NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Carina Laubscher
swoeg in werkstyd met tale en in haar vrye tyd met katte. Musiek is haar mojo en sy openbaar ’n subjektiewe toleransie vir plaaslike rock en blues. Sy woon en werk in Melville. Sy skryf omdat dit die kreukels uit haar rugstring stryk. Namibië is haar heimat, die PUK is haar alma mater en sy eet tamaties soos appels.
  naam

Wat sal die mense sê?

Carina Laubscher

So ’n betottelde ou sinnetjie. Wat sal die mense sê. Die ene sproete, vloermoere en anti-akneeroom. Nietemin het daardie spesifieke besimpelde sin haar grensloos gemartel, met wenkbroue wat lig, asemlose fluisteringe agter geheime bakhande, giggels wat haar volg sodra sy wegstap. Die mense het altyd iets gesê. Al was dit nie sy wat met die gemors begin het nie.

Nadat Pa besluit Oshakati is nou heeltemal te vol van die vlieë en vertoiingde donkies, trek hulle af Windhoek toe. ’n Besige stad, dié reuseplek met parke en blink winkels, roltrappe en ’n ysterkoedoe aan die onderkant van Kaiser Strasse. Die nuwe huis se dak was plat, met aalwyne en ’n bombaksboom woes aan ‘t groei in die voortuin. Summier word sy in die middel van sub A in hierdie vreemde skool gestop, dan nog met ’n lelike oranje blokkiesrok, en hoekom het almal skoene aan? Daar’s meer klokke as klasse, die trappe is koud onder haar voete en haar maag draai. Nes die son toe sy skerpste tande wys, lui daar een klok verskriklik lank, blykbaar ’n teken vir almal in die klas om kosblikke iewers uit te grawe. Iewers op ’n kol het sy ’n ding misverstaan. Sy kyk rond. Almal het toebroodjies, daar’s koekies, en jissie, daai een het ’n pakkie pienkpilletjies. Sy steek haar hand op, woes ontstig. Juffou kyk op. “Ja ... ummm ... ja, Adel?” Almal hou op kou, kyk vir haar. Sy sluk, maar druk deur. “Juffrou, waar’s my kos?”

Juffrou was sprakeloos.

Vir dae daarna het sy nog die klas in haar ore hoor lag. Ma’s wat vir kinders kos skool toe gee? Hê? Hoe dan nou? Ma het niks gesê nie. Maar die volgende oggend is daar vir haar drie Marmite-toebroodjies in foelie toegewikkel. “Ma? Hoekom kry ek brood?” Ma se mond was ’n dun bleek streep. “Adel. Ons bly nie meer in Oshakati nie. Jy’s nou in ’n groter skool. Wat gaan die mense sê as jy pouse sonder kos sit?”

Dit was dan dit.

Dieselfde storie toe Pa begin moeg raak vir sy Corsair se seesiekgroen gesig wat hom elke dag in die gesig kyk voor hy werk toe ry. “Mariana, ek soek daai Mercedes. Hierdie kar val uitmekaar.”

Ma het stywerug langs die spenskas gestaan en wortels kap. So van onder haar derms uit gesug. “Pieter. Daar’s niks fout met die Corsair nie. Jy kan mos nie nou ...”

Pa se ongeskikte snork. Gunnnfffff. Die teken dat hy begin kwaad word. “Ja? Wat van laas maand toe sy enjin op Usakos reg langs Tilla se huis aan die brand geslaan het? Die ding kan nie eens verdompwil die pad loop van Swakop af nie! Het jy al gekyk hoe lyk sy agterdeure? Nee, o donner, ek hoor al die Kubirskes hier langsaan. Ou Wilko met sy SLK. Ek sweer hy sit elke middag en lekkerkry in sy sokkies wanneer ek van die werk af kom.”

Ma se nukkerige stilte was genoeg om hom te laat papiere teken vir die pampoenkleurige Mercedes met die sagte leersitplekke en breë wiele. ’n Skamele twee dae later. Want verdomp, man, wat sal die mense sê?

Toe kom Tina die Nama-meisie van Rehoboth by hulle werk. Sy was mooier as die maan. Sy het altyd geruik na babapoeier en vloerpolitoer, en sy kon die beste maltabellapap maak. Nooit is daar ’n enkele frummelklont in daai pap geproe nie. Vir haar was dit ’n onbegonne taak om vir Ma met die afval te help. Die skaappens se kerriestink het haar elke keer na die voorstoep toe laat hol vir vars lug. Ma het vir haar gelag.

Dan het Tina ’n paar minute later in die kombuis teruggeglip met een van daardie vet groen wingerdwurms, so ’n stekeltjie op die agterlyf en groot geel kamma-oë. Ma het haarself die meeste van die tyd bietjies-bietjies natgemaak van skrik. Tina het haarself uitasem gelag. Sy het altyd namiddae op haar buitekamer se sementtrappie gesit en met gladde blink vingers gliserien aan haar hakskene gevryf. In haar dorp was sy mejuffrou Suid-Aub of so iets. Sy het mooi lang blink bene gehad, soos ’n perd wat baie geborsel is. Tina was altyd maar daar, met haar snaakse tongklapmusiek en stories oor die woestyn.

