NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust






Ronelle Rademeyer

Zombie meestal deur haar dae. Nie omdat sy wil nie; institusionalisering het 'n manier om dit aan 'n mens te doen. Sy woon in Windhoek, in 'n ongerestoureerde huis met 'n blinkblaar-wag-?-bietjie vlak teen die voordeur. Solitaire in die Namib is haar gunstelingplek. Sy werk by die Afrikaanse dagblad Republikein, spook al jare om 'n MPhil-graad in Joernalistiek (US) klaar te maak en was iewers op 'n kol in diens van Beeld en Sarie. Haar melankoliese samestelling noop haar om te skryf. Sy deel haar leefruimte met vier testosteroongelaaides: haar man, haar seuns en haar bokserhond.

  Ronelle Rademeyer

Die besoeker

Ronelle Rademeyer

Elfuur elke oggend het mevrou Wilsenach die ketel aangeskakel. Sy het die muurkas in die hoek oopgemaak waar sy haar beste breekgoed bêre en twee fyn Arzberg-koppies uitgehaal.

Elke oggend het sy dieselfde CD in die speler gesit: Offenbach se opera Les Contes d'Hoffmann. Dan het sy by die venster gaan staan en gewag.

Om presies tien oor elf elke oggend het herr Huttmann verbygestap gekom. Voor die hekkie na haar huis het hy gaan staan en na die venster gedraai. Sy het haar hand gelig en hom gegroet. Hy het sy kop geknik, die koerant weer stywer onder sy arm vasgeknyp, weggedraai en verder gestap.

Elke oggend. Die afgelope dertig jaar al.

Daarna het mevrou Wilsenach die twee koppies vol tee geskink. Haar tee sterk met net 'n druppel melk daarby. En omdat sy weet hy verkies sy tee flouer, het sy altyd eers bietjie kookwater bygegooi voordat sy melk en twee teelepels suiker ingegooi en die tee geroer het.

Dertig jaar lank doen sy dit al. Selfs toe haar man nog geleef en haar kinders nog in die huis was, het sy elke oggend vir haar en herr Huttmann tee gemaak.

Herr Huttmann het nooit kom tee drink nie. Net altyd geloop tot voor haar hekkie in Hoopstraat. 'n Doodloopstraat hoog teen een van die hange aan die bokant van die dorp.

*

Hulle is saam by die skool weg. Net ná hulle matriekleerlinge die ’75-eindeksamen afgelê het.

Die dag waarop sy vir Heinz Huttmann gesê het sy mag hom nie langer liefhê nie. Daardie dag het sy ook haar bedankingsbrief op die skoolhoof se lessenaar gaan neersit.

Hulle het tien jaar lank saam doseer. Daar aan die Duitse private skool op die dorp waar sy steeds woon.

Haar kunslokaal was langs die musieksentrum waar hy sang-, klavier- en klarinetlesse gegee het: die lang, regop man met die skraal vingers en fletsblou oë.

Die man wat gesê het sy laat hom wens hy was liewer 'n beeldhouer. Omdat hy haar wou verewig in marmer.

Die man wat soms in af periodes vir haar Offenbach se Les Contes d'Hoffmann op die draaitafel gesit en versigtig die lang arm met die fyn naald aan die voorkant oor die langspeelplaat laat sak het. En wat dan met toe oë sy voorvinger stadig die lyne van haar gesig laat natrek het.

Die man wat sy lief het.

Die man wat sy, Elzebeth Wilsenach, móés laat gaan.

Sodat sy kon terugkeer na haar man en seuns. Na hulle met wie sy 'n huis gedeel het terwyl haar siel smiddae met die lui van die skoolklok saam met hóm na sy klein woonstel is met die stapels langspeelplate en die rye en rye boeke.

*

Wanneer sy haar tee klaar gedrink het, het mevrou Wilsenach die koppie koue tee opgetel, dit in die wasbak leeggemaak, albei koppies uitgespoel en dit weer in die muurkas teruggepak.

Op 26 Julie elke jaar – die dag waarop hy verjaar – het sy vroeg die oggend opgestaan en 'n koek gebak. Elke jaar.

Tot daardie een oggend.

Toe hy twaalf minute oor elf nog nie sy opwagting maak nie, het dit gevoel asof 'n koue hand om haar keel klem.

Sy het haar jas van die kapstok afgelig, dit aangetrek, die voordeur oopgemaak en uitgestap.

Sy het die hekkie oopgemaak en regs gedraai in die rigting waarvandaan hy elke oggend gekom het.

Die sypaadjie was leeg. Die straat ook.

Sy het teen die steil bult afgestap tot waar Hoopstraat in die laagte met 'n Y-aansluiting deel word van 'n ander straat.

Haar asem het in haar keel gebrand.

Nêrens was daar 'n teken van herr Huttmann nie.

Uiteindelik het sy omgedraai en teruggestap huis toe.

By die aansluiting weer op in Hoopstraat geloop.

Toe sy voor haar huis kom, was haar bene bewerig van die inspanning. Sy het gevoel hoe die sweet teen haar voorkop pêrel ondanks die koue Juliewind.

Opeens het die tuinwerker van oorkant die straat voor haar gestaan.

“Hier was 'n besoeker wat na Mevrou gesoek het,” het hy gesê. “Ek het vir hom gesê Mevrou is nie hier nie. Toe het hy ingegaan. Ek het gesien hy sit 'n pakkie binne neer.”

So vinnig as wat haar knieë haar kan dra, haas mevrou Wilsenach haar na binne.

Op die tafel waar die tee in die pot intussen langs die twee koppies koud geword het, staan die pakkie. Daar langs die koek wat sy elke jaar op 26 Julie vir hom bak.

Haastig skeur sy die pakkie oop en lig die koel marmerbeeldjie tussen die papier uit.

Sy tel dit op en vryf verdwaas met haar vingers oor die fyn gelaatstrekke. Herkenbare gelaatstrekke. Háár gelaatstrekke.

Met die voorpunt van haar wysvinger trek sy die hoeke van die gesig na; vee sy oor die amandelvormige oë en die reguit neus. Tot onder teen die voetstuk waarop gegraveer staan: “Die Venus aus der Hoffnung Strasse”. Dan sit sy die beeldjie neer en hardloop uit.

“Die man, die besoeker … van waar af het hy gekom?” wil sy uitasem van die tuinwerker weet.

“Van daar bo af,” en hy beduie links op waar Hoopstraat teen die berghang doodloop.

“Maar die pad loop dan dood daar bo …?”

“Het Mevrou nie geweet nie? Hulle het die pad verleng. Dit loop nou hier bo oor die nek en dan af teen die anderkant van die berg tot doer onder in die dorp. Ons bly nie meer in 'n doodloopstraat nie.”

Vir die tweede keer vanoggend haas mevrou Wilsenach haar na binne.

Sy het 'n oproep om te maak.





LitNet: 7 November 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.