NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Pienkes du Plessis
Getoë in die Noord-Kaap, lank terug toe almal arm was. PUK by die CHO, eers onderwyser, toe omroeper/regisseur by SAUK. Skryf ’n paar dosyn radiostories en ander bloedstollende goeters, alles om den brode; word sakeman in 1964; 36 jaar later tree ek af en stig saam met ’n bank die Welgevonden-wildreservaat in die Waterberge. Publiseer Duinestories by Human & Rousseau. Vir vyf jaar al immigrant op Somerset-Wes. Tans met ses maande langverlof twee keer ’n jaar.
  Pienkes du Plessis

Die man en die hond

Ware kronieke uit die Waterberge

Pienkes du Plessis

Eendag was daar ’n man wat in ’n groot stad gebly het. En die man het ’n hond gehad. Dit was ’n swart en wit hond met spitsore. Die man het ook ’n plaas gehad. En ’n geweer. Baiekeer het hy na sy plaas toe gegaan en sy hond en sy geweer gevat en tot op ’n hoë punt van ’n berg geklim om die plaas mooi te kon sien. Langs die pad het die swart en wit hond vir die wilde diere geblaf en hulle gejaag tot hulle ver weggehardloop het. Dit was ’n goeie ding dat die man se voorman die plaas met hoë drade toegespan het, want anders sou die diere dalk verdwyn het. Die man raas dan met die hond, maar dit help nie veel nie want dis vir die hond baie lekker. Die man kon baiekeer ook nie help om hardop te lag as die hond in sirkels om die renosters hardloop en hulle kwaad maak nie, want dan was dit weer die hond se beurt om weg te hardloop. Dieselfde soos met die bobbejane.

So, daar was dan baie dinge wat langs die pad gebeur as hulle met die klowe langs en oor die strome tussen die wilde diere deur na die bergspits toe stap. As hulle dan by die hoë punt kom, gaan staan die man en dan kyk hy na die verste horisonne om hom. Eers na die een kant toe vir ’n lang ruk, en dan weer na die ander kante toe, ook vir lang rukke, want daar is baie om te sien. Valleie en klowe en ander kleiner berge. Daar is ook waterstrome op baie plekke, en as hy sy oë op skrefies hou, dan sien hy goed in die bos wat ander mense nie raaksien nie omdat hulle te bolangs kyk. Omdat alles duskant die horisonne op die verste punte, en die horisonne self, nog steeds deel is van die man se plaas, het hy gewonder hoe dit aan die anderkante van die horisonne lyk. As hy dan by die horisonne kom, dan sien hy daar is ander valleie en ander klowe aan die anderkant wat ook vir hom baie mooi is. Dan gaan hy terug na die stad toe en gaan kyk in sy bank of daar nog geld is om van hierdie ander klowe ook by te koop. Elke keer dan vat die voorman die hoë drade en skuif dit verder sodat die wilde diere by die nuwe klowe ook kan kom om daar te wei of daar te wees. So het dit dan gebeur dat die man met sy hond uiteindelik van ’n hoë bergspits af nie die einde van die plaas kon sien nie, want die einde van die berge en die klowe was ánderkant die verste horisonne. Dit het dus ’n groot wildland geword.

Al hierdie dinge het gebeur ’n lang tyd voordat die man van die bank na die wildland toe gekom het, ook nog voor die tyd van die groot verdriet. Hierdie verdriet het begin die eerste keer toe ’n groot skewe maan een nag wit geword het. Die wolwe en die uile met ronne oë het alles gesien en baie later daarvan loop en rondvertel.

Omdat die man van die wildland ’n vername man was, het daar ook ander vername mense uit die stad na die wildland toe gekom om ook na die klowe en berge met die waterstrome te kyk. En die vername mense was baie verbaas as hulle sien hoe ver die horisonne is, en veral ook oor daar nog ander berge en klowe aan die anderkante was wat hulle nie eers kan sien nie. Hulle was egter die meeste verbaas oor die water wat vanself onder klippe uitgekom het en strome geword het wat sommer enige plek heen geloop het. Partykeer het die man sy geweer gevat en een van die wilde bokke geskiet wat sy vrou dan in ’n groot swart pot in die aand om ’n vuur vir die vername mense gaargemaak het. Eers is daar vlamme, en dan later net kole. Dis dan eers dat almal die groot donkerte met die baie sterre kan sien. Behalwe om met sy hond vir die horisonne te kyk, was dit vir die man die heel lekkerste. Vir die vername mense ook, want in die stad is daar nie in die aand vure waarop hulle wilde bokke kan gaarmaak nie. Daar is ook nie ’n donkerte in die stad nie want die sterre en die ligte is daar deurmekaar. Dis dan hoekom dit vir almal so lekker is om ’n wilde bok by die vuur in die groot donkerte te kan eet. Maar op die nagte dat daar ’n wit maan is wat oor die berge hang, dan bly die sterre weg en dan is dit net die wolwe wat huil of die jakkalse wat langtjank. Dit laat die vername mense verdrietig voel.

Behalwe die wilde bokke was daar ook nog ander wilde diere wat saam op die wildland gebly het. Maar al hierdie wilde diere was bang vir hom en het weggehardloop as hy naby hulle kom, want hulle kon sien hy het sy geweer by hom. So was daar aasvoëls en muskeljate en ander rooikatte. Ook tiers en wolwe en krokodille en otters en slange, van die vettes wat pik of spoeg en van die grotes wat van die bokke vang en stadig insluk. Die man het dus dikwels avonture beleef maar waarby andere aan wie hy dit oorvertel het, nie veel belang gehad het nie of vermoed het dat hy dalk nie die waarheid vertel nie. Soos die keer toe hy vir ’n man, wat baie vernaam en baie geleerd was en eintlik ’n doktor geword het van baie geleerdheid, vertel het van die wit mot wat ses dae lank vir die spreeu weggevlieg het en maklik gewen het. Die geleerde man het agter sy hand gelag toe hy vir ander vernames en geleerdes van die mot vertel, maar toe sien die man van die wildland hom hoe hy agter sy hand lag. Hy het ook gesien hoe daar andere was wat ook agter hulle hande gelag het, en dit nogal oor werklike avonture wat mens net kan sien as mens nie net bolangs kyk nie. Naderhand het hy dus geleer om net van party avonture te vertel en die bestes vir homself te hou.

Dit was ’n slim plan van hom, want so het dit gekom dat niemand van die miere gehoor het wat die rotsblok van een meter by een meter by een meter opgetel het en een meter verder gaan neersit het nie. Of van die gifplant wat met een wortel van ’n plek af deur sewe valleie gegroei het en sewe beeste in sewe minute laat vrek het nie. Daar was ook die keer toe hy gesien het hoe water in ’n sloot opdraand loop. Net as hy alleen is, en as dit die eerste lentereën is, sien hy dit, hy en sy swart en wit hond met die spitsore. Maar nie voor vreemdes nie, want dan loop die water soos gewone water, al was dit ook na die eerste lentereën. Eenkeer moes hy die hond en sy geweer ook nog deur die sloot dra want daar was ’n vloed.

’n Ander avontuur wat hy vir homself gehou het, was die keer toe hy gesien het hoe die skilpaaie vir ’n groot vuur vinnig weggehardloop het. Dis van al die poerabessies eet dat die skilpaaie op die man so plaas so vinnig vir vure kon weghardloop. Dit was net die heel kleinstes wat doodgebrand het en wat hy later in die veld opgetel en opgeëet het. Hy het ook nooit vertel van die boklam wat twintig minute oud was en toe saam met die groot bokke volspoed oor die vlak vir ’n tier weggehardloop het nie.

Hy het ook stilgebly van hoe drie bruin wolwe op ’n nag met ’n wit maan in die lug ’n groot bok teen die voorman se heining vasgekeer en opgevreet het, alhoewel almal tog weet bruin wolwe vreet net muise en miere en goed wat nie in ’n bos skade maak nie. Gladnie wilde bokke nie. Maar dieselfde nag nog toe blaf en huil die wolwe en die jakkalse vir ’n lang tyd, alles oor die bok by die draad en die maan bokant die berg. Eers blaf hulle, dan dans hulle, en dan huil hulle. Lang huile, want dis oor die maan wit is. Op sulke nagte is die uile nogal bly want dan kan hulle allenig die muise opvreet.

By Wolwedans was dit.

Daar was nog ander gediertes in die bos waarvan hy ook liewer niks vertel het nie. ’n Lys hiervan is soos volg: meerkaaie en eekhorings, uile en gewone muise, hase en ape van die soort ape wat lastig by mense se blyplekke is, dan die klein apies in die nag, van die soort wat nie lastig by mense se blyplekke is nie, bloustertakkedisse, klipakkedisse en van die koggelmanders met die blou koppe, en laastens die spinnekoppe wat in die reëntyd giftig is en waarvan een die man se vrou gebyt het by die plek met die naam Aap zijn Moer diep in die berg. Dit was toe haar voet vir veertig dae en veertig nagte lank opgeswel het. Op ’n ander lys was daar ratels met taai velle, visse met blou vinne, arende met wit kruise, arende met bruin vlerke, valke met krom swawels en dan varingplante met breë blare wat rotte en hase kan vang en eenkeer, waarvan hy verseker weet, ook ’n klein piekanienkind wat baie stout was. Dit was ook ’n groot geluk dat die man so baie van die tale van die bos goed kon praat. Behalwe Afrikaans en Engels was daar Spreeus, Bobbejaans, Skilpads, Spruits, en ’n bietjie Renosters. Ook nog Noord-Koedoe en Suid-Koedoe. En Wolfs. Dis hoekom hy so goed kon weet wat die spreeu heeltyd vir die mot geskreeu het en ook nog ander goed wat skilpaaie vir mekaar sê as hulle vinnig hardloop.

So, daar was dus allerhande avonture wat hy en sy hond alleen beleef het.

Eenkeer het die hond lank met ’n slang baklei en blind geword. Dit was toe die slang hom raakspoeg met bruin spoeg wat eintlik gif was. Maar toe word die hond baie kwaad en skeur die slang in repe. Eers agterna die oggend toe word hy blind. Die man se hart was seer toe hy dit sien en het gedink dit sal goed wees as hy die hond skiet, want ’n blinde hond sal nie saam met hom in die berg kan loop nie. Ook sal die hond baie tjank as hy weet die man stap sonder hom in die berg rond. Die man se oë begin toe branderig raak, maar gelukkig was dit nie van die bruin gifspoeg nie, want as dit gifspoeg was dan sal hy nie mooi kon gesien het as hy oor die klippe en rotse en slote terugstap nie. Hy vee toe sommer sy oë met sy mou af en hou die geweer teen die hond se kop. Maar net toe onthou die man van ’n beesteboer op ’n plaas anderkant die horison wat eers ’n dokter was en diere wat siek is inspuit. Hy tel toe die hond in sy arms op en met die geweer oor sy skouer begin hy aanstap na die beesteboer se plek toe. Die son is warm en word al warmer en warmer en die hond word toe ook naderhand baie swaar. Drie keer langs die pad drink hy water uit ’n stroom uit. Hy maak sy hande bak en dan drink die hond ook en elke keer maak hy sy waterbottel ook nog vol.

So stap hulle van die oggend tot die vroegmiddag voor hulle by die beesteboer kom wat eers ’n dokter was. Teen hierdie tyd was die man al moeg en het hy baiekeer gewonder of daar ’n sterk genoeg inspuiting sal wees om die hond se blindheid te kan gesond maak. Die beesteboer wat eers ’n dokter was, sê toe ja hy het so ’n sterk soort inspuiting en hy het spesiale salf ook wat ’n slang se bruin gif uit ’n hond se oë haal. Dit was ’n groot geluk, dink die man, dat die beesteboer eers ’n dokter was en die hond kon inspuit, want voor die dag om was, moes hy al weer met die hond raas omdat hy die bokke in die veld jaag. Toe weet hy verseker dat die hond nie meer blind was nie. Hy dink toe ook dat dit goed was dat hy nie die hond geskiet het nie.

Mens kan dus sien dat die man se plaas wat ’n wildland geword het, ’n plek was waar hy baie gevare tussen die gediertes kon beleef. Meeste gediertes, het die man gesien, het daarvan gehou om mekaar op te eet. Hy het ook gesien dat meeste ’n beurt kry om opgeëet te word maar dat hulle naderhand gewoond raak daaraan om opgeëet te word. Party word nie opgeëet nie, maar verbrand of slaan neer van hongerte of van dors of van sterk gif van adders. Maar almal kry ’n beurt. Party anders versuip in diep water, soos eenkeer die twee renosters wie se horings te swaar was en toe in die Taaibosspruit nie hulle koppe bokant die water kon hou nie. Die man het al twee die velle laat brei en ’n baadjie teen koue, ’n tas vir papiere, ’n sambok vir ronddra en op die grond slaan en ’n sak vir sy geweer laat maak. Ook ’n hoed met een opslaankant. Almal kon toe sien hy was ’n vername man van ’n groot wildland.

Die man en sy vrou het ook kinders gehad. Behalwe die name wat die predikant in die kerk die tyd met die water uit ’n bakkie op hulle voorkoppe aangesmeer het, het hulle ook die volgende name gehad toe hulle nog klein was, naamlik Lelikste Kind, Beste Kind en Mooiste Kind. Lelikste Kind was ’n seunskind wat eers lelik was. Hierdie kinders het in die stad gebly waar hulle ver gaan leer het en naderhand baie geweet het. Maar hulle het nogtans nie soveel soos die man geweet nie, byvoorbeeld van die miere en die opdraand water en die skilpaaie en sulke goed het hulle nie geweet nie. Ook niks van die varingplant met die breë blare wat die piekanienkind gevang het nie. Hulle het ook nie geweet waar Wolwedans was nie.

Dit was ’n duidelike bewys dat mens nie in boeke in ’n stad van alles kan leer nie. Nogtans was dit vir die man en sy vrou en hulle kinders wat in die stad ver gaan leer het, baie lekker om saam na die verste horisonne te kyk en almal saam te wonder oor die anderkante van die berge in die wildland.

Later toe kry hulle kinders ook kinders. Lelikste Kind se nuwe vrou het eerste gebaar, en dit was ’n seunskind. Beste Kind self ook, en dit was ook ’n seunskind. Maar Mooiste Kind was in die tyd nog te klein om babatjies te kan hê, alhoewel Lelikste Kind se vrou en Beste Kind ook nog weer gebaar het, en een was ’n dogterkind wat met ’n koedoepop graag gespeel het. Die ander een was ’n dierekind want hy het met die wilde diere lang geselskappe in sy eie taal gemaak as hy hulle in die veld sien. Die man was gaande oor die nuwe babatjiekinders as hy hulle hoog optel dat hulle ook die verste rante en die verste horisonne kan sien. Die swart en wit hond was net so gaande oor die babatjiekinders en het dan heeltyd geblaf as die man hulle so hoog optel. Die babatjiekinders was ook gaande om hoog opgetel te word sodat hulle die horisonne kon sien. Dit was die rede hoekom hulle so baie gelag het. Hy en die hond en die kinders het saam dan baie grappe gehad, wat ’n bewys was dat daar baie grappe op ’n groot wildland kan wees.

Dis toe dat die man se vrou en die nuwe ma’s wat die babatjies gekry het, onthou het van die wolwe wat babatjies in hulle krippe vang en halfpad opeet. Omdat dit vir die man baie swaar sou wees as ’n wolf een nag as daar ’n wit maan is een van die nuwe babatjies vang en halfpad opeet, het hy vir die voorman gesê om van sy sterkste drade te vat en die plek waar hulle bly, ook toe te span. Eers toe dit gebeur het, was die nuwe ma’s en die man se vrou en al die ander vrouens wat al babatjies gehad het, tevrede dat die wolwe nie in die nag sou inkom en hulle babatjies vang net om hulle halfpad op te eet nie.

So het dit dan gebeur dat die wolwe nie in die nag van die man se kinders se babatjies gevang het nie, wat ’n goeie ding was. Die wolwe loop soek dan in die nagte met ’n wit maan ander vreetgoed en dis toe hulle op die perdemerrie en haar vul afkom. Die merrie het die voornag halfpad op haar rug gelê en diep geslaap toe die grootste wolf met een hap die helfte van haar uier uit haar lyf ruk en daarmee weghardloop. Die wurms en die bruin brommers het toe die volgende dag in die merrie se ander helfte van die uier ingetrek en toe was daar nie plek of melk vir die vul om te suip nie. Hy het slinger-slinger langs die merrie gestaan toe die man twee dae later in die laatmiddag op hulle afkom en hulle deur die kop skiet. Daarna was dit ’n nag wat die jakkalse die meeste gehuil-tjank het soos hulle vreet en mekaar naderroep. Daar was die volgende dag nogtans heelwat oor vir die aasvoëls, maar die sagste dele van die merrie en haar vul se vleis was klaar weggedra. Toe hy agterna na die spore kom kyk toe die jakkalse en die aasvoëls klaar was, was die man verbaas dat die wolwe nie ook kom vreet het nie.

Daar was ’n ander keer net na die keer met die merrie en die vul dat almal baie verbaas was oor wat die wolwe toe gedoen het. Daar was ’n jong vrou, baie jonk nog, maar een met vol borste en wye heupe en ’n wye mond en wie se bruidegom in die ystermyn ver anderkant die berg gaan werk het sodat hy genoeg geld kan kry om die laaste drie beeste te betaal wat hy haar pa nog geskuld het. Sy het allenig in haar eie slaaphut aan die kant van haar pa se kraal gebly en as daar jongmanne van ’n kraal, drie valleie verder, met ’n beestetrop op haar pad by haar verbykom as sy water of hout vir die nag gaan haal, het sy haar heupe wyd geswaai en met ’n wye mond gelag. Dit was oor sy baiekeer belustig geraak het maar haar bruidegom was ver weg waar hy in ’n ystermyn gewerk het. By hierdie ander kraal, drie valleie verder, het die sterkste een van die jongmanne elke nag oor haar mond en haar borste en haar heupe gedink en geweet dat haar belustigheid tussen haar wye heupe lê. Dis dan dat hy sien hoe sy natuur sterk en groot word. Dit gebeur met hom herhaaldelik en dis hoekom hy een laataand toe dit nog vroegnag was, langs haar kom lê buite haar hut op haar slaapmat. Toe sy lag, sien hy haar belustigheid tussen haar heupe is groot, en hy sien sy natuur is groot, en so bestyg hy haar en hulle paar herhaalde kere. Die jongvrou kry baie genot daaruit as hy herhaaldelik met haar paar, en dan hyg sy met toe oë. Eenkeer skree sy ook. Toe dit voornag word en ’n groot wit maan in die lug hang, is die jongman uitgeput en sonder natuur, en toe hy vertrek na sy plek toe, drie valleie verder, is die belustigheid tussen haar heupe weg en bly sy net doodstil op die grasmat by haar skerm lê sonder om, soos sy geleer is, die slaapkaros van beesvel oor haar kop te trek.

Dis soos die wolwe haar in die diep nanag gekry het. Hulle sien haar oop gesig en die een groot wolf hap vinnig die helfte daarvan weg voordat hy daarmee die bosse inhardloop. Daarna kon sy nie meer belustig met ’n wye mond lag as die jongmanne met beestroppe drie valleie verder laatmiddag by haar verbystap as sy water of hout gaan haal nie. Toe die bruidegom van die ystermyn af terugkom, was hy kwaad oor sy nuwe vrou nie meer ’n gesig het wat lag nie, maar hy was darem tevrede met die seunskind wat sy gebaar het, amper tien mane nadat hy laas tussen haar heupe in was. Sy het hom niks van die jongman van die beestetrop gesê nie, maar dit was vir haar ’n les om van toe af haar kop altyd onder ’n slaapkaros toe te maak as sy slaap.

Daar was egter ook dinge wat die man nie geweet het nie, soos van die tarentale. Net die dierekind het geweet dat as jy tarentaalvere in die grond plant, gaan daar tarentale opkom. Dan moet dit in ’n sandkol by wildevarings langs ’n spruit wees, sê die kind. Voor dit nog donker is ook, sê hy verder. Toe soek die man en die dierekind, en hulle soek en soek en toe kry hulle drie tarentaalvere. Hulle plant dit in sagte sand langs ’n stroom en vroeg die môre kruip die man en die hond en die dierekind tussen die wildevarings deur om te sien of die tarentale opgekom het. Gelukkig was dit vrugbare sand, want toe hulle die wildevarings platdruk om mooi te kan sien, toe staan drie tarentale daar en skrop gou die sand toe waar hulle juis toe opgekom het voor hulle in die bos in weghardloop. Drie kiewietjies het dit ook gesien, én ’n naguil met ronne oë bo in ’n raasblaarboom wat hom verslaap het. Alles was dus ’n duidelike bewys dat tarentale in die wildland ook uit vere kan opkom.

Die dierekind het ook baie ander ontdekkings gemaak. Een daarvan was hoekom die miere ’n rotsblok van een meter by een meter by een meter een meter ver weggeskuif het, al het dit hulle sewe jaar geneem. Dit was vir ’n kortpad, sê die dierekind vir die man. Al die kindermiere in die mierefamilie was baie bly toe die kortpad uiteindelik klaar was, want van toe af was dit nie meer vir die kindermiere nodig om met ’n wye draai, wat ’n lang tyd vir kindermiere geneem het, van die graskol in die oopte af met die baie sade en die baie stokkies, in lang rye met ’n onnodige draai na die grootmiere se nes agtermekaar heen en weer te stap en kort stokkies en sade en ander goed wat grootmiere wil hê, heen en weer te dra nie. Die dierekind sê hy dink dit was ’n goeie plan.

Daar was familietwiste ook op die wildland. Bobbejaankinders en aapkinders, en platbekpaddakinders en katlagters, sebrahingste, wildebeesbulle en baie ander bokbulle en bokramme wat nie wil hê ander bokbulle en ander bokramme moet op die wildland wees nie. Die wilde-eende baklei die meeste, vernaam as hulle Riet my Kuil toe moet gaan om te gaan oefen om te swem, want dan sal die kindereende aanmekaar twis om nie laaste in die ry agter hulle ma aan te stap na die water toe nie. Dis oor ’n boskat altyd die laaste een in die ry vang en opeet. Dis dan dat die ma op haar hardste in Eends terugskreeu en vir die kleinste een sê om op te hou twis en agter te gaan staan. Eers dan gaan hulle af na die water toe waar ’n boskat die agterste een dan vang en agter die varings opeet. Dit was dan vir hom ’n les gewees om so te getwis het.

Platbekpaddakinders hou ook nooit op twis nie, selfs nie as ’n reier reg langs hulle staan nie of as ’n waterslang sy kop skeef draai om te hoor onder watter lelieblare platbekpaddakinders vir die son wegkruip. Die paddakinders se ma is dan ook al self moeggesoebat dat hulle in die daglig moet stilbly en liewer moet wag vir die koraalsange die aand dat sy hard terugtwis. So hard dat die waterslang haar vang en stadig insluk terwyl die reier een vir een die twistende spul kinders onder die lelieblare uithaal. Dan raas hulle eers.

Die aasvoëls het ook die gewoonte om onnodig hard te twis oor wie kry die oë, en wie die tepels en wie die sagte vleise tussen die boude van ’n rooibokooi wat ’n rooikat net halfpad opgevreet het. Dieselfde soos groot bobbejane wat die nuwe lammers oopskeur om die melkpense in die hande te kry. Hulle gee niks daarvan vir die wyfies en ander jonges nie al spoebat hulle ook hoe hard. Loop vang julle eie nuwe lammers, skreeu hulle terug in Bobbejaans. Jakkalse weer, twis nie eintlik nie, hulle gee net lang tjanke om vir hulle maters te laat weet van ’n nuwe lam wat hulle uit ’n duikerooi getrek het terwyl sy lam. Duikerooie se lammers is die maklikste om uit te trek, maar ook rooibokooie s’n wat gaan lê as hulle lam en wat ook nie horings het om jakkalse mee weg te jaag nie.

Die man was verwonderd oor daar so baie gediertes was wat hulle beurt sit en afwag het om opgeëet of verbrand of gepik te word, of om te versuip oor hulle koppe te swaar is of om van te min water of kos neer te slaan. Agterna is dit net die kwêvoëls en die neushoringbekke wat dit van boekenhout tot boekenhout sit en oorvertel asof almal dit nie reeds weet nie. Dit het die kwêvoëls en die neushoringbekke dan niks gehelp om dit weer en weer vir almal te loop oorvertel nie, al sit hulle ook in die hoogste boekenhoute en sien alles. Buitendien sien net die uile met ronne oë die goed wat in die nag gebeur en weet die kwêvoëls en die neushoringbekke ook maar net stukke-stukke van alles wat gebeur.

Soos die man en die hond oor baie spruite en deur baie valleie na nuwe avonture gesoek het, het hy ’n goeie plan uitgedink om te weet watter plek in die berge of in die klowe of op die vlaktes is watter plek, soos dalk Moses se Klip of Piet se Galg of so ’n plek. Mense wat uit dorpe kom of, veral mense wat Engelse mense is, het hy baie gesien, raak heeltyd deurmekaar in ’n wildland, en alles net oor hulle nie vir die baie plekke op hulle regte name sê nie. Dis hoekom die man gesorg het dat die baie plekke name kry, net soos wat die predikant met die bakkie water die kinders se name op hulle voorkoppe aansmeer. Die regte name vir die plekke was vir die man baie maklik om te kry, want die name was eintlik al klaar daar nog lank voor hy gekom het, hy moes maar net goed kyk of hoor of ruik, en dan weet hy wat die naam is.

Die pad by die eerste berg, so het hy gesien, was Droog my Keel. En by die kuil met die riete en die vinke staan daar baie duidelik in die water en die riete geskryf die naam Riet my Kuil. Die man het ook iets opgemerk wat hy al lankal vermoed het, en dit is dat ’n berg sy eie fabriek het wat die baie klippe maak, en dis hoekom daar ’n Klippefabriek by die een steilste pad was, alhoewel hierdie fabriek nie van ysters of ander mensgoed aanmekaar gesit was nie. By die plek met die baie koedoeklappers op die middelberg staan daar Diep in die Berg in die sandsteen uitgemessel, en by die tweede plek Blanje Blou en by die derde Tier se Sloot. Dal se Pad, Vark se Pad, Dors-word-hoek en Kwagganaai is duidelik in die staalgras en in die dikbasse se takke opgeskryf.

Maar niemand het hardop gepraat van die Plek van die Masbiekers nie, dit was net die man en ’n paar ander van die oudste werkers wat alles mooi geweet het maar dan net saggies gepraat het en weggekyk het as hulle per ongeluk op die twee kliphope afkom. Hierdie plek se begin was heel aan die begin net toe die man se avonture begin het.

Alles het so gebeur. Dit was op twaalfuur in die dag op die twaalfde dag van die twaalfde maand van die jaar van die groot vure tussen die wildeseringe. Meeste beeste en meeste ander slaggoed was al vrek want die diere kon nie die swart klippe wat oorgebly het, vreet en bly leef nie. Maar een vark het nie verbrand nie en het ook nie gevrek nie want dit het van die oorbly-menskos geleef. Toe kom die twee Masbiekers daar aan, van die goudmyne af, en met geld in hulle komberse weggevou, sê hulle vir die man, en hulle wil die vark hê. Toe die man en die Masbiekers klaar die prys gemaak het, maak hulle ’n baie groot vuur en leen ’n swart pot wat hoog op drie pote staan en twee lang messe en nog ysterpale ook. Die lang een hou toe vas en die ander een slaan die vark met ’n klip tot hy dood is. Hoewel dit ’n lang tyd gevat het, en die vark vir ’n lang ruk lang skreeue gegee het, het hulle nie opgehou met die klip slaan voor die vark nie meer geskreeu en geskop het nie. Toe eers vat hulle van die lang messe en slag hom oop en haal meeste van die binnegoed uit. Meeste van die vleis steek hulle in die pale vas wat oor die vuur hang en die vet dele kook hulle in die swart pot. In die middel van die middag begin hulle eet en hulle hou aan en aan eet tot al die vleis klaar is. Toe vat hulle die vleis in die pot en eet dit ook. Toe hulle hulle klaar is met die vleis in die pot, toe dop hulle die pot om en drink die uitgebraaide vet. Toe is die vark opgeëet.

Toe slaan hulle om in die koelte van ’n wildesering en begin slaap. Na ’n ruk gaan hulle dood. Dit was net toe die son ondergaan. Die man roep toe sy werkers en hulle pak die twee Masbiekers met klippe toe sodat die jakkalse hulle nie in die nag opvreet nie. Maar dit het niks gehelp nie omdat die jakkalse hulle wel die nag kom opvreet het, en die wolwe ook, dink die man toe hy die volgende dag die spore sien.

Daar het toe van die vark en die twee Masbiekers niks oorgebly nie, behalwe die twee hope klippe met niks onder die klippe nie. Dit is dan hoe die Plek van die Masbiekers gebeur het en hoe dit ’n naam gekry het en hoekom almal van daardie tyd af saggies praat as hulle daar naby kom.

Dit was dan ook nog een van die avonture wat die man beleef het en nie oorvertel het nie. Net die naam het oorgebly.

Van die vername mense wat Engelse mense is, het die man asseblief gevra om mooi te kyk of daar nie in die klowe ook Engelse plekke dalk is nie, wat hy toe wel gedoen het, maar daar was nie. Hy onthou toe van plekke anderkant die see waar hy was en waar daar baie Engelse mense was en toe vat hy sommer van daardie name. Die een was Piccadilly Circus en die ander een Trafalgar Square maar die derde een het hy later vergeet. Die ander name was baie maklik.

Die maklikste naam was die naam van die plek van die Waters wat Bruis, maar dit was net ’n skuilnaam, want die rêrige naam was Mine Ha-Ha wat hy by sy oupa se plaas geleen het. Net kort voor die groot oorlog tussen Boeremense en Engelse mense het die man se oupa, wat ook plekke se name in klippe en waters en grasse kon lees en hoor, dit eerste by ’n waterstroom gehoor. Hierdie stroom was op ’n plaas, het die man se oupa gesê, met hoër berge, dieper klowe, groter waterstrome en nog baie ander goed van ’n plaas waar alles beterder was, en waar die man se oupa eers gebly het. Hierdie ander plaas was baie ver weg van die plaas van die man in die wildland en dis op hierdie ander plaas ver weg, dat die man se oupa nóg wonderliker avonture beleef het.

Een van die avonture onthou hy baie goed. Dit was van ’n prinses van Rooi Indiane wat baie verdrietig was en haar naam was Mine Ha-Ha, ’n naam wat beteken het daar is waters wat altyd bruis, het die man se oupa vertel. Toe ook nog was daar ’n Rooi Indiaanse prins en sy naam was Hywatha, ook ’n naam in Rooi Indiaans, en hy kon goed jag en veg en na baie jagtogte en gevegte het die prins die prinses verower. Die man se oupa het al hierdie avonture presies geken en dit baie oorvertel want hy kon Rooi Indiaans goed praat.

Toe eendag kom daar ’n beroemde digter vanoor die see by die man se oupa se plaas in die Maloeties aan, en hy hoor van hierdie wonderlike avonture van die prins se gevegte en die prinses se waters en skryf alles toe presies neer in ’n gedig wat hy die wêreld instuur. Die digter het toe baie beroemd geword, want almal in die wêreld het toe op hierdie manier van die prins en die prinses gehoor en was baie bekoor deur al die gevegte en jagtogte wat uiteindelik uitgeloop het op tere liefdesavonture. Almal het egter geweet dat dit eintlik die man van die wildland se oupa was wat die avonture by die spruite en klippe en berge en by wilde diere gehoor het en dat dit nie die beroemde digter se eie storie was nie.

Daar was egter in die tyd net voor die groot oorlog tussen Boeremense en Engelse mense ook buurmense en andere wat baie naganig op die man van die wildland se oupa was en baiekeer agter sy rug en agter hulle hande met andere loop en fluister het. Die man van die wildland se oupa was ’n groot man, sterk van humeur en stem, en het baie kwaad geword as van hierdie naganige ongelowiges vra hoe dit dan gekom het dat die beroemde digter die storie van die prins en die prinses geskryf het ’n halwe honderd jaar voordat die man se oupa die avonture in Rooi Indiaans by die waterspruite gehoor het. Dan het die man se oupa die naganiges bulderend met geweld gedreig. Dan eers hou hulle op om vrae oor goed te vra wat niks met die saak te doen had nie.

Dit alles was ’n duidelike bewys dat wonderlike avonture enige tyd kan gebeur en nie vir digters hoef te wag wat dit in boeke neerskryf nie.

So was daar ook ’n spook op die wildland gewees. Dit was ’n Duitse spook wat in die hangkas op Grootwater gebly het. Maar hy het eers in die boorgat op Onvermoeid gebly en toe weens praktiese redes oor die berg Grootwater toe getrek. Die hele ding het begin lange jare gelede voordat die man nog op die wildland aangekom het toe daar twee Duitsers was wat met aartappels op Onvermoeid probeer boer het. Na ’n stryery een aand net na sononder by die aartappelland, toe daar net ’n bietjie maan was, het die een Duitser die ander een met ’n lang Duitse swaard doodgesteek. Toe vang hulle hom en hang hom op. Dit was net hierna dat die spook toe in die boorgat by die aartappelland intrek en begin om die soort spookwerk te doen wat spoke altyd doen. Wat hy doen, is hy draai die pype in die gat los of hy maak die briek vas dat die water nie kon uitkom nie. Almal het geweet dat dat dit nie die Duitser is wat opgehang is wat heeltyd die spookwerk by die boorgat doen nie maar wel die ander een, want as hy sweef, kon mens sien hy het nie ’n spookswaard by hom nie. As die windpomp so kreun, kon mens ook duidelik hoor dis eintlik ’n kreun van die pyn in die spook se borskas soos die swaard daardeur steek en nie oor die windpomp se briek aan is nie.

Die een voorman sien toe die boorgat sonder water is niks werd nie en hy raak ook toe moeg om aanmekaar die pype op te trek en weer vas te draai en die briek ook los te maak dat hy eendag die gat toemessel en die pomp afbreek. Dit was nie vir die spook ’n probleem om uit die boorgat te kom nie, maar toe was daar niks vir hom om te doen nie en toe trek hy Grootwater toe waar hy in die opstal se hangkas gaan bly.

In die nagte as hy so voel, dan slaan hy die hangkasdeure oop en toe en daarna die middeldeur, die sifdeur by die kombuis, die stoepkamer se deur en heel laaste die waenhuisdeure buitekant. Dan gaan hy weer terug na die hangkas toe. En dan kraak die hangkasdeure agterna, wat eintlik die spook se kreune van pyn is van die swaard deur sy borskas. Dit was ’n bewys van die groot lyding wat hy gehad het die aand by die aartappelland.

Maar toe word die opstal baie oud en dis toe naderhand net ’n murasie waar daar op die ou einde nie meer deure was wat die spook kon oop- en toeslaan nie of laat kraak nie. Ook was hy al ’n ou spook wat moeg was van werke wat spoke doen en toe het hy net partykere op die werf bietjie uitgekom as dit nog vroegaand is met net ’n klein stukkie maan buitekant. Hy het dan ook net saggies gekreun want die pyn van die swaard was toe al beter. Hy het ook niemand meer gehinder nie. Almal het geweet hy is al ’n ou spook, want mens kon dit aan sy sweef sien. Tog was dit ’n goeie ding om ’n mens se rug bietjie hol te maak as mens by die ou werf verbyloop, vroegaande as daar ’n bietjie maan is.

Mens kan dus sien dat daar ook ware avonture in die wildland se outyd was, nog voor die man en sy hond gekom het, en net die oudstes en die kromstes van dié wat daar bly, het van hierdie avonture geweet en die name van die plekke geken.

Huis van die Vier Winde was een so ’n naam. Maar hierdie naam het die man by die bobbejane en die miere gehoor, en dit was van ’n plek tussen klipstapels waar mens ver kan sien. Soos die man die storie gehoor het, was dit ook van ’n digter, maar hierdie keer van een wat dae lank in die wildland rondgedwaal het en wonderlike avonture van miere en bobbejane neergeskryf het. Gedigte van allenige nagte in die winter as dit koud is en van die reën wat dans, van diep riviere en donker strome en nog baie meer het die digter op hierdie plek tussen die klipstapels kom skryf. Van die krokodil en nog ander dwaalstories. Die man het ook by ou ooms op buurplase en werkers op die wildland self van hierdie skrywerman gehoor wat dae lank hier altyd vir die bobbejane in die kranse en skeure gekyk het. Ook met hulle gesels het want hy kon Bobbejaans en Miers maklik praat. En dis ook op dié plek waar die winde die koelste gewaai het en die horisonne die blouste was. Dit was dus maklik om te kon sien hoekom so ’n allenige plek se naam Huis van die Vier Winde was, veral as ’n winter so blou is.

Want dis na ’n blou winter dat in meeste jare die vure kom. En na die vure die reën. Een jaar toe kom hulle gelyk. Oktober was dit. Die man kan dit nog goed onthou want al was daar die jaar al ’n bietjie reën, was die stof dik in die lug en die drolpere se blomme al lankal weg. Die eerste vure van daardie jaar het eers stil gebrand, ver aan die westekant by die Plek van die Blou Buffel, sonder dat dit skade gemaak het. Die tweede dag ook nog, nog verder, selfs al het daar ’n wind begin stoot, maar die man en die voorman en die vuurslaners het geweet verder as die kranse kan die vuur nie kom nie. Dit was eers die derde dag toe die wolke swart word en die middag die weerlig begin. Lang strale wat kraak en op die klippe en die boekenhoute slaan, nuwe vure maak. Die wind kom toe ook, rukwinde sonder reën wat die oulandsgrasse in bondels bymekaar maak. Dan tel die wind die brandbondels hoog op en maak ’n honderd tree verderaan nog meer nuwe vure. Dis toe hoekom daar naderhand baie vure was wat gelyk gebrand het.

Dit was laat op die middag van hierdie derde dag dat die groot vure die voorman in ’n 4x4 op die vlak by Woest Alleen tussen die staalgrasse vaskeer en hy op sy radio skree en aanhou skree, soos ’n mens wat op sy bangste is. Die voorman se vrou en sy kinders hoor hom op die radio en hulle hou mekaar vas en soebat die man om die groot vure te stop. Maar die weerlig slaan net meer en die wind maak nog meer nuwe vure van die vaalbosse en die raasblare sodat die hele vlak van Woest Alleen en die bo-lope van Leeuwater op die ou end gelyk brand. Alles wat toe gelyk gebrand het, was die volgende: rooibosse, botterklappers, dikbasse en bobbejaanstertbosse, ook krieke en springkane, pofadders wat lê en slaap het, klipakkedisse en korhaankuikens. Dan nog vet skerpioene, ’n wildebeeskalf, skilpaaie wat nie vinnig kan hardloop nie, ’n nes vol troupandvoëls, ’n olifantkalf in ’n erdvarkgat, kuikens, heelparty lammers van verskillende wilde boksoorte en ’n koedoebul met ’n afpoot.

Dit was terwyl alles gelyk brand dat die voorman op ’n radio skree en hy heen en weer jaag en ’n ou beestepad in die rook soek. ’n Lang tyd jaag hy so en soek hy so ’n veldpad. Toe hy dit eindelik kry, ry hy met ’n spoed deur die vuur en hou eers stil as hy veilig aan die windkant op ’n klaargebrande plek kom. Die voorman het toe nie gebrand nie, wat ’n goeie ding was, want dis hoekom sy vrou en sy kinders wat mekaar vasgehou het so bly was.

In die laatmiddag word die vuur nog groter want die weerlig maak toe ook nuwe vure ver daarvandaan by die plek waar die man en sy kinders en hulle kinders altyd bly. Die man sien dat dit die grootste vuur is wat enigeen nog ooit gesien het. Die aand word ’n rooi nag en toe is die sterre ook weg. Toe pak hulle party van hulle beste goed in voertuie waarmee hulle gaan wegry van die vuur af wat saam met die donderweer en die blitse oor die naaste hoogtes na hulle toe aankom en hulle gesigte begin brand.

Dis toe dat daar ’n weerlig kom met ’n vreeslike wit straal en die wildesering op die punt van die kloof vlak voor die man en sy kinders middeldeur slaan. Daarna gebeur alles gelyk. Die nuwe vuur spring in die lug op terwyl ander blitse en donder ook nog bykom, die wind ruk van die bome en bosse uit die grond uit, en toe hulle begin hardloop, gaan die hemele oop. Dit voel vir die man asof die waters van al die fonteine en watervalle van die groot wildland gelyk op hulle begin val, want dit was omdat die wolke al vir dae lank die reën opgaar en daar toe groot damme in die lug was. Dalk was dit vir tien minute, of miskien dalk ’n halfuur, maar toe die reën klaar was, was daar nie meer vure nie. Die berge en die rante was nie meer rooi nie en daar was nie meer weerligstrale en winde wat vuur kon maak nie.

Daarna was daar ’n klomp nuwe sterre in die lug bokant die wildland se berge. Die man het hulle met sy eie oë gesien. Die hond was ook by.

Dan word dit die tyd van die diepsomer, van Februaries as die reëngordyne vir drie weke lank oor die berge hang. Onder elke klip is ’n fontein, elke rots het sy eie waterval en by die bobbejaankranse spuit sesduimstrome hoog in die lug op. Die water in die spruite word drie meter hoog en sestig breed en vat alles saam iewers na ’n groot rivier toe: waterbessiebome, nabome, damwalle, boere se kragpompe en spilpompe van iewers hoër op, jong osse en volstruise.

Dis as hierdie reëntyd verbygaan dat die herfs kom wanneer die klippe blom. Die waters blink dan in die berge en maak silwerstrepe in elke kloof. Daar’s visse ook in, vir die visarende moet dit wees. Dan weet die man en sy mense daar is genoeg vir almal op die wildland, kos en water veral. Dit sal maklik hou tot Oktober se stof kom.

Maar eers kom die winter. En in die winter kyk die man vir die winter.

Een nag toe hy so vir die winter kyk, sien hy daar is ’n skewe maan en dis witter as altyd. Daar is nie skaduwees onder die wildeseringe nie, die miershope blink soos klippe en drie waterstrome gaan staan botstil. ’n Maer ou vrou sal seker nog voor die môre doodgaan, dink hy eers.

Toe begin hy hoor van die groot verdriet wat op pad is. Op Wolfs hoor hy dit.

Die eerste verdriet was van die motte. In die laatwinter van dieselfde jaar toe die wit motte van die noorde af vir dae lank oor die landskappe trek op pad na ’n ander landskap toe, sien hy vir die eerste keer die motte kan nie meer vir die laksmanspreeus wegvlieg nie. Die spreeus was toe van die dikvreet baie vermakerig daaroor. Die brand dié jaar was ook nie eers groot nie, maar omdat die skilpaaie die jaar nie die poerabessies geëet het nie, kon hulle nie meer vir die vuur vinnig weghardloop nie en het hulle almal doodgebrand. Die heel kleintjies het baie gehuil toe hulle brand. Maar die man het geen erg daaraan gehad om hulle op te tel en te eet nie.

Met die eerste lentereën het hy ook in die geheim die swart en wit hond gevat en na die sloot van die opdraand water toe gegaan waar hy ’n verdere bewys van die komende verdriet gekry het toe hy sien die water loop nes gewone water, al was dit die eerste lentereën.

Die nuwe stories wat die waters en die klippe en die riete vir die man in die geheim aandra, was ook vol van die groot verdriet wat op pad is, soos by die Huis van die Vier Winde waar die digter van lank gelede nou heeltyd net van doodgaan en allenigheid vertel het, soos van die meisie wat meeste kere alleen bly. En by Mine Ha-Ha het die waters nie meer van die tere liefdesverhaal tussen die Rooi Indiaanse prins en sy prinses gebruis nie. Die waters was nie meer koel en blink nie en onder Moses se Klip was dit kurkdroog. Al meer en meer tekens verskyn oraloor van die wildland se verdriet. Op ’n dag sit vier hadidas in ’n waterbessieboom en vreet bessies omdat hulle snawels kort geword het. ’n Kransduif probeer met ’n dassie paar en daar is tarentale wat hulle eiers bo in wildeseringbome lê. Tarentaalvere kom nie meer op nie en baie likkewane vreet net bietjie eiers en min kuikens in die fisantneste sodat daar genoeg eiers en nuwe kuikens vir die muskeljaatkatte ook sal wees. Twee sebrahingste wil nie hê ’n nuwe blesboklam moet binne twintig minute saam met sy ma oor die vlak kan hardloop nie en trapstamp hom met hulle voorpote sodat hy kan dood wees.

Oraloor was daar dus tekens van die verdriet wat kom. By die visse en ander swemgoed en by die miere en ander kruipgoed. By die ou mense met krom lywe en by die jonges wat by die vure dans.

Die man dink by homself hy wil verseker weet of dit waar is van die groot verdriet en hy wag toe vir ’n nag met ’n wit maan om die bruin wolwe te gaan soek. Dan sal hy verseker weet. Eers na ’n lang ruk kry hy drie van hulle tussen die katbosse in ’n wegsteekkloof waar hulle wortels of miere of muise of iets vreet. Die hele nag wag hy vergeefs dat hulle moet dans en moet blaf en dat die jakkalse moet huil. Maar toe is dit net die uile wat huil oor die muise wat hulle met die wolwe moet deel.

By Wolwedans was dit.

Dis hoekom hy toe weet die tekens is verseker, want toe hy weer by die bank kom om geld te kry vir ’n pad deur die berg, toe sien hy die geld is op. Die man van die bank sê toe hy het ’n goeie plan en dit is dat die man vir die pad se geld vir hom ’n stuk van die wildland as ’n pand moet gee. Hy stuur toe ’n huurling en hy en die man meet ’n stuk van die wildland af wat toe ’n pand word wat hy in ’n groot geldsak sit.

Elke keer as sy geld op is, meet hy en die bank se huurling ’n stuk van die wildland af en maak ’n pand daarvan. Toe sit die bank se huurling alles in die groot geldsak wat hy hou tot eendag.

En toe eendag toe kom eendag.

Die huurling van die bank sê toe die man moet eers weer van die pandgeld teruggee met nuwe geld wat die man seker op ’n ander plek het. Die man gaan toe na ’n geldfabriek toe wat hy op ’n ander plek het. Toe sien hy die fabriek is al toe en werk nie meer nie. Hy kom toe ook by die tweede en die derde geldfabrieke wat hy het en sien dat hulle ook nie meer werk nie. Al die tyd was hy en sy hond baie besig met die miere en die wilde bokke en die motte in verskillende avonture op die wildland en het hy ongelukkig van die geldfabrieke vergeet.

Dis toe hoe dit gebeur het dat die man van die bank en sy hoofhuurling na die wildland toe gekom het. Die hoofhuurling skryf toe ’n boek van wette vir die wildland, van mag en mag nie, van loop in die klowe en op die hoogste spitse, van die hond en die renosters, en nog wéér van die man en sy hond en sy geweer en van die wildebok vir die groot swart pot. Nog baie ander wette ook, en dit word toe ’n dik boek van baie wette. In sy een hand hou hy dan die dik boek met die wette en in sy ander hand die groot geldsak. Hy bring toe ook nog baie meer huurlinge na die wildland toe, soos byvoorbeeld die huurling van die masjienerie wat die kliphope by die Plek van die Masbiekers heeltemal platstoot sonder om saggies daaroor te praat, want daar is niks onder die klippe nie, sê hy.

Die huurlingbase praat ook toe lank om ’n tafel en daarna jaag hulle die wildland se voorman weg en sê vir hom hy en sy vrou en sy kinders, dieselfdes wat mekaar die tyd van die groot vuur so vasgehou het, moenie meer daar wees nie. Toe gaan die voorman weg en almal word toe baie huilerig.

Daar was een huurling wat eers in die stad oor wilde diere ver gaan leer het, en wat toe vir die man duidelike bewyse gebring dat bruin wolwe nie wilde bokke teen ’n draad kan vaskeer en opvreet nie. ’n Wit maan wat in die nag oor ’n berg hang, het niks met die saak te doen nie. Hierdie huurling en ’n ander een wat vanself ook alles geweet het, het baie grappe agter hulle hande onder mekaar gehad oor die wildland se wolwe en oor die man se avonture met die katlagters en die miere en die skilpaaie wat per ongeluk uitgelek het.

Die man het hom baie verwonder aan alles, veral aan die gewoontes van die huurlinge wat die hele tyd deurmekaar was met die name van al die plekke. Dit was oor hulle oë toe was en hulle ook nie kon hoor of ruik nie. Die berge en die grasse en die klippe en die bosse en die verste horisonne het dus baie gesukkel om met die bank se huurlinge te praat, op Engels ook.

Die huurlinge kry toe ’n plan met die name van die plekke, en dit was ’n plan wat hulle in die groot stad geleer het. Hierdie plan was om vir al die plekke nommers te gee, net soos huise se nommers in die groot stad. Toe al die plekke nommers het, het die man en verskeie ander bewoners van die wildland, soos byvoorbeeld die hadidas, die ape, die koedoes, die kwêvoëls, die elande, verskeie slange, giftige spinnekoppe, miere wat rotse optel, motte wat vir spreeus wegvlieg, en nog die meerkaaie en jakkalse ook nog, nie meer geweet waar al die plekke was nie, sodat dit gebeur het dat die man en sy hond nie meer wonderlike avonture kon beleef nie. Toe die weerlig dus een middag vier kameelperde doodslaan, het die huurlinge vergeefs by nommers 33, 34 en 35 na die karkasse gaan soek in plaas van by Helderdagsfontein se hoogtes. Dit was ook nie ’n goeie ding die keer toe die renosterkalf in die Tierdam geval het en die huurlinge die werkers na nommer 46 toe geneem het nie. Want toe hulle uiteindelik by die Tierdam kom, het beide die koei en die kalf sedert die middag al op die water tussen die lelies gedryf. Dit was oor al hierdie dinge dat die man verwonderd was.

En toe, sommer op ’n môre, na nog ’n nag sonder wolfhuile, en nadat nog meer gediertes hulle beurt gekry het om opgeëet te word, dat die huurling wat die geldsak dra, vir hom kom sê dit sal ’n goeie ding wees as die man weggaan en nie meer op die wildland wees nie, die wildebokke en die bosse en die berge is nie meer syne nie en hy het ook niks daar verloor nie. Die hond moet ook nie meer daar wees nie.

Die man onthou toe van die keer toe hy die eerste maal die nuwe babatjie hoog in die lug vasgehou het en vir hom die verste horisonne gewys het. Van die grappe onthou hy ook en van die hond wat blind was die môre. En van die motte en van die skilpaaie. Van die berge se hoë spitse en van die groot waters. Agterna voel hy die knop in sy keel en hy dink dis jammer van die verdriet oor die wildland.

Toe skiet die man die hond en pak hom toe onder groot klippe. Hy vat sy vrou en sy kinders en sy kinders se nuwe kinders en gaan weg. Hy kom toe in die groot stad aan waar hy vir ewig en altyd ongelukkig bly.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.