NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Vincent Pienaar
is gebore in Johannesburg, het op die strate van die Wes-Rand van die 70’s grootgeword — waarvan die enigste hoogtepunt die enforced bandeverbreking met die Floridase Hoërskool en die bekendmaking met Hoërskool Vorentoe was. Dit was die begin van ’n veertig jaar lange love affair met ware Afrikaners: die mense van Fittas, Brixton en Westdene. Hy is die seun van ’n oopkop-, geelpersjoernaliste (oorlede in ’83) wat hom die waarde van low friends in high places geleer het en aan wie hy sy skryfwerk al meer en meer toeskryf.
  Vincent Pienaar

Begrafnis op Bethlehem

Vincent Pienaar

Dollie probeer ’n stasie op die kar se radio kry. Haar bril is in haar handsak onder die sitplek, so sy draai maar aan die knoppie, van een kant van die dial na die ander. Sy sou daarvan gehou het om ’n pre-select radio te hê, maar sy kan nie eers bekostig om haar klein Toyota Corolla te laat service nie, never mind ’n fancy radio insit nie.

Toe sy vanmôre uit Pretoria uit weg is, het sy lekker na haar geliefde Radio Jakaranda geluister, maar sy was nog skaars suid van Johannesburg toe die stasie beginne fade en uiteindelik heeltemal disappear het. Toe moes sy kies tussen daai vette op Radio Highveld wat sonder ophou poephol jokes vertel, daai swarte op SAfm wat luister hoe “the brothers” mekaar herinner “to be careful of the colonists”, en, ergste van alles, die heilige op radiosondergrense wat kinders se snotneusies met elke Afrikaanssprekende ma in die land wil bespreek.

“Red nou wat oor is van ’n volk ...” het sy gesê en die ding afgesit. “Al wat ek wil hê, is ’n bietjie musiek.”

Sy is net voor Villiers en hier draai sy van die highway af in die rigting van Frankfort. In hierdie wêreld kan jy Radio Oranje opvang, weet sy, en sy sit weer haar struggle met die tuner-knoppie voort.

“Hoekom sal ’n ou vrou nou die luxury toegelaat word om na ’n bietjie musiek te kan luister terwyl sy in haar moer in, die platteland in vaar?” praat sy met haarself, beduie met albei haar hande asof daar iemand is waarmee sy gesels, asof die kar homself moet bestuur. “Dis mos hééltemal te veel gevra! Wat het ék nou gedoen om musiek in my ore te verdien!?”

Sy klik haar tong van die ongeduld. “Dis genoeg om ’n mens mál te maak,” sê sy hardop en skakel die radio met ’n harde kliek af. Die gesis in haar ore word vervang deur ’n mengelmoes onplesierige geluide van die karretjie se enjin.

Die Vrystaat is vaal. Augustus is nie ’n tyd om op hierdie vlaktes sight-seeing te doen nie. Even met haar swak oë kan sy sien hoe droog dit is.

Daar is wolke in die lug en die sonskyn is dof versteek. Sy ken hierdie wêreld en, wolke of te not, daar is geen kans vir reën nie. “Hier kom nou weer ’n kakspul,” skud sy haar kop. As die reëns nie vinnig kom nie, en baie daarvan, is die oes in sy moer in, die land sonder kos en die inflasie sky-high!

En nou is Karel ook nog dood.

Toe sy dit in die death notices in die Pretoria News gesien het, het sy dadelik in haar foonboekie gekyk vir die nommer van haar ou oom, heelwat ouer as sy, om hom te bel om die reëlings uit te vind. Vir ’n oomblik het sy met die foon in haar hand gesit maar dit net so neergesit toe ’n klein stemmetjie sommer uit die bloute uit in haar kop inspring. Na ’n rukkie — net ’n paar minute — het die waarheid stilletjies nader gesluip totdat dit crystal clear soos ’n deurskynende glasengeltjie voor haar gestaan het.

Daai klomp stuck-up bliksems in die Vrystaat wil haar natuurlik bedonner uit haar share van die boedel. Dis hoekom hulle haar ignoreer. Hulle het haar nie laat weet dat Karel uiteindelik die gees gegee het nie want hulle wil nie hê sy moet by die begrafnis wees nie. Hulle sal beter voel as hulle kan sê dat sy so ’n “don’t care” is dat sy nie eers die moeite gedoen om by die begrafnis te wees nie.

Maar so stupid is sy nie.

