "Mamma-mamma-mamma," het sy heeltyd geroep. Die kind moet wéét, dink Mia. Al kon Gladys die laaste tyd niks doen nie, was sy darem dáár.

Mia kyk by die sitkamervenster uit. Die blare hang steeds leweloos. Sy ruik nie die laventel nie, maar die boom se suurlemoen. Sy gooi haar lyf skuins oor die rusbank. Ek gaan vir 'n hele ruk nie roer nie, besluit sy.

Sy ruk wakker … en glimlag. Want op die sitplek langs haar het die gesluierde mandjie sy inhoud gestrooi: wit-en-violet blommetjies van die yesterday-today-tomorrow.

Riette Rust
is 'n vryskutjoernalis en wynskrywer van die Kaap. Haar agterblad "Ouma kry die beat" is opgeneem in Sarie se 50 Goue Agterblaaie, saamgestel deur Esme Mittner. Haar essay "'n Lekseltjie Soetwyn" het verskyn in die destydse literêre tydskrif New Contrast. "Life begins at forty", haar eerste kortverhaal, is op LitNet se LêNet gepubliseer.
 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.