|
|
Hulle is hier …Arnold la CockIets baie vreemd is aan die gang. Dit het gisteraand begin. Eers het ek gedink dis dalk iemand wat gekskeer, maar niemand wat ek ken, beskik oor sulke gevorderde tegnologie nie. Toe dag ek weer: dalk is dit ‘n bonatuurlike verskynsel, of moontlik ‘n allegoriese droom. Maar alles wat gebeur het, was so verskriklik werklik – elke bisarre sekonde daarvan. Vanoggend is ek egter oortuig dis nie die vrug van my onderbewuste nie toe ek wakker word en hulle om my bed sien staan - en toe nog die woorde op die TV bo die bed … Nee, ek het nie die vaagste benul wat aangaan nie – wat met my gebeur het of wie hulle almal is nie. Maar laat ek jou eerder vertel … * Ek is gisteraand ongeveer sewe-uur na my kantoor. Dis die ene by ons huis. Aan die onderpunt van die gang aan Hoofstraat se kant. My vrou sê altyd dié vertrek is aan die onheilskant van die huis. Waarskynlik omdat die eikeboom, die wilger en die twee yslike struike feitlik al die lig van die straat se kant wegkeer en net ‘n paar bewegende donker en ligte skaduwees teen die kantoor se binnemure laat dans. Sy reken as daar spoke of onheilsgedrogte is, is dit waar hulle sal inkom. (Terloops, sy en my jongste dogter was by een of ander ma-en-dogter-skoolfunksie). Ewenwel, ek het voor my rekenaar gaan sit en my internet-gunstelinglys oopgemaak, waarna ek met die muis op die LitNet-skakel geklik het. Toe dit opkom, het ek op die geselskamer-skakel, SêNet, geklik, waarna ek, soos soveel kere tevore, die briewe begin lees het. Die meeste was, soos altyd maar, persoonlike aanvalle op ander briefskrywers met hier en daar pitkos vir die ywerige debatteerder. En toe kom ek by ‘n brief van ene Nathan Bond (‘n gereelde SêNet-korrelkop wat maar erg stroomop kan raak). Soos gewoonlik het sy skrywe my omgekrap en ek wou hom summier terugkap. Maar na die skoon epos-blad op die rekenaarskerm verskyn het, was ek nie meer so seker nie. Wat sou dit tog in elk geval help? Hy sou hom tog net daaraan afvee. Hy is in elk geval een van daardie ouens wat nie juis vir oortuiging oop is nie. Vies oor ek my laat opsweep het, het ek impulsief en uit frustrasie ‘n spul letters op die toetsbord geslaan, wat ‘n onleesbare sin op die skerm voor my gevorm het. En toe gebeur dit … Ek was eers nie seker of dit net my verbeelding was nie. Toe dag ek weer dis ons vet Persiese kat wat oral altyd sit en steun. Maar dié was nêrens te sien nie. En dit was beslis ook nie ‘n geluid wat deur ‘n rekenaar gemaak word nie; veel eerder die geluid soos die gekreun van ‘n mens. Ek het weer na die onleesbare letters op die skerm gekyk. Meteens het die skerm begin flikker. Toe raak dit swart en toe weer blou. Toe vries alles. Ek moes “reboot”. Buite was dit reeds donker. Ek het op die rekenaar se Restart-sleutel geklik en in die donker gang af na die kombuis gestap om vir my koffie te gaan maak. In die kombuis het ek die ketel aangeskakel, ‘n beker uitgehaal en ‘n lepel kitskoffie, twee lepels suiker en ‘n bietjie melk ingegooi. Terug voor die rekenaar het ek weer op die internet ingegaan en gewag vir my tuisadres, Google, om op te kom. Toe het ek weer die LitNet-skakel gekies. In die kombuis het die skakelaar van die ketel afgegaan om aan te toon dat die water kook. Ek het opgestaan. Dis toe dat ek die ander geluid hoor. Dié keer was dit soos water wat uit ‘n bottel geskink word. Maar ek kon weer nie agterkom waar die oorsprong en wat die bron van die geluid was nie. Op die rekenaarskerm het LitNet se webadres verskyn. Ek het op die brieweskakel geklik, opgestaan en deurgestap kombuis toe, die kookwater by die koffiepoeier, die suiker en die melk gegooi en dit geroer. In my kantoor het die lys SêNet-briewe op my rekenaarskerm gewag. Ek het met die muis weer op Nathan Bond se briefskakel geklik. Dit het oopgemaak, maar tot my verbasing was sy brief dié keer skoonveld. In die plek daarvan was daar net ‘n skoon blad met die deurmekaar sin wat ek ‘n rukkie tevore uit frustrasie op die toetsbord uitgeslaan het. Ek het met groot oë na die skerm gestaar en met ‘n bewerige vinger die Back-sleutel gedruk. Toe