Tot die dag wat Leon die bendehuisie in die agterplaas afgebrand het. Leon het gou verveeld geraak. Hy was vasbeslote om stukke aartappel in die swartpotjie te kook en die vuur vir die potjie was effe groot. Hy’t onder sy bed gaan wegkruip toe Tina met die tuinslang om die huis is, sy het so hard gehuil, dit was soos ’n heks wat doodgaan. Die vyeboom in die agterplaas was net drie swart stokke in die grond ná die brandweer daar weg is. Tina het snaaks gelyk, asof iemand haar in haar wind geskop het. Sy het gesê sy gaan gou sigarette by Caltex koop, sy moet bel ook. Sy het nie teruggekom nie. Ma het gesê dis oor Leon en die swart roetstrepe teen die buitemuur dat Tina so geskrik het. Die Namas se woestyngod sê vuur is boos. Dat die vuur jou merk wanneer jy onder die Groot Sandduin moet gaan lê. Tina was verskriklik bang vir die Groot Sandduin. Ma was kwaad, só kwaad. Niemand in die straat mag geweet het hoekom Tina sommer net weg is nie. Nee, liewer nie. Leon is nie regtig ’n brandstigter nie. Genugtig, wat sal die mense sê.

Dié ding het koorsig agter haar bly aanloop soos ’n malariadroom. Moenie sus wees nie, wees so. Wat sal die mense sê. Ander se tonge, ander se woorde. Oor skoolgronde, in eksamenlokale, in aandrokke, voor spieëls, in restaurante, agter gordyne. Wat sal die mense sê.

Sy kon die ding sien wegkruip agter die spuitfontein op die kampus, sy kon dit hoor hoes in die nag. Dan het sy het die oorfone oor haar kop geskuif en geluister na Frank Duval se “Living like a cry”. Soms het sy gehuil. Net soms.

Sy het ’n tikmasjien se nukke leer ken, sy het geld op maskara, velroom en proteïenesjampoe pleks van ’n klein yskassie vir die woonstel spandeer. Sy het dikwels verkoue gekry. Sy het haar eie rekeninge betaal en geleer om vitamienaanvullings te sluk. Daar is weggedoen met die donker oogkringe, die koekige plat hare, die afgekoude naels. Mens mag nie slodderig lyk in ’n ontvangspos nie. Wat sal die mense sê.

Toe sy hom daardie koel herfsoggend voor haar sien verbyloop, het sy geweet. Vir hom wil sy heel insluk. Sy wil hom hê. Sy hemde stryk, sy seuns in haar baarmoeder bou, Cremoratert vir hom maak en op die mat sit en kyk hoe hy slaap. Hy was lank, trots en sy broek het met mening gepas. Hy het by sy swart Honda gestop, omgedraai en gesê: “Het jy geweet daar’s meer plastiekpelikane in die wêreld as dié met vere?”

Hy het haar klakkeloos aan hom verslaaf en saans doodstil gesit om haar gedigte te hoor. In sy wêreld het haar trietsigheid verdwyn.

Die enigste argument voor die troue was oor die rok. Hy was vir ten minste ’n uur totaal die kluts kwyt. “Tweeduisend? Tweeduisend rand vir ’n rok? TWEEDUISEND? Ek kan ’n deposito vir ’n kar neersit met daai geld! En die volgende dag gee jy dit terug??!!! Is jy heeltemal van jou TROLLIE af?”

Dit was lelik, vol droë bitter skreeue en die eerste duwweltjies van realiteit voor in die voetpad. Hy het by sy pa-hulle gaan slaap. Sy het geweier om te huil. Sy het gaan bad en hare was, in ’n kwaai oomblik haarself skoongeskeer, lank daarna vir die spieël gekyk.

Skielik oop en kaal daarso, soos ’n meisietjie. Die oopheid van ’n doplose slak. In haar kop het dit gemaal, gevreet, gekerm. Die troukaartjies, die foto’s, die rose, die onthaal se deposito. Die witgoud om hulle vingers. Kanselleer? Alles los? WAT?? Wat gaan die mense hieroor ... ja. Die mense.

Dit was snikwarm in die kerk. Haar arm fyn oor syne gebuig. Die gipskruid in die hoofruiker het liggies voor die waaier geroer. Haar mond was droog. Sy kon hom ruik. Camel en stortseep op sy vel. Sy heup was dwingend en hard teen haar bobeen. Veraf soos deur ’n dik membraan kon sy snapse van dominee Schoombee se stem raakluister. “Liefde ... bzzzbmm-bla-bla ... wees mekaar onderdanig ... bla-blluh-brffzz ... ja, daar sal buitepartye wees, maar maak nie saak wat mense sê ... brrmmmm ... en jy sal hom aankleef ... eet soos honger bye uit die heuningpot ...”

In haar kop was die gil sonder ’n tong. O, MAAR DOMINEE U WEET EINTLIK NIKS ...

Die straat se geraas is deur die kerktuin se grasperk ingeslurp. Dominee Schoombee het behaaglik sy arms uitgestrek — sy toga ’n swart vlieër met tossels. Agter haar ’n sameraapsel van dreunstemme met “Laat Heer u seën op hul daal — u guns uit Sion hul bestraal ...”

Sy het nie geluister nie. Onder die satyn kon sy voel hoe die sweet tussen haar borste in ’n klein nat spoortjie na haar naeltjie loop. Sies. Mens sweet nie in jou trourok nie. Wat sal die mense sê.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.