Sy het nooit haar ou oom, die een wat nog ouer is as sy, gebel nie. Aikôna, tattie! Ha! Sy sal hulle wys.

Die begrafnisondernemers op Bethlehem, “Rob’s Funeral Parlour, eighty years service to the community,” het haar vertel wanneer die begrafnis is. Sy gaan suiwer net by die kerk arrive en sien hoe hulle op hulle groot, ryk, vet gatte val van surprise wanneer sy, large as life, voor hulle staan. Ha!

Sy lag hardop. “Surprise!” skree sy in die klein karretjie. “Julle moenie dink julle kan met Dollie Swanepoel rondneuk nie, my maatjies!” Sy lag weer, en slaan op die stuurwiel met haar hand.

-o0o-

Wanneer sy die grain silos van Frankfort in die verte sien, skakel sy weer die radio aan. Sy draai die knoppie en die naaldjie jaag ’n paar keer heen en weer deur die dial.

Sy praat ingedagte met haarself. “Die enigste survivor van die nuclear holocaust sit en dink aan selfmoord ...” sê sy, ingedagte “... toe lui die telefoon!”

Deur die static hoor sy iets wat klink soos ’n stem. Versigtig snuffel sy dit uit en uiteindelik vervang woorde die sisgeluide op die radio. “... is nou beskikbaar by die OTK, Bloemfontein,” sê hy en musiek begin speel.

“Gotcha!” sê Dollie asof sy ’n prys gewen het. “Radio Oranje binne in my kar!” Die aerial het lankal sy beste dae gesien maar hulle moenie dink hulle kan die radiogolwe vir haar wegsteek nie.

Dieselfde as die klomp in Bethlehem wat dink hulle kan die geld vir haar wegsteek. Hoe durf hulle hom sonder haar laat doodgaan? Never mind die plase en die huise, die besighede en die plotte, sy weet al die jare van die insurance wat Karel gekoop het toe hy met die Strydoms se dogter, mooi soos ’n beauty queen, getrou het. Hulle was bang dat hy van al die excitement ’n hartaanval sou kry. Niemand het ooit daaraan gedink om vir Dollie Swanepoel te vertel van polisse nie, o, nee! Conveniently vergeet, nè?

Serves them right, dat hulle haar by die bruilof weg van die familie af laat sit het; toevallig die jong assuransie-agent wat haar die waarheid vertel het. Hy wou haar natuurlik ’n gat in die kop in praat sodat sy ook ’n polis koop, maar sy was heeltemal te slim daarvoor: toe hy by sy vyfde glas Grand Mousseaux champagne verby trek, was hy net te happy om haar te vertel van die baie geld wat hy uit die polisse uit maak. Ha! Sy het hom lekker vir ’n sucker gevang.

Na ’n paar jaar het die beauty queen met dieselfde assuransie-agent weggehardloop en miskien was dit ook maar beter so. As die korasie eers gesettle het, is dit maar moeilik vir ’n besige Vrystaatse boerseun om in die nag by ’n beauty queen kers vas te hou. Stout lag sy vir haarself. Moes sy gesê het hy gaan sukkel om “die mas op te kom?”

By die aansluiting swaai sy weg in die rigting van Reitz en Tweeling en dadelik verdwyn die blêrrie radiostasie weer. Sewe advertensies vir goed wat jy net in die Vrystaat kan koop, twee plate wat sy nie van hou nie, en die klank is weg. Net so min as wat sy haar hond by die parlour op Bethlehem wil laat skeer, net so min hou sy van Manuel Escorcio se opera. Het hulle nog nooit van Bles gehoor nie?

Sy klik haar tong ’n paar keer, laat die naald heen en weer oor die dial ry en dan vang sy ’n musiekstasie. Die musiek klink nie te bad nie, maar sy’t ’n suspicion dat dit een van die vreemdetaalstasies kan wees wat die radio vol lê. Sy maak haar reg ingeval sy vinnig die knop moet draai — as daar ’n salon in Bloemfontein is wat hare kan sagmaak, wil sy nie daarvan weet nie.

Die pad is vol slaggate en knikkies wat die suspension laat spring en haar laat hik soos sy op en af op die pap sitplekkie van haar Corolla wip. Die kar moes al lankal na ’n student met harde boude toe gegaan het, maar daar is niemand wat na haar omsien nie, not a damn! Sy moet met die klein tjorrie aanploeter en sy is veronderstel om nogal dankbaar te wees dat sy wiele het! Een van die dae gaan sy van al die sukkel ander wiele nodig hê — soos die wiele van ’n rystoel! Ha! Dit sal nou ’n ding wees.

Sy weet nie hoe laat dit is nie want sy kry nie time checks op die radio nie en haar handsak is nog steeds onder die sitplek ingeprop. Dit meen dat sy nie by haar bril kan uitkom nie en daarsonder kan sy nie die klein horlosietjie op die dashboard lees nie, maar better safe than sorry, herinner sy haarself. Daar kan nie te veel bag-snatchers op die pad tussen Frankfort en Reitz wees nie, maar ’n mens weet nooit.

Anyway, sy is seker sy is nog redelik oraait met die tyd. Daar is nou wel elke nou en dan ’n combine harvester of ’n trekker wat teen niks myl per uur die pad volry, maar anders as dit, is die pad stil. Daar kan nie te baie mense wees wat op ’n Dinsdag na ’n begrafnis in Bethlehem toe gaan nie, dink sy.

Die wolke begin lig, besef sy wanneer sy skielik in ’n helder sonligkol in ry. Tipies! dink sy. By die huis waar sy lekker in die son kon sit, is daar net sulke useless lae, droeë wolke, en hier in die Vrystaat waar ’n treurige, wolkerige dag net die regte ding vir ’n begrafnis sou wees, skyn die son.

Dit begin warm word. Dollie switch die fan aan en draai die vents op die dashboard oop — sit haar hand voor die opening. “Dis nou lekker,” sê sy, “die warm lug binne in die kar moet plek maak sodat die warm lug van buite af kan inkom. Baie, baie lekker.”

-o0o-

Dollie kom by Bethlehem se indraaipad. As sy nou verbyry, dan ry sy Clarens se wêreld toe, die kleine Clarens wat by die ingang van die mighty Golden Gate lê, aan die voet van die Drakensberge, daar waar sy en Karel planne gemaak het vir ’n toekoms wat net vir die twee van hulle bedoel sou wees.

Oe! Dit was darem iets!

Sy onthou hoe sy in die veldhuisie, halfpad teen Horeb se berg uit, daar waar die simpel gholfbaan nou is, vir Karel se muscles gekyk het terwyl hy kaalgat, sonder skaamte lê en slaap het. Hy het nie sy lyf by Virgin Atlantic gekry nie en hy was nie soos ’n body builder gebou nie. Niks se maagspiere wat lyk soos ’n six pack nie, niks se borste wat lyk soos ’n jong meisie s’n nie — net gewone, harde boere-muscles. ’n Gril kielie haar ruggraat.

Hoe lekker het hulle nie met hulle geheim rondgespeel terwyl hulle die berg uitgestap het, of êrens in die bosse, berge van hulle eie gebou het nie? Hoe het hulle nie gedroom van die dag wanneer hulle die hele Bethlehem van hulle planne vertel nie — hoe gaan die ou klomp na hulle asems snak as hulle hoor hoe Dollie Swanepoel van die onderdorp, met die oudste seun van die Barkhuizens van Bethlehem gaan trou! Ha! Die opskudding, die verbasing, die skande! ’n Niggie en ’n neef!

Dat die Barkhuizen-familie se planne ’n bietjie anders was, het die tweetjies nie geweet nie. Soos ’n middeleeuse troue, is Karel ge-sacrifice op die altaar van ’n geldmaak-deal waarin die plase van die twee grootste families in die distrik bymekaar gegooi sou word. Karel se huwelik het, terwyl hy nog kon kers vashou, twee erfgename opgelewer en die families was tevrede.

Toe Dollie werk by die bank in Vermeulenstraat in Pretoria gekry het, het sy die trein gevat om ’n lewe in die groot stad te gaan maak en haarself belowe dat sy Clarens nooit weer sou sien nie.

-o0o-

Dollie druk die indicator lever en draai in Bethlehem se dorp in. Sy het nog nooit gedink dit is ’n mooi plek nie en sy gaan ook nie nou haar mind change nie. Dit is higglety pigglety opgebou met die lelikste nuwe geboue wat skouer aan skouer staan met die lelikste ou geboue. Watter property developer het dit in sy kop gekry om ’n petrolstasie langs die arme Apostolie-kerk te bou? Hoekom moet die bottelstoor en Ria se crèche dieselfde agterheining deel? Watter poephol het dít beplan!

