NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Maretha Potgieter is gebore in 1974 in Gauteng maar is deesdae ’n Oos-Kapenaar. Nadat sy haar honneursgraad in 1996 by Rhodes Universiteit behaal, bly sy aan in Grahamstad vir ’n MA en om klas te gee by die Afdeling Afrikaans en Neerlandistiek. As wenner van die ATKV-Intrapslag dramaskryfkursus word haar drama Droom in 1998 by die KKNK opgevoer en in 1999 groet nog twee van haar tekste die voetligte van die Oudtshoornfees. Grahamstad wag nog steeds ...
  Maretha Potgieter

DIE DEUR

Sy het by die tafel gesit en omgedraai. Lank na hom gekyk waar hy soos ’n kind opgekrul onder die duvet lê en toe aangekondig: Ek het jou nie meer nodig nie. Hy’t half deur die slaap met een arm die kussing langs hom om die nek beetgekry, dit styf vasgehou en omgedraai. Sy’t opgespring, die kussing by hom gevat en gesê: Ek’s fokken moeg vir jou, hoor jy my. Hy’t geskrik en na haar gekyk of sy ’n vreemdeling is. Eindelik, het hy droogweg geantwoord: Ek het so gedink, ja.

Die tafel se blad was oorspronklik ’n deur. ’n Voordeur. Enorm groot met donker insetsels wat deur ’n Italianer aan sy oupagrootjie afgesmeer is. Na die plaashuis afgebrand het, het hy dit uit die kosyn gekap en dit saam met hom gebring. Die enigste soewenier van geslagte se geskiedenisse wat hulleself afgespeel het agter die toe deure van die familiewoning. Maar hy kon nêrens weer ’n huis kry met ’n groot genoeg kosyn om dit weer as deur te gebruik nie. Hy het dae lank rondgery met die deur agter op sy bakkie en oral waar hy ’n huis gesien het met kolossale kosyne het hy eers gestop en gekyk of dit nie dalk daar sou pas nie.

Tot die dag wat hy voor haar huis gestop het. ’n Kasarm van ’n huis waarvan die pleister met die volgende ryp sou afdop. Eers het hy by die vensters ingeloer om te sien of daar dalk iemand was wat kon help dra. Die huis was so leeg dit het gelyk of die mense getrek het en te gatvol was om die laaste goed in te pak. Dis ’n goeie teken. Hy was net besig om die deur los te knoop toe haar Beetle agter hom stop.

“Wat maak jy?”
“Ek kyk of die deur pas.”
“Jy doen wat?”
“Ek soek ’n kosyn vir die deur.”
“En dan? As jy nou een gekry het?”
“Wel, dan koop ek die huis.”
“Dis my huis die.”
“O ... bly jy al lank hier?”
“Lank genoeg.”
“O.”
“En toe? Pas die ding?”
“Ek weet nog nie.”
“Kan jy dalk help dra?”
“Nee. My huis is nie te koop nie.”
“Ek is seker ek kan jou ’n baie goeie aanbod maak.”
“Ek stel nie belang nie.”
“O.”
“In elk geval, die deur sal nie pas nie.”
“Hoe weet jy?”
“Wel, daar’s klaar ’n deur daar.”
“Ja ek sien, maar hierdie een is mooier.”
“Who cares ...”

Sy het omgedraai en die bestaande voordeur oopgesluit. Na ’n paar oomblikke het sy weer uitgekom. Lank na die deur gekyk. En toe na hom. Asof sy wou seker maak dat hy sou pas. Bring die deur dat ons kyk of hy groot genoeg is.

Dit was asof die huis vir die deur gebou was. Sy wou nie verkoop nie, en hy wou die deurkosyn hê en toe trek hy in. Eers by een van die agterste kamers. Die deur het hy solank staan gemaak in die sitkamer (of liewers, een van die voorste kamers met ’n regop bank daarin) totdat hy kans kry om die ding in te sit. Dis mos nou helemal useless. ’n Deur met ’n kosyn, maar die twee staan langs mekaar. Ek sal nog daarby uitkom, dit gaan net bietjie druk by die werk. Kry nog ’n bietjie wyn. Na een nag saam op haar motgevrete matras, waarop hulle heelaand rondgerits het en uiteindelik doodmoeg langs mekaar aan die slaap geraak het, het sy die deur nadergesleep en daaronder ingeskuif.

Hy’t aanvanklik nie opgemerk die deur was nie meer in die sitkamer nie, tot hy die dag met ’n klomp goed opgedaag het wat hy by ’n skrynwerker geruil het vir ’n bottel brandewyn. Duur brandewyn, want die ou het geweet goeie gereedskap kry jy nie aldag nie. En die beitels en troffels het nie eers aan homself behoort nie.

Waar’s die deur? Ons slaap daarop, jou aap. Is jy nou simpel. Glad nie. Ek het ’n deur, maar nie ’n bed nie. Nou’t ek ’n bed en ’n deur, het hy gedink. Nog ’n bietjie wyn? Ek gaan more ’n bed koop. Kom jy saam? Ek het nie ’n bed nodig nie. Ek wil my deur terughê. Sê dan so. Ek het nie ’n deur nodig nie. Dit pas tog. As jy so dink. Hy’t teruggekom met ’n wafferse queen size bed.

Toe hy die volgende dag van die werk af kom het sy die deur agter teen die muur staangemaak vir ’n koppenent. Jy’t ’n bed sonder koppenent gekoop. Die bed het nie een nodig nie. En dit lyk belaglik. Dis jou deur wat belaglik lyk. Dis omdat dit ’n deur is. Hy’t gewoond geraak aan die deur agter die bed en by tye was dit selfs vir hom mooi. Nou’t hy ’n deur, ’n bed en ’n koppenent.

Haar vriende het kom kuier. ’n Spul daggarokers, het hy by homself gedink, maar self lekker gekuier die aand. Hulle hou nie van jou nie. Jy praat te veel en sê te min. Wat dink jy? As ek vir jou wou sê sou ek. ’n Week later hang die deur teen die muur in die sitkamer. Wat nou van ons koppenent? Niemand kan dit tog daar sien nie en ek het nie prente teen die mure nie. Dit lyk soos ’n uitstalling. Dit is. Vir jou vriende om te sien. Vir jou om iets oor te sê.

Haar vriende het daarvan gehou. Een wou dit selfs koop. Maar hy het sy voet neergesit. Gesê sulke dinge kan jy nie koop nie. En hier is ’n kosyn daarvoor. ’n Ander vriend wou dit gebruik vir ’n fotosessie. As agtergrond. Sy het haar skouers opgetrek en na hom gekyk. Hoekom nie, dit kan seker nie skade doen nie. Maar dit moet hier in die huis bly.

Die middag van die fotosessie het hy vroeër as gewoonlik by die huis gekom. Sy was gedrapeer bo-oor die deur terwyl die insetsels die lyn van haar boude en borste ge-eggo het. Ek het nie geweet jy gaan die model wees nie. Wie anders? Skink vir my ’n bietjie wyn. En vir die fotograaf ook.

Die fotograaf het ook daar ingetrek. Hy het die deur nodig gehad vir ’n studie wat hy beplan het. Die model ook. Dit sou makliker wees so. Dan kan hy die deur, en die model, in alle soorte lig afneem. In ruil vir ’n paar afdrukke. Om teen die muur op te hang.

Om sy sukses met sy projek te vier het die fotograaf ’n klompie mense genooi vir ete. Vir ’n grap het hulle die deur gebruik as eetkamertafel. Hulle het baie wyn gedrink en nadat die eerste glas gebreek het, het hulle almal begin saamverf aan die rooi kunswerk. Die fotograaf het sy sigarette daarop doodgedruk.

Die volgende oggend was ’n Saterdag. Hy het ’n winkel gaan soek met skuurpapier en die res van die dag getorring aan die deur. Hy’t selfs ’n ghoeroe raad gevra, maar die wynvlekke wou nie uit nie. Die sigaretmerke was ook permanent. Los dit uit. Nou’s dit ten minste nie meer so vervelig nie. Dit was nooit vervelig nie. As jy so sê. Ek wil hê dit moet weer ’n deur wees. Ek hou daarvan as ’n tafel. Ons sit dit in die kamer, waar net ons dit kan sien. Dalk irriteer dit jou dan nie meer so nie. Die deur irriteer my nie.

Sy het by die tafel gesit toe sy vir die eerste keer omgedraai het en vir hom gesê het wat sy dink. Hy kon die tafel nie deur die kosyn kry nie, want hy het pote laat maak wat by die blad sou pas. Groteske pote, wat die deur byna te swaar gemaak het om te dra. Hy het voorlopig die tafel daar gelos en sy eie plek gekry.

Een oggend het hy in die asbakkie gekrap vir ’n sigaret wat dalk halfgerook daar agtergebly het. Hy het intussen kwaai begin rook. Terwyl hy so vroetel het hy op ’n sleutel afgekom. Hy het na haar huis toe gery en van ver af reeds gesien, dat sy deur perfek pas in die kosyn. Hy het verbygery en die sleutel geruil vir ’n bottel goedkoop wyn.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.