NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Aankoms en landing

Hanru Niemand

I: Botsing met die gereg

Buite die gesigsveld van die mense wat rugby kyk op die big screen in die StudenteSentrum (hoewel dit eintlik enige plek kan wees buiten die paar vierkante meter wat die skerm in beslag neem), sit Jacobus Grimm en drink sy koffie soos hy dit elke dag doen, op dieselfde plek.

Vanwaar hy sit sien hy hoe Danté, met sy geselskap vriendinne (uitgedos in lappe om hul koppe en enorme oorbelle), by die trappe afgeloop kom wat hom na die plek in die StudenteSentrum sal neem waar die mense rugby kyk. Stupid move, Danté, dink Jacobus, jy gaan gemoer word. Aan die ander kant het Danté hom nog nooit veel aan ander mense gesteur nie. Hy dra immers ’n rooi broek met dik vertikale strepe, en is lief om skitterende wawiele in die openbaar te maak, sy syserp driftig om sy nek te gooi en sy swart puntbaardjie tussen duim en voorvinger te streel. Ten spyte van hierdie aanwendsels, het hy darem nog altyd sy aanhangers, ’n getroue groep vroulike volgelinge vir wie Danté se ouwêreldse passie en poëtiese manier van praat onweerstaanbaar is. Hy is egter uit die aard van die saak nie beskikbaar nie.

Hier kom groot kak, dink Jacobus. En toe is dit ook soos hy gedink het. ’n Paar fris kêrels pak hom, gooi hom grond toe en moer hom en skop hom, asof hy die Springbokke se patetiese nuwe afrigter is. Die volgelinge is histeries aan ‘t huil en skree, terwyl die ander dames wat rugby kyk maak asof hulle verontwaardig is oor geweld, en mans, terwyl hulle heimlik grynslaggies en driftige fantasieë koester. Eindelik, nadat ’n paar van die laasgenoemde dames hul kêrels van die prooi afgerem het, lê Danté, met dik vertikale strepe bloed oor sy gesig, op die grond. Maar Danté is uiteindelik nie een wat hom aan ander steur nie, en gaan maak dan maar sy skitterende wawiele effens meer uit die gesigsveld van die rugbykykers.

Soos gebruiklik daag Marlene op. Sy laat net haar muffin-trip saamval met die rugby game omdat sy weer kwaad wil word en te kere gaan oor die Afrikaner, sport, die taal, die jeug se breindoodsheid, ens.,ens., bla-bla-bla, dink Jacobus, en: selfs haar hare is bang vir haar, dis hoekom hulle so wild staan, asof hulle probeer wegkom van haar af. Soos ’n reusekanonkoeël uit ’n ou seerowerfliek begin sy haar tog afwaarts. Sy hou egter in haar vasberadenheid om ’n muffin te kry, nie rekening met Danté se skitterende wawiele nie. Hy skop haar in die proses vol teen die kop. Sy word so in ’n konglomeraat stoele in gewerp, en, toe sy opstaan om te sien wie dit gedoen het, is Danté lank reeds aan die ander kant van die StudenteSentrum, besig met sy skitterende wawiele. Verwoed strompel sy dus by die muffin-winkel in en skree vir die Afrikaner met die oorbel agter die toonbank: “Gee my ’n muffin! Gee my my muffin! Shut up!”

Toe gee hy haar haar muffin.

En soos ’n kanonkoeël bestyg sy die trappe na die buitewêreld.

Sy koffie is op. Op met die trappe, dus. Die rugbykykende massa wat hom nie sien sit het nie, sal hom ook nie sien opstaan nie. Jacobus wonder of dit hom pla. Maak dit enigsins saak? Op pad na die buitewêreld hoor hy Ryna se stem agter hom. Hy swaai te vinnig om vir hom om nonchalant te lyk. Hy kan hom altyd verkyk aan haar: die meisie met die roesbruin hare en die blou oë en die sproete. En dan, met dié dat hy hom verkyk, slaan sy kop oor na neutral. Ryna praat dus eerste.

“Hallo, Jacobus.”

“Hi,” skrik hy wakker. Vir ’n oomblik staan hulle so, ’n paar tree van mekaar af. Hy kan amper sweer hy kan haar voel van hier af, maar hy weet hy verbeel hom.

“En hoe gaan dit?” vra sy, vermoedelik om die ongemaklike stilte te verbreek.

“Goed.” Smooth, baie smooth, Jacobus, dink hy, nog steeds in neutral.

Sy dink seker ek is ’n fokken idioot, dink Jacobus as hy by die deur van die StudenteSentrum uitstap, die buitelug in. Hy stap verby Marlene wat in’n skreegeveg betrokke is met die een of ander langhaar-Afrikanerman wat heel moontlik ’n lektor of ’n dosent is want hy skree die hele tyd: “Mitsdien! Mitsdien! Mitsdien!”[1] terwyl Marlene skree: “Shut up! Shut up! Shut up!” en somtyds, te wyte aan ’n Freudian slip, reken Jacobus: “Gee my my muffin!” Die lektor, slim kêrel wat hy is, het blykbaar ook die Freudiaanse implikasies van haar versoek gesnap, en, toe hy (vermoedelik in ’n poging om haar stil te kry: gee ’n kind sy sin dan huil hy nie) op haar versoek reageer, is die gort gaar. Want Marlene lig haar knie op, en tref die lektor vol in die gesig. Hy is ook nie links nie en trek los met ’n kragtige, wel, regter. Uiteindelik is hulle ’n spartelende, skreeuende massa wat die BeskermingDiens se manskappe se aandag trek. Soos een man pyl die dosyn manskappe (almal uitgerus in swart berets en epoulette en bypassende knuppels) op die struwelende paar af. Hulle draf in pas en in die vaste formasie wat hulle in die BeskermingDiens Akademie geleer is. Op hul badges staan Vir orde, vir eendrag. Hulle dink hulle’s moerse groot en sterk en belangrik, veral omdat hulle die corny berets ophet, dink Jacobus. Terwyl hy nog so staan en dink word hy ook deur ’n paar van die manskappe vasgetrek. Hy trek sy oë op skrefies en sê in ’n sagte heserige stem, vol tasbare veragting: “O, julle’s ’n klomp useless poepholle.” Dit help natuurlik nie sy saak aan nie, en hulle trek los met ’n paar netjiese houe met hul knuppels, soos hulle geleer is in die BeskermingDiens Akademie.

Hy word in een van die BeskermingDiens se selle wakker. By hom op die vloer sit die lektor en Marlene. Albei se gesigte is vol bloed, en dit lyk of Marlene ’n tand hier en daar verloor het. Dalk was hulle ook bang vir haar en hardloop toe weg. Die lektor stel homself voor toe hy sien dat Jacobus bygekom het. “My naam is Albert du Preez,” sê hy. “Jy kan my mitsdien Albert noem.”

“Heel logies,” antwoord Jacobus. “Ek is Grimm,” gaan hy voort en, voordat iemand kan sê: “ Ja, dit kan ek sien,” sê hy: “Jacobus Grimm.”

“Moenie vir my sê jy verstaan al daai ‘mitsdien’-stront nie!” roep Marlene verontwaardig uit.

“Dit spyt my.”

Van naderby lyk sy dalk nog meer afskuwelik as wat hy gedink het moontlik is, veral noudat ’n paar van haar tande ook die hasepad gekies het. Terwyl hy oor die moontlikheid van die verskuiwing van die grense van afskuwelikheid nadink, kom ’n manskap na die seldeur en trek sy knuppel oor die tralies (ook iets wat hulle geleer is om met kliniese presisie te doen in die Akademie), soveel so dat Marlene skree: “Shut up!”

“Die Sersant du Pisani sal julle nou spreek.”

In sy kantoor staan Die Sersant met sy rug na hulle. Hy kyk by die venster uit terwyl Danté (wat klaarblyklik voor hulle daar beland het, sy gesig bebloed en beide sy oë blou) gesigte agter sy rug trek. “Ek is moeg van julle aandagsoekery,” sê Die Sersant peinsend, terwyl hy ’n vlieg teen die ruit met ’n netjiese hou met die vlieëplak uitdelg, soos hy in die Akademie geleer is. “Op die ou end kom dit net neer op onrus, die versteuring van die orde wat ons nou al so lank aan bou. Dit is ’n te hoë prys om te betaal net sodat julle julle sieleheil kan vind in die aandag wat julle uit julle manewales kry.” Danté het intussen weer begin om skitterende wawiele te maak, wat hom klaarblyklik kans gee om die hele kantoor te bespied en gevolglik estetiese kommentaar te lewer op o.m. die “horrendous furniture” en die “absolutely sublime view wat jy hier het”. Maar die skitterende wawiele sukkel, want die kantoor is ’n bietjie te klein daarvoor. Hy stamp telkens sy kop teen die muur, en mis Marlene rakelings. Marlene sit natuurlik twee en twee bymekaar: “Dit was jy, jou dônner!” Met hernude woede haak sy af en moer hom dat hy oor die tafel trek en byna Die Sersant by die venster uitstamp. Uiteindelik draai Die Sersant om: “Julle tipe maak my siek. Julle saai verwoesting waar ook al julle gaan. Ek het geen ander keuse as om julle toe te sluit totdat julle ophou aandag soek nie.”

“Hei, wag so ’n bietjie! Ek het niks met dié mense uit te waai nie. Ek is per ongeluk deur jou stupid manskappe opgetel.”

“O, so jy meen jy’s onskuldig, meneer Grimm?” Hy tik-tik met sy vlieëplak op sy leerhandskoen. “Jy mag dalk so dink, maar ons hou jou al lank dop. Elke dag sit jy en drink jou koffie waar jy dink niemand jou kan sien nie. Ons ken jou soort. Voor jy jou kom kry, tango jy op jou eie deur die tafels waar die mense rugby kyk, en dan lyk jy uiteindelik soos dié kêrel hier by my voete.” Hy wys met sy vlieëplak afwaarts na Danté, wat uiteindelik sy bewussyn verloor het. Mens kan net soveel keer jou kop stamp. “Ek sal jou een ding sê, meneer Grimm, ek, Die Sersant Daan du Pisani, gaan nie toelaat dat dit gebeur nie! Manskap, vat hulle almal selle toe!” Jacobus wonder na watter manskap Die Sersant verwys, want daar is nie een in sig nie. Lyk Die Sersant dalk ’n bietjie verleë nadat hy besef het niemand hoor hom dalk nie, ’n glips in die BeskermingDiens-burokrasie dalk?

Ek sou natuurlik geweet het as ek eendag my mond oopgemaak het en haar gevra het wat sy vir ’n lewe doen, dink Jacobus. Want dit was Agent Ryna Roux wat op Die Sersant se gebulder gereageer het. Toe hulle haar die volgende dag gevra het waar sy die mal mense opgesluit het, het sy geantwoord: “Die Kelder.” Uit afgryse het niemand verder uitgevra nie. Die Kelder is die maksimum-sekuriteitsafdeling. In die BeskermingDiens se Boeke sal Jacobus Grimm, Albert du Preez, Marlene en Danté lewenslank opgesluit wees, terwyl hulle almal weer op vrye voet is, Albert besig om klas te gee in onverstaanbare voegwoorde, Marlene om kwaad te wees (o.m oor onverstaanbare voegwoorde) en Danté om skitterende wawiele te maak. Die BeskermingDiens is streng en somtyds oplettend, maar die manskappe vergeet somtyds om die logiese wet van non-kontradiksie toe te pas. En Jacobus sit weer by sy ou tafel en drink sy koffie in die vrees dat hy skielik sal opspring en begin tango. Hy klou verbete aan sy koppie vas. Hy moet nog vir Ryna dankie sê. Hy dink hy weet nou dat die rugbykykende massa in hul swye wel omgee oor sy doen en late, of eerder oor die onopmerklikheid daarvan, laasgenoemde synde die voorwaarde vir vrede, selfs orde en eendrag. Sy koffie is op. Op met die trappe, dus. Op pad na die buitewêreld hoor hy Ryna se stem agter hom. Hy swaai te vinnig om vir hom om nonchalant te lyk. Hy kan hom altyd verkyk aan haar: die meisie met die roesbruin hare en die blou oë en die sproete. En dan, met dié dat hy hom verkyk, slaan sy kop oor na neutral. Ryna praat dus eerste.

“Hallo, Jacobus, dit gaan goed met my, hoe gaan dit met jou?”

Shit, daar vat sy my pick-up line, dink Jacobus.

“Eh, dankie vir gister. Ek skuld jou.”

“Koop dan vir my ’n koffie.”

“Sal jy my keer as ek ewe skielik wil begin tango?” Clutch, eerste, petrol, clutch, tweede, petrol ...

“As dit ek is met wie jy wil tango, nooit nie.”

Stupid move, Jacobus, eendag gaan jy gemoer word, is sy afgryslike, wonderlike besef.

[1] Mitsdien is ’n erkende Afrikaanse woord wat “daarom” beteken. Dit word om verstaanbare redes net in akademiese geskrifte gebruik.

Aankoms en landing:
II: Op soek na Tim Banjo
III: Die verbanning van die blues
IV: Die blues underground
epilog

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.