|
|
Mammon, die Meester?Johan NieuwoudtEk maak die boek oop en begin leer om Ma se boedel te beredder. Ek's die eksekuteur en enigste erfgenaam. Geen broers, geen susters, net ek. Eers ek-en-Pa-en-Ma, toe ek-en-Ma en nou ek-alleen. In die boek leer ek van sterfkennis, van inventarisbrief en van aanneming van eksekuteurskap in tweevoud, maar veral leer ek van die Meester wat sy hand oor my en die boedel gaan hou. Na ek my voorberei het en al die vorms voltooi het, sal ek reg wees om die Meester te ontmoet; ek sal nie met leë hande gaan nie. Nadat ek Hom die regte vorms gegee het, sal ek Hom vertel van Pa en Ma en van die laaste drie jaar waarin hulle so baie siek geword het en dood gegaan het, eers die een, toe die ander. Nagte lank vat ek boeke en doen vorms, toe's ek reg om Die Meester te gaan ontmoet. Om halftien die oggend staan ek voor die poorte van Die Meester se Kantoor. Die wag, Gabriël, keer my voor. "Jy kan nog nie ingaan nie." "Hoe so?" vra ek verward. "Jy sien daar is 'n opeenhoping van lêers en die mense werk daaraan tot tienuur. Eers dan kan jy ingaan." Ek glimlag. Dis goed so, want dit beteken dat die Meester dan sy volle aandag aan my kan gee. 'n Halfuur se wag is tog niks as 'n mens dink wat is op die spel nie. In elk geval, ek staan nou voor in die tou wat begin vorm en groei deur die ingangsportaal tot in Kerkstraat en waarskynlik af met Kerkstraat tot by die plek waar die Strydomkop eers gestaan het, eens toe Suid-Afrika myne was. Terwyl ons wag, kom die mense van die Meester so drup-drup daar aan. Miskien sorteer hulle die lêers elders; dalk word die dokumente nou geberg in die Strydomkopgat. Hulle haas hulle sekerlik nou om by die kantoor te kom waar hulle my sal ontvang voordat ek die Meester ontmoet. Dis 'n ontmoeting waarvoor ek gereed is, want ek weet Hy gaan trots wees op my en Hy sal behae hê in die vrug van my arbeid ... Die klok lui, Gabriël maak die hek oop en ek haas my na die boedelontvangskantoor. Daar is vier stoele by 'n houtblad wat oor die breedte van die vertrek strek. Anderkant die blad is daar ook vier lessenaars en rakke en rakke vol lêers. Trots dink ek: een van die dae is my lêer ook daar. Ek sit op een van die stoele en die ander drie word gou gevul. Agter ons is 'n skare mense wat wag om te sit. Dan kom die lêervrou in. Sy maak nie oogkontak met enige van ons nie. Oor en oor soek sy deur pakke lêers; seker is sy op soek na 'n verlore skaap terwyl die kudde gedienstig wag. En toe breek die oomblik aan. Sy kyk op en vra: "Wie was eerste hier?" Trots, maar in 'n stem vol emosie, sê ek: "Ek." "Is die boedel wat jy wil registreer, groter as R50 000?" vra sy. "Ja, dit is meer," sê ek trots; "ek is 'n enigste kind en my ouers het gespaar dat ek kan erf." "Het jy 'n agent?" "Nee, ek is voorberei. Ek sal self die boedel hanteer." Sy glimlag meewarig en ratel af: "Volgens wet so-en-so van so-en-so moet jy 'n agent hê wat jou bystaan en die agent moet 'n rekenmeester of 'n prokureur wees." "Maar ek het boeke gevat. Ek het alles geleer wat ek moet doen. Dis net ek wat erf en ek sal nie van myself steel nie." Die woorde borrel by my uit. Sy lag. "Die wet is die wet." Ek word woedend en skree: "Ek wil met die Meester praat. Ek sal hom alles vertel. Jy kan my nie wegwys nie, want ek kom nie hier aan met leë hande nie!" Sy bly eers stil en dan begin sy lag. Oplaas sê sy, "Daar is nie 'n meester hier nie. Jy moet maar na Absa Trust toe gaan dat hulle jou help." Verdwaas staan ek op en loop die gebou uit. Ek stap tot by die groot Absa-gebou en neem die hyser na die sewe en twintigste vloer. As ek by die hysbak uitkom, gaan staan ek eers by die groot venster wat uitkyk oor die westelike deel van die stad. Daar onder sien ek die klein bruin geboutjie waarin ek gehoop het om die Meester te vind. Van hier bo af lyk dit nie na veel meer as 'n stal nie. Verder sien ek Weskoppies-hospitaal tussen die groen dennebome en ek dink terug aan die tyd wat ek daar moes deurbring. En nou staan ek in hierdie groot gebou van die geldmag. Ek voel aardig as 'n vreemde stem in my kop sê: "Moenie vrees nie, Mammon is die Meester ..."
LitNet: 07 Junie 2005 Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |