NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



'n Groot lêer

Johan Nieuwoudt

Dis 1976. Ek sit in 'n Viscount skroefaangedrewe vliegtuig. Dit is my eerste vliegtuigrit. Hoewel die landskap daar onder my aanstaan, fokus ek tog op die twee sigbare skroewe. Hopelik dek iemand die ander kant. "Liewe Heer, asseblief tog, laat die skroewe aanhou draai."

My gebed is verhoor, maar ietwat verkeerd verstaan ...

Ek's op pad na my eerste werkonderhoud. Die firma se naam is Unisa. Ek het geen benul wat die plek doen nie. My enigste verwysing is 'n kort film waar Marius Weyers veronderstel is om 'n padwerker te wees wat in sy tent by kerslig studeer. Siende dat ek ongelooflik begerig is om 'n werk te kry, maak dit nie saak dat ek op pad is na 'n plek wat omsien na tentbewoners sonder elektrisiteit nie. Dis my vyfde jaar van studie in die sielkunde en niemand roep om my kundigheid nie. Die enigste ander moontlikheid is 'n werk in 'n verbeteringskool vir adolessente meisies, en as ek dit neem, wie weet wie vir wie gaan hervorm.

Ses van ons sit in die wagkamer van die Van der Waltgebou in Skinnerstraat. Een ou trek my aandag. Hy het die rooiste hare en 'n sproetgesig. Wat my die meeste opwen, is sy massale lêer. Hoekom het ek nie ook 'n lêer gebring nie? Hulle sal my nooit aanstel daarsonder nie. Ek kon my lêer gevul het met die werkopdragte wat ek oor seksafwykings en parametriese statistiek geskryf het. (Natuurlik het die tweede werkopdrag niks met die eerste een uit te maak nie.)

Om terug te keer na die ou met die groot lêer: ek kon ontspan het - hy was besig om veel hoër te mik as ek. Ook sou ek toe nooit kon raai dat ek eendag, ongeveer dertig jaar later, trots sou uitroep, "O Dekaan, my Dekaan!" as ek saam met hom in sy formidabele rooi kombi oor Unisa se unieke blink padknobbels ry nie.

Ek is die laaste van die ses wat die raadsaal ingelei word. Omtrent tien mense - nee, hierdie is nie mense nie, hulle is professore - sit om 'n ovaalvormige tafel. Ek het nog nooit soveel professore met een oogopslag gesien nie - selfs die boodskapper wat my kom haal het, is 'n professor ... Die geakkumuleerde kennis van al hierdie professore is duiselingwekkend. Al kry ek nie die werk nie, het ek grootheid aanskou en sal sekerlik hierdeur groei tot 'n beter mens.

Ek word voorgestel aan die eerste professor. Ek skud sy hand: "Aangename kennis, Professor." Die volgende professor word voorgestel. Dieselfde storie, maar nou moet ek rek om sy hand raak te vat. Nou's daar 'n probleem: die volgende professor is buite my bereik. Gelukkig het ek army-opleiding gehad en ek wend dit aan. Met 'n perfekte wip land ek op die tafel en leopard crawl na die professore wat nog geskud moet word. So hou dit aan totdat ek almal gedoen het: as ek by 'n professor kom, rol ek om op my rug en gee 'n pens-op handskud.

Wat kan ek sê, ek het die werk gekry. Ek mag nou nie 'n groot lêer gehad het nie, maar my pens-op handdrukke het my die tydelike junior lektor gemaak wat ek wou wees.

As ek nou terugkyk, weet ek ek het my vernuf verloor om te leopard crawl en pens-op handdrukke te gee. Sou ek nou vir 'n onderhoud moet gaan, sou ek sekerlik 'n lêer saamneem. Trouens, ek dink dit sal 'n groot rooi een wees.


Johan Nieuwoudt
Ek's op die plaas Oorskot (Boshoff distrik) in die Vrystaat gebore. Daarna het ek draaie gemaak by Krugersdorp, Maraisburg en oplaas Pretoria waar ek nou nog woon. Ek het by Stellenbosch, UP en Unisa geswot.
Vir baie jare al hou ek my doenig met die sielkunde. Noudat aftrede om die draai is, gaan ek probeer om stories te skryf ...
  Johan Nieuwoudt

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.