NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Marlize Hobbs is ’n welfare antie in Ganyesa, ’n village in die ou Bophuthatswana. Vir vryetydsbestryding skryf sy.
  Marlize Hobbs

Op reis met Janine

Ons staan oorkant Roxy’s Rythm Bar in Melville. Janine hike met haar wysvinger in ’n afwaartse rigting. Dit sal glo vir die taxi wys waarheen ons wil gaan. Die eerste drie taxi’s ry by ons verby; ek veronderstel hulle is op pad na ’n plek waar ons nie wil wees nie.

’n Taxi met getinte vensters, ’n duik in die gat en ’n Kaizer Chiefs sticker op, stop by ons. Janine is ’n ou hand met hierdie dinge — sy groet vriendelik. “Sawobona, Chief” en gee vir die chief met die dreadlocks ons R5 vir die reis. Ons klim in; mense peul met arms by vensters uit: hier is altyd plek vir nog een. ’n Vriendelike vet vrou maak haarself klein teen die venster en ons skuif in; tussen haar en nog twee ander. Ek ruik méns, vroegoggend mens, wintermens — effens bedompig, koud en honger. Rou asems. Janine lyk heel happy en ingenome met haarself. Sy het vir ons ’n lift georganize. Die “chief” agter die wiel draai die volume oop, ons luister Bob Marley. “I shot the sheriff, but I didn’t shoot his de-pu-ty ...” Die kombi se skokbrekers ruk oor elke moontlike hobbel in die pad, ritmies op die maat van die musiek. Ek is skielik dankbaar en bly dat ek onthou het om ’n bra aan te trek, want anders het ek teen die einde van die reis hangtieties gehad. Nog iemand word opgelaai langs die pad. Ek moet op Janine se skoot sit, sy moan oor my boudbene wat so skerp is. “Shut up, buddy, hierdie was jóú great idee, is al wat ek sê, terwyl ek my lekker regskuif op haar bobene.”

Ons ry deur Melville, draai links in Empire en vat die pad stad se kant toe, in Rissikstraat af, oor die brug en tot by een helse groot taxi-staanplek. Hier klim ons af. Een vir een tuimel ons uit die kombi. Janine bedank die chief. Ons staan soos twee wit verfkolle op ’n groot swart doek uit bo die res.

“Waarheen nou,” wil ek weet.

“Kom,” sê Janine en vat my aan die arm. Sy stop by ’n straatverkoper en koop vir ons ’n Coke met kleingeld wat sy uit haar broeksak haal. Ek pluk aan my skouersak op soek na my beursie.

“Is jy simpel? Moenie so vir almal wys jy het geld nie — dis kaksoekery.”

Sy gryp my sak en trek die toutjies styf toe en knip elkeen van die knippies met ’n vasberadenheid vas. Janine groet party van die verbygangers soos ou vriende ... nogal met die hand: op en af op die Afrika-manier. Dan gaan ons by ’n plek in wat sigarette baie goedkoop verkoop. En as ek sê cheap, dan is dit wat ek bedoel. Die eienaar, ’n ouerige bruin man, dra ’n blou-en-wit gestreepte voorskoot soos iets uit ’n movie oor kafee-eienaars. Hy is baie vriendelik en groet ons in Afrikaans, terwyl hy praat oor die weer. Wanneer ons verder loop, glimlag Janine tevrede.

“Die lewe, ou pel, gaan oor contacts — hier koop ek nou my siggies cheap, omdat ek pels gemaak het met Ivor. En klaarblyklik kan hy allerhande ander goed ook vir jou cheap in die hande kry.”

“Dis onwettig,” sê ek. “Dis nie reg nie.”

“Mmm, vir een wat nie saamstem nie, rook jy darem te lekker aan jou onwettige smokey!”

“Dis nie wat ek bedoel nie. Ek meen maar net dat die ánder goed ’n onwettige spul is, want dis waarskynlik gesteel. Die smokeys is oraait, soos die regering daarom ok daarop tax, moet mens maar ’n ander plan sien.”

“Ja,” beaam Janine, terwyl die rook blou in die lug voor ons hang; iewers in ’n agterstraat aan die gatkant van Jo’ies.

Ons loop verby mense wat allerhande dinge smous: horlosies, goue armbande, sonbrille (John Lennon-style), kepse, handsakke, namaaksel-tekkies van bekende make soos Reebok en Nike; kiepiemielies en nick-nax in plastiese sakkies. Dis asof hier ’n heel ander lewe geld, met ander reëls en ander perspektiewe. Tot dusver is ek en Janine die enigste blankes wat hier rondloop. My ma skiet die kolonel, sy kry ’n dubbele hartaanval as sy moet weet waar ek en Janine aan die dwaal is. Die straat is ’n bont massa mense. Hulle koes verby ons met kepse oor die ore getrek. Ander drapstap om warmte in hul lywe te kry, hande diep in baadjiesakke. Hul klere adverteer: Kappa, Orlando Pirates en Kaizer Chiefs.

Ons loop tot by die stasie. Hier wag ons in ’n ellelange ry om ons derdeklaskaartjies na Kempton Park te koop. Die ry mense beweeg stadig en Janine lyk benoud; sy is bang ons verpas die trein en dan moet ons wag vir ’n volgende een. Uiteindelik koop ons kaartjies en laat dit knip, dwarrel deur die draaihekke en bestorm ’n trein. Janine help my op, want die ding is al in beweging. Ons loop deur tot by eersteklas. Dis ’n ou laai van Janine om derdeklas te koop en dan net deur te loop en in eersteklas te gaan sit. Sy kom al vir baie lank daarmee weg; niemand sal haar verdink van so ’n wanpraktyk nie — sy is wit en sy is jonk en sy lyk so donners onskuldig.

Die banke is ’n vuilgroen, ek klou my sak op my skoot vas. Oorkant my sit ’n man en bier drink, Black Label. Toe hy sien ek kyk vir hom, hou hy die bottel na my uit; ek skud net my kop. Ek staar by die vuil venster uit — daar hang ’n grys wolk oor die stad sover as wat ons ry. Ons wieg verby ’n plakkerskamp en die rook trek my neus toe, sodat ek moet oopmond asemhaal. Ek rus my kop teen die sitplek en ruk orent wanneer die trein stop by ’n plek langs die pad waar daar net ’n baksteengebou en baie swartes is. Ek druk my kop by die ruit uit om te sien waar ons is. Klaarblyklik is dieselfde gedagte in Janine se kop, want sy vra die man met die Black Label waar ons is en of die trein op pad is Kempton Park toe.

Hy skud sy kop. “No, this train is going to Ver-ééniging.”

“Fok, ons is oppie verkeerde trein!”

“You get off at next stop, you get the right one there,” beduie die man behulpsaam. Hy kyk op sy horlosie en sê: “But it be very full, it is Friday, you know. People going home, lots of workers on that train now.”

Ek gryp my sak en maak solank gereed om by die volgende stop af te klim. Ek sê niks. Janine kom staan langs my en wag vir die trein om tot stilstand te ruk.

“Jy’s loskop, jou roeispane vat nie water nie,” beskuldig ek haar.

“Man, ek ry al lank trein. Hoe moes ek nou weet dié een gaan nie deur Kempton Park nie? Hulle lyk almal anyway eenders.” Sy trek haar skouers op en sug.

Ek wieg van been tot been en moet gryp vir vashouplek toe die trein stop. Die deur suis oop en ons spring tot op die perron. Nog ’n no-name plek vol swart mense. Janine vra almal uit na treine wat moontlik Kempton toe gaan. Meeste ignoreer haar en klim in die trein wat ons verlaat het. ’n Dronkaard wat geweldig onvriendelik ruik en lyk, loop nader. Vandag word ons geroof, gerape en vir die aasvoëls op hierdie godverlate perron gelos! Maar ’n ander man tree tussen die bedreiging en ons in. Ek dank God vir die swart engel en kruip onder Janine se arm in. Dit het skielik kouer geword. Op die perron drom mense soos brommers in mis. Ek weet een ding: ek hoort nie hier nie. En ek verlang skielik na my ma en ons kombuis op die plaas.

Die regte trein lyk net soos die vorige een. Dit het al amper by ons verby getjoek toe die engel ons haastig beduie om op te klim. Ons hardlooop langs die trein wat al beweeg en Janine spring in en trek my op. Mense staan ingepak, rug teen rug, kop aan kop, met arms wat hier en daar aan ’n hakplek hang — biltong op ’n draad. My arms is soos staal om my sak, terwyl ek tussen Janine en ’n lang swart man staan. Hulle hou my regop tussen hulle. As een van hulle moet padgee, sal ek val. Ek beweeg in hul ritme. Ek float op ’n see van mense. By die volgende stop klim baie van hulle af en Janine dwing ons in ’n volgende trok in. Hier word dice gegooi, bier gedrink en heel moontlik mes gesteek. Janine druk haar roeispane in die water en ons roei deur die mense tot in ’n ander trok.

Die mense sit op groen bankies langs die kant. Die ouer vrouers sit almal en die ouer mans ook. Die gevoel in hierdie trok is heeltemal anders: ’n gewyde atmosfeer. Voorlangs staan ’n man met ’n Bybel. Mfundise. Hy preek in Zoeloe en Sotho. Tussenin sing die vrouens treurig, terwyl ons wieg en die trein by elke stopplek langs die pad sug. Die man met die Bybel slaan ook nou oor in Engels — seker vir ons twee wit gesigte. Hy praat Zoeloe, dan Sotho en dan weer in Engels. Dit klink of hy gewoond daaraan is om so te preek. Dan bid hy dat God sy seën oor ons sal laat gaan, terwyl die trein ons skud-skud in Kempton Park aflaai.

My arm wikkel los om die sak en ek tas rond, vingers voel-voel en kry niks. “Hier,” sê Janine en gee vir my ’n sigaret aan. Ons staan stil en light die smokeys bakhand om die vlam. Dan begin ons loop. Die son val weg agter grys geboue. Ons is in Kempton Park.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.