NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jean Meiring
is ’n nagraadse student in die Regte
  Jean Meiring

Gif

Jean Meiring

Sophia skrik wakker as sy die eerste voëltjies hoor fluit. ’n Oopgesperde Agatha Christie-speurverhaal is ’n spits dakkie op haar bors. Sy skuif krom voetjies ferm pantoffels in, en plof bottergeel die gang af, toilet toe.

“Vandag is die groot dag. En daar’s nog só baie om te doen,” fluister sy dringend vir die volkleur Gé Korsten agter die ketel, so amper asof hy aandadig is aan dié dag. Sy voorkop pêrel koorsig. Bo sy kantpaadjie, wat soos die Rooi See oop lê, hang Jesus groen en geduldig aan sy koperkruisie.

Haar koffie is nagswart en bitter. Nogtans róér sy. Dis soms goed om iets te doen wat onnodig lyk, knik sy vir haar vasgespykerde Verlossertjie. Soms, ook goed om van onnodige dinge ontslae te raak. Sedert die tyding is haar kop nie meer lekker nie. Dis vir haar asof sy nie meer hier is nie, asof sy soos ’n god op die wêreld neerkyk.

Sophia lag skielik, soos ’n stomp mes. Dis ’n verbasend wrede klank. Die druppeltjies verdampte stoom biggel oor Gé se singende engelwange.

Sy kyk deur skrefies na die lysie name in haar hand. Lisbé neem bruinsuiker in haar tee. Sarie is ’n diabeet, neem geen suiker nie. Elkeen van haar vyf gaste het die een of ander voorkeur. En as sy vandag met haar plan gaan slaag — as vandag rêrig ’n dag gaan wees wat vir lank onthou word — kan sy nie bekostig om enigiemand se gril te vergeet nie. Die papiertjie keep soos Sophia nog ’n notatjie langs ’n naam maak.

Na lang oorweging, besluit Sophia die sitkamer sal die beste werk. Soos ’n teaterregisseur wat ’n stelontwerper se voorstelle opweeg, het sy die eetkamer fyntjies bekyk. Nee, te donker en te beknop. Die sitkamer bied ’n wye uitsig oor die see. Atmosfeer is tog als.

Lisbé is vroeg. Sophia versteen as sy die skerp, dringende geklop aan die voordeur hoor. Is dit al sulke tyd? Is als in orde? Het sy aan als gedink? Op pad voordeur toe, sit sy bewend twee suikerpotjies op die tafel in die sitkamer neer.

Sophia neem Lisbé se ligpers jas — die een met die wit wasigheid soos seeskuim daaroor. Sy hang dit versigtig aan die eerste hakie net langs die voordeur. Sy’s byna verbaas as sy besef hoe outyds die snit is. Dit kan nie van veel later as die vroeë sewentigerjare dateer nie. Ai, Lisbé, dink sy: Jy leef jou oorbodige ou lewetjie salig onbewus dat ons al in ’n nuwe eeu is.

Skuins na drie sit Sophia se vyf gaste almal kersregop rondom die spieëlende koffietafel. Nes in die ou dae. Die winterson gooi goue stralekransies teen hul agterkoppe; Sophia kan nie mooi hul gesigte sien nie. Vyf outydse jasse hang leweloos aan die hakies in die voorportaal. Die motbolle het hul werk gedoen.

“Welkom, vriendinne,” sê Sophia, bewus van hoe hol en geaffekteerd sy klink. Haar hande is sweterig, ten spyte van die seeluggie wat inwaai. “Só lank gaan ons nie weer wag om bymekaar te kom nie. Dit moet nou al jare wees sedert ons laas almal saam was.”

Die koppe voor haar knik soos koekoekklokke. Sophia druk die mes genadeloos deur die drieverdieping-sjokoladekoek. Middeldeur. Sy swaai die koek se gesig vertonerig in die rondte. Die helfte naaste aan haar sny sy in vyf gulsige wîe.

“Nee, Martie, ek sal van die tweede helfte kry. Jy’s die gas; het van vér gekom. Hierdie heerlike stuk is joune.”

Sophia stoot ’n laggie uit. Die soetigheid bedek nouliks die hardheid in haar stem. Gé se “My gelukkigste dag” is soos spookasem om hulle.

Sophia maak seker dat elkeen ’n sny koek het. Nóú kom die moeilike deel. Sy moet onthou wie wát neem. Mét wat. Sónder wat. Sy kan tog nie voor hulle haar lysie raadpleeg nie. Nog minder kan sy haar jare lange vriendinne vra, net om seker te maak. Nie vandag nie. Als moet natuurlik en moeiteloos verloop. Anders sal hulle mos dink sy’s nie haar ou self nie. Dalk nog snuf in die neus kry.

Sy klem die klein silwerlepeltjie, met ’n verbaasde leepoog-Lasarus daarop uitgegraveer, tussen rooigelakte naels. Ai, hier het ek darem skeef geverf, dink sy, en hoop niemand merk dit op nie.

Sophia buk moeilik vooroor. Haar gesig swem onder haar op die koffietafelblad. Sy herken dit nie.

’n Wit straal klief ’n kokende poeletjie swart. Soos ’n baba wat inplons en oombliklik verdrink, dink sy. Die kristalletjies vergaan behaaglik, onnaspeurbaar in die kolkende hitte.

Sy gee die laaste koppie bewerig aan. Penorent sit sy, en hou die toneeltjie deur strepiesoë dop. Gedaan.

Sophia roer haar eie gifswart koffie. En kan haar genot dan nie meer inhou nie. Sy laat ’n lag los soos ’n kou kanaries wat oopgaan. Dit trek by die oop venster uit.

Toe ’n polisiebeampte ’n week later Sophia se voordeur oopbreek (“Daar lê ’n hele hoop koerante voor die tannie se deur”), sien hy ’n ou vroutjie verstar in ’n leunstoel teruglê. Haar beblomde rok lê windverwaaid om haar, soos opgefrommelde geskenkpapier. Haar mond gaap.

Op die koffietafel is daar vyf bordjies met ’n reusesny sjokoladekoek onaangeraak op elkeen. En vier vol koppies koffie; twee koppies tee. Almal yskoud.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.