gebeur iets baie vreemd. Die sin het vir ‘n oomblik uit fokus geraak tot dit heeltemal onleesbaar was en toe raak dit weer skerper tot ek duidelik kon sien wat daar staan. Dit was nie meer ‘n deurmekaar klomp letters nie – dit het nou sin gemaak – ek kon dit lees! My hartklop het versnel en my asemhaling was vlak en hortend. Wat was hier aan die gang? Is iemand besig is om gek met my te skeer? Ek het vorentoe geleun om my lippe met die koffie nat te kry. My hand het erg gebewe toe ek die beker optel en ‘n slukkie neem. Die vloeistof het warm in my binneste afgespoel. Voor my het ek oor en oor die swart letters op die klein skerm gelees: “Hulle is hier … Hulle is hier …” – ’n sin wat ek beslis nooit getik het nie. Bewerig het ek die beker op die lessenaar teruggesit. Daar was meteens weer ‘n kreungeluid en toe raak die rekenaarskerm weer swart. Maar hierdie keer was dit nie ‘n gewone swart nie, maar ‘n swart asof daar geen skerm is nie – soos ‘n diep, donker gat. Wat hierna gevolg het, was so vreemd dat ek self nog sukkel om dit te verwerk. Dit het begin met dieselfde geluid van vroeër: water wat uit ‘n bottel loop – toe verskyn dit … Binne die gitswart van die rekenaarskerm het ‘n klein, grys kolletjie eers verskyn. Dit het binne sekondes groter geraak. En toe in die vorm van ‘n gesig verander. Die beeld het ook al hoe skerper geraak tot ek uiteindelik die driedimensionele vorm van die gesig kon uitmaak: die neus, oë, mond – en toe die skok: ek het dit herken! Dit was die gesig van iemand wat op SêNet skryf: Estiaan Bosch … of liewer … nee, dit was Nathan Bond! Dit was waaragtig sy gesig op die skerm voor my! ‘n Aaklige louwarm gevoel het oor my gespoel; terselfdertyd het my lyf van kouekoors begin ril. Ek het lighoofdig en naar gevoel en besef my verstand sukkel om dit wat my oë waarneem te vertolk. Wat was besig om hier te gebeur? Hoe op aarde het ek geweet wie dit is as ek nog nooit in my lewe vir Nathan Bond van aangesig tot aangesig ontmoet het nie? Ek wou opstaan, uitloop, die deur toemaak, my gesig met koue water gaan was. Ek was waarskynlik moeg, oorwerk, het rus nodig gehad – dalk op die rand van ‘n ineenstorting en nou begin ek drogbeelde sien. Of is dit dalk maar net ‘n baie vreemde, realistiese droom? Lê ek dalk voor die rekenaar en slaap? Moet ek net opstaan? het ek gewonder. Maar ek kon nie. My bene het geweier om te roer. Hulle was soos lewelose stukke vel en been wat oor die stoel hang. Toe verskyn daar nog ‘n gesig … en toe nog een en nog een. En ek herken elkeen van hulle – almal briefskrywers op SêNet. Hoe was dit tog moontlik? Die gesigte het meer en meer geraak tot hulle uiteindelik te veel vir die skerm was. Toe begin hulle saam met die swart kleur soos ‘n dik donker rook uit die skerm sypel en die kamer binnevloei. Van die gesigte het teen die mure vas gaan sit. Ander teen die klerekas en die boekrak, en nog ander het bloot vryelik rondom my gesweef. Meteens het hul lippe onverstaanbare woorde aan mekaar begin fluister en voor my het die toetsbord se toetse op hul eie op en af begin beweeg. ‘n Sin het letter vir letter op die skerm verskyn. Dit was dieselfde woorde oor en oor: “Hulle is hier … Hulle is hier …” Toe, skielik, êrens binne die huis was daar ‘n geweldige slag – soos ‘n bliksemstraal wat die gebou tref. Onder die deur kon ek sien hoe die gang se ligte aan en af flikker. Op die rekenaarskerm het die woorde ook geflikker, verdwyn en dan weer letter vir letter verskyn: “Hulle is hier … Hulle is hier …” Ek het angsbevange daarna gestaar: Wie de hel is die “hulle”? Wat de hel is besig om te gebeur?! Ek het vreesbevange deur skrefiesoë na die donker wordende kamer geloer – die gesigte oral om my. Ek kon nog vaagweg die skerm, met die woorde wat steeds flikker, sien. Binne my lyf het my hart teen my ribbes gehamer, my asemhaling was steeds vlak en hortend, en sweet het teen my gesig afgerol. Ek het besef ek sal moet opstaan – ek moes uit! Ek het met al my oorblywende krag myself met my hande op die stoelleuning regop probeer beur. Krag het stadig terug in my bene gesypel en ek kon voel-voel na