Karel se volgende huwelik was ’n beter een: plain, dom, vet, groot Sarie, wat nooit ’n beauty queen kon wees nie, was ’n goeie vrou. Dollie het gehoop sy kon vir Karel haat omdat hy soos ’n ruggraatlose wurm nie net een keer nie, maar twéé keer, toegelaat het dat die familie sy toekoms organize, maar dit was nie so maklik nie. Sy lag skeef vir haarself.

Dollie het vir jare haar asem opgehou terwyl sy gewag het vir Karel om, soos ’n ridder op ’n wit perd, vir haar te kom haal — miskien sal sy nóú aanvaar dat hy nie meer met sy perd in Vermeulenstraat afgery gaan kom nie.

Sy stop agter die laaste kar wat naby die kerk gepark is. Nader as wat sy gedink het want sy’t gedink dit gaan ’n groter begrafnis wees. “Spot on timing!” sê sy en kyk hoe die mense deur die groot houtdeure die kerk in stap. Die klipgebou het niks verander nie. Dit is nog steeds die plek waaraan sy dink wanneer sy droom van haar en Karel se troue, die trappe waarop hulle staan terwyl die mense soveel confetti op hulle gooi dat die koster dikbek raak, waar sy staan in haar ...

“Dink net aan al die geld wat jy op trouklere gespaar het,” lag sy sonder humor.

Sy besef skielik dat sy al vir dae aan hierdie begrafnis dink en sy weet nog steeds nie wat sy gaan doen nie. Sy gaan tog nie in die gang afhardloop, haarself oor die kis gooi en demand dat iemand nou dadelik vir haar ’n tjek moet uitskryf nie. Miskien moet sy wag tot ná die diens en die lykswa hijack vir ’n miljoen rand se ransom.

Sy besluit wat sy gaan doen.

Sy gaan statig en grand, soos ’n lady, uit haar kar uitklim, en tot by die voorste ry in die kerk stap. Daar gaan sy die weduwee, plain Sarie en die hele ou klomp van hulle, met ’n dignified whisper, vertel hoe jammer sy is, en dan gaan sy Karel se pa met haar handsak deur sy verrimpelde, skynheilige bakkies ...

Is nie!

Dis glad nie wat sy gaan doen nie. Nadat sy gesê het hoe jammer sy is, gaan sy in die ry direk agter hulle, soos ’n lady sit. Na die diens sal hulle haar móét erken. Hulle sal moet weet dat sy daar is en dan ... well, hulle sal moet besluit. Net die mees inhalige klomp wetters sal haar dán in die oë kan kyk en haar met leë hande wegstuur — hulle sal oor mekaar val om seker te maak dat sy iets kry, net ’n klein deeltjie van die fortuin wat hy agterlaat, genoeg vir haar om op te retire, miskien ’n plekkie daar by Bronkhorst-baai langs die dam te koop, miskien kry sy ...

(Miskien kry jy ’n skop en ’n klap en ’n hand vol pap, Dollie Swanepoel, herinner sy haarself.)

Die laaste paar mense stap in die kerk in en sy vroetel onder die sitplek rond en haal haar handsak uit. Wanneer sy by die hekkie in die kerk se gronde instap kom sy agter dat sy bang is. Sy gaan nie uit-chicken nie, daarvoor het die lewe haar te tough gemaak, maar sy voel hoe sy snaaks asemhaal en haar bene voel lam.

Die mannetjie van Rob’s Funeral Parlour wat haar die papiertjie by die deur gee, kyk haar nogal snaaks aan, maar hy sê niks nie. Miskien moes sy haar make-up gecheck het voordat sy uit die kar uitgeklim het — dit sou haar confidence ’n bietjie ’n boost gegee het, maar dit sou meen sy sal haar bril moes uithaal, die bril wat haar soos ’n ou vrou met uil-oë laat lyk.

En dan staan sy in die deur. Die dominee sê “Goeiemôre, geliefde broeders ...” en sy panic. Sy kyk vir ’n bekende gesig maar sy kan niemand uitmaak nie. Die ou mense wat omdraai en na haar kyk lyk soos spoke in ’n kinderboek.

Die dominee bly stil. Even Sarie, heel voor in die kerk, hou op huil en kyk oor haar skouer.

“Suster?” sê die dominee vir Dollie in ’n outydse diep, dopper-domineestem want sy staan nog steeds in die deur.

As sy ’n entrance wou maak, dink Dollie, dan het sy dit darem wrágtig reggekry. Nou is die oomblik wanneer sy in die gang moet afstap en die plain, dom, treurige Sarie — die skatryk Sarie — moet gaan vertel hoe jammer sy is.

Sonder ’n woord sluip sy na die eerste sitplekkie toe, reg langs die deur, en wens sy kan ’n gat grou en self daarin verdwyn. Die waserige prentjie op die pamflet wapper in haar hand soos sy bewe. Lafaard! sê sy haarself sleg, jou armsalige lafaard, maar sy kan haarself nie kry om op te kyk nie.

“Geliefde broeders en susters,” begin die dominee van voor af., “ons is vandag hier om totsiens te sê vir ons afgestorwe broeder, Riaan Labuschagne, ’n man wat ons almal ...”

Dollie se kop ruk regop. Wat? Wie? Baie mense kyk weer om as sy in haar handsak rondvroetel vir haar bril, dieselfde bril wat haar soos ’n ou vrou met uil-oë laat lyk, en prop dit op haar neus, veg om die draadarmpies agter haar ore in te kry.

“Well, I’ll be damned,” fluister sy wanneer die gesigte voor haar stadig in fokus kom.

-o0o-

Dollie klim in haar kar.

Sy het nie eers geweet dat daar ’n Labuschagne op die dorp was nie en nou was sy by die siel se begrafnis.

Sy wou opstaan en uitstap, maar sy het nie die guts daarvoor gehad nie. Sy het net versigtig haar brilletjie weggepak en gesit en luister hoe die dominee grand goed sê van ’n man wat sy nie geken het nie. Sy’t nie eers geweet of sy vir ’n vreemdeling mag sing nie!

Dit was die langste uur in haar lewe.

Toe die draers uiteindelik die kis voor haar verbystoot met die familie agterna, het sy in die queue ingedruk om weg te kom.

Die ondernemer-mannetjie het nog steeds by die deur gestaan.

“Rob’s Funeral Parlour?” fluister sy.

“Dis reg, ja, tannie,” fluister hy onderdanig terug maar sy kan die vraagteken in sy stem hoor.

“Barkhuizen?” fluister sy weer.

“Gister,” antwoord hy, nog steeds stilletjies, maar ongelukkig. “Dove’s steel deesdae ál ons besigheid,” sê hy en trek ’n gesig.

“Barkhuizen?” fluister sy weer.

“Gister,” antwoord hy, nog steeds stilletjies. Hoor sy ’n smile in die klein poephol se stem?

Sy wou nie die weduwee soen nie maar sy kon nie net verbyloop nie, kon sy? Even sonder haar bril kon sy sien hoe puzzled die vrou was — amper paniekerig. Wie sal nou ’n storie oor ’n vreemde vrou in die kerk kan uitdink wat nie skande insluit nie?

Dollie start haar kar. Daar is nie plek vir ’n u-turn nie en, sonder om na die mense wat uit die kerk uitkom te kyk, ry sy so lady-like as wat sy kan voor hulle verby. Sy hoop sy lyk nie so veel van ’n fool soos wat sy voel nie.

Tien minute later draai sy op die hoofweg in die rigting van Reitz in en trap die petrol flat, terug Pretoria toe.

Toe sy deur Alberton ry — minder as ’n uur van die huis af, tune sy weer die radio. Maar dié keer weet sy presies waar die stasie is. “Jakaranda!” sing sy saam met die jingle, “ninety four point two!”

Die hele pad terug het sy die Barkhuizen-storie versigtig uitgewerk en besluit dat hulle dit waardeer dat sy haarself nie aan hulle opdring nie, dat sy Karel se dood met stille waardigheid aanvaar.

Dit is definitief die beste dat hulle nooit sal weet dat sy op Bethlehem was nie, is haar finale besluit. Wanneer ’n Bles-plaat begin speel, vat sy dit as ’n goeie teken.

“Dit is die regte ding,” praat sy hardop met haarself. “Ek gaan stilletjies in Pretoria sit en wag. My tjekkie sal wel in die pos beland.”

Die Barkhuizens is ’n ou familie, met ou familiewaardes. Sal hulle nou ’n niggie kan vergeet? Hulle sal dit mos nie doen nie.

Dis net ...

’n Klein stemmetjie spring uit die bloute in haar kop in soos ’n doodsengel. Die kanse dat geen enkele siel in die kerk, of for that matter, in Bethlehem, haar sou herken het nie, is minder as niks, dink sy. Dis mos ’n klein plekkie. Sooner or later sal die Barkhuizens hoor dat sy daar was sonder om hulle te gaan sien, en dit, vernaamlik ná Karel se dood, sal mos ’n belediging wees wat hulle haar nooit kan vergewe nie ...

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.