NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Peter Louw
het ’n regsagtergrond. Hy is die skrywer van ’n digbundel, Tantalus, en die samesteller van Verborge vuur, ’n bloemlesing uit die gedigte van N P van Wyk Louw, met verklarende aantekeninge. Sy boek Oorwin hhhakkel is in Engels vertaal as Coping with Stuttering. Hy woon in Kaapstad en werk as ’n taalpraktisyn.
  Peter Louw

Bougainvillea

Kort ná ons terugkeer uit Nederland in 1959 het my ouers in die gewoonte gekom om Sondagmiddae in die noordelike voorstede van Johannesburg rond te ry, soos egte “Zondagsrijders” in Nederland dit ook graag gedoen het. Maar waar die Nederlanders dan gewoonlik verder uit die stad gegaan het, het ons juis die stad verken en huise gekyk, nie om ’n huis te soek nie — dié het ons toe al gehad, ’n gerieflike dubbelverdieping in Parkview — nee, ons het ons verlustig in die uitgestrekte voorstede, iets wat ons nie in Amsterdam geken het nie.
     In Amsterdam was ons lewenstyl anders — ons het nie ’n motor gehad nie, behalwe die minuskule Fiat 500 wat my ma later aangeskaf het en waar die hele gesin nooit saam ingepas het nie — en vir my was dit eerder ’n binnenshuise bestaan tussen ons netjiese woonstelgebou en die nabygeleë skool. Naweke is gewoonlik tuis deurgebring, want met die ewig bewolkte weer was tuis in elk geval die beste plek om te wees, met boeke soos die Arendsoog-cowboyreeks, Rik Robberts en sy ruimte-avonture, en Kuifie.
     Koud buite, maar gesellig binne. Gedwing tot ’n hoofsaaklik binnenshuise bestaan, het die Nederlanders dié lewe tot ’n kuns ontwikkel, met die korrekte beligting van staan- of tafellampe — nooit die genadelose boligte wat ’n mens so dikwels in Suid-Afrika kry nie — mensvriendelike gordyntjies en potplante, en kapstokke waaraan die swaar winterjasse gehang kon word. Die Amsterdammers was ingerig vir die koue, en ek kan nie onthou dat ek daar ooit werklik koud gekry het nie; die sentrale verhitting het daarvoor gesorg.
     Vir my was die Amsterdam van my grootwordjare — want ek is as baba saam met my ouers Nederland toe — ’n wêreld van veiligheid en beskutting, hoewel miskien ietwat eenselwig en kleurloos. As afwisseling van die skool en woonstel was daar wel die weeklikse koms in die straat van die draaiorrelspelers, of anders die “scharensliep” (skêrslyper), die bakker en die melkman op hul trapfietse met ’n syspan waarin hulle hul ware vervoer het. Hulle het hul koms met skor skreeue aangekondig, mans met wye broeke en donker hemde. Amsterdam van die vyftigerjare het ek ervaar as ’n middelpunt van sekerheid en fatsoenlikheid, ondanks of miskien juis vanweë die spoke van die oorlog wat vir die volwassenes nog oral in die agtergrond gedwaal het, maar vir ons kinders verborge was.
     Johannesburg, met sy voorstede, bome en tuine was dan ook vir ons iets nuuts en wonderliks, en bereikbaar met my pa se nuwe Mercedes 190. My pa, wat in elk geval ’n stadige bestuurder was, het dan stadiger as ooit die rustige en blaarryke strate deurkruis om die huise te bekyk. Want ’n huis van ons eie, dit was vir my ouers, ná die nege jaar in die woonstel in Tintorettostraat, iets opwindends, en ons was baie huisbewus en op soek na idees om ons eie huis verder te verbeter.
     En dan die middagson, ook iets heerliks ná die koues en sneeu, wat die voorstede deurstraal het. Ek het saam met my suster agter gesit en dit alles ingedrink. Vir my as kind was dit ’n nuwe werklikheid van ruimtes en afstand, van son en fel kleure, van onbekende struike en blomme, alles gesien deur die ruite van die stadige motor.
     My lewe het nou eers werklik begin, het ek gedink, gerieflik diep weggesak in die sagte bekleedsel van die agtersitplek. Die motor was soos ’n groot skip wat vreemde lande besoek het, my pa was die kaptein en ons kinders die ryk passasiers wat hulle dit laat welgeval.
     Soms, as ’n huis vir my ouers besonder interessant was, het ons stilgehou en is dit bespreek; kommentaar gelewer op die styl, die argitektuur, die praktiese geriefswaarde, bowenal die geselligheid daarvan, en ek was verbaas oor my ouers se waarnemingsvermoë. En daar was ’n wonderlike verskeidenheid: Victoriaanse en ander Britse invloede met grasdakke, Kaaps-Hollands soms, of modern met sierstene.
     Een middag het ons, nadat ons van ’n hoofstraat afgedraai het, ’n buurt ingegaan waar ons nog nie tevore was nie. Dit was warm en ek het, welbehaaglik ná die uitgebreide Sondagete wat William voorberei het, lomerig deur die venster gekyk toe my pa vra wat daar voor aan die gang is. ’n Groepie mense het in die straat voor ’n huis gestaan, terwyl ’n vangwa aan die oorkant geparkeer was. My pa, ’n nuuskierige man, het stilgehou en ons het by die groep aangesluit.
     ”Big dog has bitten the madam there in the house. The madam is dead,” het ’n hoflike swart man in ’n pak klere en met ’n das — klaarblyklik op pad van of na ’n kerkbyeenkoms — ons ingelig. Op daardie oomblik het ’n skoot geknal, gevolg deur ’n skerp huilgeluid. Dit was die eerste keer dat ek ’n pistool gehoor skiet het, behalwe dan oor die radio, of in die cowboy- en speurflieks wat in die Cineac in Amsterdam vertoon is. Dit het nie geklink soos die karabyne van die Amerikaanse pioniers in Arendsoog grijpt in nie, of in elk geval soos ek my verbeel het dit geklink het nie. Dit was baie harder, maar die skoot het dan ook van die agterplaas se kant gekom, sodat die klank moes weerkaats het.
     ”The police, they are shooting the dog now. But the dog does not die,” het die hoflike swart man verduidelik. “Many times they shoot the dog.” Die aakligheid van die situasie was só onverwags dat my ouers seker vergeet het om ons kinders terug na die motor te stuur. Nie dat daar veel te sien was nie. Die polisie was waarskynlik êrens agter. Die huis self was eintlik heel gewoon, witgepleister en met sierstene, met ’n wilgerboom aan die regterkant en ’n struik met pragtige rooi blomme — ek het later uitgevind dis bougainvillea — naby die buitehek waar die omstanders gestaan het. Aan die linkerkant van die huis was ’n voordeur, maar die gordyne was orals toe.
     Weer het ’n skoot afgegaan, weer gevolg deur ’n getjank. ’n Blanke man met wit hare het met my pa begin praat. “Die hond blaf al twee dae,” het hy gesê. “Vanoggend het ons die polisie gebel. Toe kry hulle die vrou in die huis ... Toe hulle die deur oopbreek, storm die hond by die huis uit, na die agterplaas ...”
     Op daardie oomblik het die withaar-buurman aarselend na my gekyk, en ek het taktvol weggedraai en gemaak of ek nie na hom luister nie. Die bougainvillea het welig by die hek geblom. Nog nooit het ek sulke mooi blomme gesien nie, het ek gedink. Versigtig het ek met my vinger aan een van die blomme geraak.
     ”... vriendelik gegroet ... ’n geskeide dame ...” Ek kon nou net los frases uitmaak, maar die buurman, waarskynlik in ’n effense skoktoestand, het nou behoorlik vlamgevat. “... Altyd hier met die pragtige hond gaan stap ... baie goed versorg ...”
     ”Wat se soort hond is dit?” het ek my pa hoor vra.
     ”Alsatian.” Weer ’n knal êrens agter die huis, en ’n vreemde, lang gegrom. ’n Polisieman het uit die agterplaas gekom, skynbaar totaal onbewus van die klein groepie mense, en sy pistool in sy holster gebêre. “Nee jissis, ek gaan nie weer in daai kamer nie. Ons wag maar vir die speurders,” het hy vir iemand in die agterplaas geskreeu, en na die buurman geloop.
     ”Ek weet nie wat met hierdie hond aangaan nie. Hy is in sy hok, maar dis ’n groot hok en dis donker daar. Ons kan hom nie mooi sien nie, dan skiet ons maar ’n skoot. Ek gaan wraggies nie daar inkruip nie.” Ek het weer nadergestaan. Die polisieman was baie jonk, het ek gedink, seker nie ouer as my nuwe Afrikaans-onderwyser nie. Op sy wange was ’n paar klein, rooi puisies. Daar was lang tye van stiltes tussen die skote. Ek het gewonder wat die ander polisieman in hierdie stiltes doen.
     ”Wat het met die vrou gebeur?” het my pa die polisieman gevra. ’n Oomblik stilte. Die jong man met die puisies het my pa aangestaar, asof hy die vraag nie gehoor het nie. Toe kyk hy na die buurman, wat op daardie oomblik wegkyk. Die son was warm en het ek begin sweet. Suid-Afrika is regtig ’n warm land, het ek gedink.
     ”Ons weet nie,” het die jong man uiteindelik gesê. “Ons wag vir die speurders. Maar die huis was toegesluit, niemand het ingebreek nie. Sy’s gebyt, dis seker. Daar’t snaakse goed daar gebeur.” Die polisieman kyk bietjie rond, en praat saggies met my pa. Geleidelik kom ’n uitdrukking van totale ongeloof op my pa se gesig.
     Dit is ’n vreeslike mooi struik, met die rooi blomme, het ek gedink. Was daar in Nederland ook sulke struike? Hoekom het ek hulle dan nooit daar gesien nie? Die vrou wat nou dood in die huis lê, het dit seker versorg. Sy het van struike gehou. En van haar hond. Die son het nou genadeloos gebak, en die gloed teen die wit mure van die huis het my verblind. Ek het lighoofdig begin voel.
     ”Jy moet hulle reg hanteer,” het iemand gesê. Dit was die buurman. “Alsatians. Goeie honde. Jy moet hulle net reg hanteer,” en daar was iets wanhopigs in sy stem.
     ”Dit was nie regtig die hond se skuld nie.” Die buurman het gepraat asof hy met homself redeneer. “As jy met so iets lol, dan ...” ’n Skoot het geknal, toe nog een, en die geluid het deur die stil, rustige buurt weergalm. As iemand nog met hul middagslapie besig was, is hulle nou wakker, het ek gedink. Die Sondagmiddag is onherroeplik versteur. Die buurt sal nooit weer dieselfde wees nie.
     Toe eers het ek besef dat ons hierdie keer nie weer ’n getjank gehoor het nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.