die deur skuifel. Toe ek uiteindelik die deur oopmaak, het ‘n stroom wit lig my verblindend getref. Ek het instinktief my hande voor my oë gelig en tussen my vingers deur probeer kyk wat aangaan. Aan die onderpunt van die gang kon ek die bron van die lig sien: die ingang na die kombuis was ‘n soliede blok verblindende lig – soos ‘n stuk van die son wat in die deuropening ingemessel was. Dit was vreesaanjaend. Ek het soos ‘n kindjie gebewe en kon voel hoe trane in my oë opwel. Agter my in die kamer het die rekenaar se toetsbord onophoudelik geratel. Ek het geweet ek sal moet kies: retireer na die donker of vorentoe na die verblindende lig. My liggaam het skielik begin ruk asof ek aan ‘n oop elektriese draad vat. En toe raak alles om my donker en ek voel hoe die wit stuk son my stadig begin insuig. “Welkom terug. Ons was bekommerd.” Die stem was opgewek en die gesig was vriendelik. Ek het op ‘n wit bed met wit beddegoed gelê. Langs my het ‘n klompie mense gestaan. Hulle het vriendelik vir my geglimlag. Almal was ook in wit geklee. Ek het gewonder of ek dalk dood was en hulle gestorwenes wat my kom verwelkom het. Aan my linkerkant het ek ‘n venster opgemerk. Buite kon ek sien hoe ’n sterk wind ‘n wilgerboom se takke heen en weer wieg. ‘n Geel en rooi winkelsak het skielik in die takke vasgewaai en ek het van verligting gesug. In die hiernamaals is sekerlik nie winkels nie. Ek het weer na die vriendelikes langs die bed gekyk en besef dat ek hulle gesigte ken – ja inderdaad! Hulle was almal SêNetters … Maar wat maak hulle hier? Ons is tog nie vriende of selfs kennisse nie. Ek skryf wel so nou en dan, maar ek het hulle nog nooit leer ken nie … Iemand wat soos Dan Roodt lyk het skielik na vore getree. “Môre, D-Lonra. Hoe gaan dit?” Hy het laf gegiggel. Ek het geknik, nie eintlik geweet wat om vir hom te sê nie. ‘n Mollige jong vrou, wat ek tot my verbasing as Yvonne Malan herken het, het meteens vorentoe gekom en liefderyk haar arm om die man voor my gesit. Toe het sy koketterig vir hom geglimlag en met ‘n stroopstemmetjie gesê: “Dit lyk nie asof D-Lonra ons herken nie … Of wat sê jy, Dênnie-boy?” Hy het uitspattig gegrinnik en sy kop wild geknik. “Dan moet ek hom maar help, of hoe …?” Sy het vir my oog geknip. “Wel, ek is natuurlik Vonnie Verwoerd. En jy weet nou seker dis Dênnie … Dênnie Libraal.” Toe wys sy na die vrou met die lang, raafswart hare en uurglaslyf skuins agter haar. “En dis Jounie Hamooi.” Toe na die lang, lenige kêrel met die dik bos hare: “Koos Spens.” Toe weer die kort dik mannetjie met die pan: “Eerwaarde Sytin Bond, Wenk Frilliams, Kroes Nielse, Boschie Naitsé, Niekie van Erpie, Maja Klalora, Blommetjie Anryma, Plezzie du Zak, Klerkie du Bus, Krissie Saalk, Cabia Sonano, Bee Notnat, Goose Tonie, Wolries Anrans en Ptrius Sniet …” Een na die ander stel sy hulle voor. En ek knik, want ek herken hulle – hul gesigte, maar nie hul name nie. Ek het nog nooit van hul name gehoor nie. Ek het weer naar begin voel – êrens was daar beslis groot fout. Toe sien ek die woorde op die groot plasma-TV-skerm oorkant my: “Hulle is hier.” Dit het gevoel asof my hart teen my lugpyp vasslaan. Dit was dieselfde woorde wat op my skerm verskyn het. Wat gaan hier aan? Ek het angstig verder gelees: “Die twintig SêNetters van die Federasie van Parallelle Wêrelde (FPW) is terug van hulle besoek aan wêrelde A, B, C en D. Ongelukkig was daar ‘n besering op wêreld A, maar ons glo dat D-Lonra spoedig sal herstel en hom weer by ons leiersgroep sal kan aansluit om die belangrike werk van die Federasie voort te sit.” Die groep se gesigte het hierna een vir een op die skerm verskyn – ook myne … (Maar wie de hel is D-Lorna?!) Ek het na die groep langs my bed gedraai, maar hulle was skielik nie meer daar nie. Daar was nou geen spoor van hulle nie. * Iets vreemd het gisteraand gebeur – en dis steeds aan die gang. Ek weet nie wie ek is of van waar ek is nie. Dalk wêreld A? Is dit dalk Aarde? Of is dit wêreld E? Is dit dalk Edraa? (Nou hoe de hel het ek dit geweet?)
Wil iemand my nie help nie …?
Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |