|
|
AsdagJohan NieuwoudtDinsdag is asdag. Vroeër het Tshwane die asdae laat tred hou met vakansiedae, sodat ons telkens moes onthou die dag het verskuif. Nou werk dit baie beter, want al wat ons moet onthou is dat Dinsdag ons dag is. Dinsdag was ook altyd die dag wat Stefaans by ons kom werk het, langer as twintig jaar al. Ons het hom by Francis, my ma se oudskolier en lewenslange vriendin, geërf. Eintlik het ons haar dikwels verwens oor dié erflating, want Stefaans was lui, meesal dronk en altyd aan die geld leen. Hy was ook versot daarop om te snoei waar hy nie moes nie en om die snoeiskêr buite te vergeet en so te laat oproes. Maar Stefaans kon lag, selfs vir my geringste grappies wat niemand anders eers effens snaaks sou vind nie. Dit was ook nie 'n gemaakte lag nie. Jy kon sien hy lag uit sy binneste uit. Ek onthou hoe hy geskater het die dag toe ons Roelof se sywurm begrawe het, hoe hy dit geniet het as ek hom plegtig by die hek gehandgroet het as ek die dag in 'n goeie bui was. Waarom het ek hom nie so gegroet die laaste Dinsdag toe hy kom werk het nie? So het ek gedink toe die tyding by ons uitkom, Stefaans het verongeluk. Hy was dronk en het hom deur 'n groot venster dood geval. Dit het ons 'n hele paar weke geneem om te weet hy is dood. Ons het wel geweet iets is verkeerd, want hy het nie sy Kersfeesbonus kom haal nie. Omdat ons nie wis waar hy bly nie, kon ons nie seker wees nie. Toe die sekerheid kom, het ons aardig gevoel, want ons het die ou dikwels weggewens. Stefaans se werksklere in die buitebadkamer het egter agtergebly totdat Maria, die swart vrou wat by ons werk, daarop aangedring het dat die klere moet weg. Vanoggend het ek sy bruin broek wat met 'n das vasgemaak is, sy witterige hemp met die bruin klawers versier, sy ou bruinvaal trui en die wit gehawende hardloopskoene alles in een plastieksak gesit. Die erflating het ek buite op die asblik gaan sit vir die asmanne. Toe ek die pakkie op die asblik sit, begin ek huil. Ek huil want ek besef dis al begrafnis wat Stefaans gaan kry. Langer as twintig jaar het ons paaie Dinsdae gekruis en al graf wat hy by my kry, is die plastiek-asdrom. Ek huil vir Stefaans, maar ek huil ook omdat die wete van menswees in my binneste brand.
LitNet: 23 Mei 2005 Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |